Dié WhatsApp-boodskap nié van regter Maya

Regter Mandisa Maya (Foto: X)

Dit het onder die kantoor van die hoofregter se aandag gekom dat iemand hom of haar as die adjunkhoofregter, Mandisa Maya, voordoen.

DIé persoon se mikpunt is skynbaar om die kontaknommers van ander regters te bekom.

Die kantoor van die hoofregter sê die betrokke persoon het ʼn WhatsApp-boodskap aan ʼn amptenaar van die kantoor gestuur waarin hy of sy kontaknommers van regters versoek.

Die selfoonnommer waarvandaan die boodskap kom, is 072 324 9318 en dit is op die WhatsApp-toepassing geregistreer asof dit aan “Hoofregter MM Maya” behoort.

Lede van die publiek word nou teen dié oortreder en sy of haar boodskappe gewaarsku.

Die kantoor van die hoofregter wys ook daarop dat die nabootsing van ʼn regterlike beampte ʼn strafregtelike oortreding is.

ʼn Saak is reeds by die polisie aanhangig gemaak.

Maroela Media het onlangs berig Maya kan moontlik die nuwe hoofregter word.

Die pos raak einde Augustus vakant wanneer hoofregter Raymond Zondo se ampstermyn eindig.

Pres. Cyril Ramaphosa voer reeds samesprekings met die Regterlike Dienskommissie (RDK) en die betrokke leiers van partye in die Nasionale Vergadering om Maya vir dié pos te benoem.

Ramaphosa het reeds die leiers van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, genooi om voorleggings te doen oor Maya se geskiktheid om die amp van hoofregter te beklee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.