Die wiele van die bus … staan stil

Argieffoto: Pixabay

Duisende buspassasiers is gemaan om alternatiewe reëlings te tref vir ʼn landwye busstaking wat vandag afskop.

Die staking oor salarisse volg nadat onderhandelings tussen die werkgewer en die vervoervakbond, Satawu, op ʼn dooiepunt uitgeloop het. Na raming gaan 80% van die land se busdienste nie bedrywighede voortsit nie en busvervoer in alle provinsies word onbepaald geraak.

Satawu het Maandag ʼn stakingskennisgewing uitgereik. Die vakbond Numsa het Dinsdagaand sy ondersteuning aan die staking bevestig en al sy lede in die busbedryf versoek om aan die nasionale beskermde staking deel te neem.

Busbestuurders eis ʼn salarisverhoging van 12%, terwyl die werkgewer 7% aanbied.

Die Kaapstad-metro het pendelaars Dinsdag daarop gewys dat My CiTi-busdienste vanaf Woensdag in dié stad opgeskort word weens die staking.

Brett Herron, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het gesê dié diens is reeds om middernag opgeskort. Dit is nog onduidelik wanneer dit weer hervat sal word.

Die Gautrein het ook aangedui dat sy busdienste in Gauteng onbepaald opgeskort gaan wees. Die treindienste sal wel in werking wees. Johannesburg se Rea Vaya- en Pretoria se A re Yen-snelbusdiens word ook beïnvloed.

Munisipale busdienste van Johannesburg en Pretoria gaan na verwagting nie beïnvloed word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Pompies ·

Die voordeel hiervan is dat busongelukke heelwat gaan afneem gedurende die staking!

Jane ·

Kan iemand dalk vir ons laat weet hoeveel keer het die BUSSE en ook die GAUTREIN busse gestaak in die afgelope 4 jaar? Help nie jy spog met ‘n Gautrein stelsel en die busse hardloop nooit nie!! SIMPEL BELAGLIKE SA .. ek werk hard daaraan om hierdie hellhole te verlaat, NIKS gaan beter word nie, al lieg en bedrieg julle ander lande, al lieg julle vir julleself, al versoen en omarm julle diegene wat dit nie verdien nie . DIT GAAN NIE VERANDER NIE, inteendeel alles gaan erger word.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis nogal opvallend hoe die verkeer “vloei” tussen Maraisburg Afrit en Rivonia Afrit op die N1 Westelike Verbypad vanoggend….sonder die oranje busse wat soos maniakke tussen voertuie deur vleg.

Tilla ·

Hoe lank gaan dit vir die City of Tshwane se busdiens vat om in te val by die stakers. Elke keer dan moet hulle moet skielik hulle kollegas in die ander sektor ondersteun. Vanoggend was daar busse maar hoeveel van hulle gaan daar vanmiddag en more en oormore wees.

JSG ·

Wil alle vragmotor bestuurder ook nie asb vir ‘n tyd van die paaie afbly? Botsings sal beslis verder afneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.