Dié wilde diere rede vir meeste hospitaalbesoeke

(Foto: Verskaf)

Traumadokters sien iets van alles in die noodgevalle-afdelings van hospitale, waaronder beserings wat deur wilde diere veroorsaak is. Maar dit is olifante, slange en elande wat die afgelope vier jaar tot die meeste besoeke aan Netcare-hospitale gelei het.

Dit is een van die bevindings van die onlangse hersiening van Medibank-data vir die jare 2015 tot 2018 oor die pasiënte wat by die 45 noodgevalle-afdelings van Netcare-hospitale oor die hele land behandel is nadat hulle deur wilde diere aangeval is.

Mande Toubkin, Netcare se algemene bestuurder: noodgevalle, trauma, oorplantings en CSI, sê hoewel mense meestal weet om slange en olifante in die wildernis te vermy, is die talle beserings wat deur elande veroorsaak is waarskynlik ʼn verrassing.

“Gedurende die tydperk wat hersien is, is tien mense by Netcare-ongevalle behandel ná olifantaanvalle, van wie baie ʼn hoë beseringstelling gehad het. Dié telling word gebruik om die omvang van die trauma te bepaal, en ongelukkig was van hierdie gevalle noodlottig.”

Sy het bygevoeg die hoë voorkoms van aanvalle deur olifante, wat dikwels hul slagoffers doodtrap, is kommerwekkend. “Die Wêreldnatuurfonds het bevind olifantbevolkings raak toenemend onder druk weens mense wat in hul woongebiede inbeweeg en die hoë voorkoms van olifantstroping in sekere gebiede,” sê sy.

“Aanvalle deur krokodille, kameelperde en hiënas was die rede vir twee noodgevalle elk in hierdie tydperk. Dit mag dalk vir sommige verrassend wees dat kameelperde gevaarlik kan wees, maar verlede jaar is ʼn man dood nadat hy deur een van hierdie groot en sterk diere in die maag geskop is. Daar was ook verskeie ander gevalle in 2018 van kameelperd-aanvalle wat nie deur ons Netcare-ongevalle hanteer is nie.”

Witdoodhaai (Foto: ANA)

Toubkin sê ander gevalle wat Netcare-personeel gesien het, is aanvalle deur leeus, seekoeie, buffels, wildebeeste en een haaiaanval. “Daar was ook ʼn geval van ʼn ingevoerde tier wat ʼn kind in 2016 aangeval het en die kind moes ses dae in die hospitaal deurbring,” sê Toubkin.

Sy beklemtoon dat die Medibank-data nie ander private hospitale of staatshospitale insluit nie en daarom nie ʼn omvattende prentjie skets van beserings en sterftes wat deur wilde diere veroorsaak word nie.

“Die studie toon wel dat ons bewus moet wees dat alle soorte wilde diere, klein en groot, onvoorspelbaar kan wees en in sekere situasies aggressief kan optree en daarom gevaar inhou. Daarom is dit raadsaam om eerder jou afstand te hou, wilde diere se ruimte te respekteer en dit sover moontlik te vermy om aan hulle te vat. Dit is veral belangrik om weg te bly van wilde diere wat kleintjies by hulle het,” sê sy.

Volg hierdie wenke wanneer jy met wilde diere te doen kry:

  • Hou jou afstand en vermy dit om met hul bedrywighede in te meng of hulle aan te raak.
  • Wees altyd bewus van jou omgewing en enige moontlike gevare in die natuur. Wanneer jy in ʼn wildreservaat of -park ry, moenie uit jou voertuig klim nie en hou ʼn veilige afstand van die diere. Maak seker jou voertuig se vensters is toe wanneer wilde diere naby is.
  • Wanneer jy riviere, mere of riviermondings besoek waar krokodille en seekoeie teenwoordig is, hou ʼn veilige afstand van die oewers af. Hou in gedagte dat seekoeie op land beweeg om te eet – vermy dit om tussen die seekoeie en die water te beland en bly veral weg van seekoeie wat kalfies by hulle het.
  • Dra beskermende klere soos slangbeskermingskamaste wanneer jy in gebiede loop waar giftige slange teenwoordig is.
  • Siektes soos hondsdolheid kan diere abnormaal laat optree en in sommige gevalle hul vrees vir mense laat verloor. Vermy diere wat vreemde gedrag toon of oormatig vriendelik en mak voorkom.
  • Onthou dat selfs die welpies van leeus, luiperds en tiere sterk is en mense, veral kinders, kan beseer.
  • Hou die kontakbesonderhede van nooddienste byderhand ingeval jy dit nodig kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frank ·

Die goed raak so mak soos beeste, verstaan nie hul eie krag nie. Laat sak sommer maklik die kop….
Het ook ‘n daggaboy wat semi-hans grootgemaak is. Maar hy het maar ‘n leilike manier om na jou te kyk, kom liefs nie naby hom nie.

Don Fischer ·

Gedurende die paar seisoen en by voer areas kan veral die bul moeilik raak

Natuurlik ·

Wilde diere….bly altyd wild.
Moeni dit minag nie.
Gee hul ruimte en respekteer wilde diere

Cherokee ·

My oudste dogter is deur ‘n jakkals aan haar bolip gehap. Dit was net ‘n geniepsige hap omdat sy een van sy speelgoed gevat het terwyl sy met hom gespeel het. Silwerjakkals in ons huis groot geword, inspuiting teen hondsdolheid gehad en maats gewees met die honde en katte. Die wond moes geheg word.

Frank ·

Miskien kan MM ‘n artikel doen oor watter hospitale in elke provinsie toegerus/bekwaam is om slangbyte te hanteer? Entstof is baie duur met ‘n kort rakleeftyd. Ek verstaan dat ons in Limpopo slegs Pietersburg toe kan gaan!
GROOT ASSEBLIEF?

Susan ·

Probleem is die mens nie die dier nie. Ons during hul habitat binne. Wat anders kan verwag word?!

Wilder as wilde diere ·

Wilde diere sal net aanval indien hulle bedreig word. En ongelukkig is die mens hulle grootste bedreiging. Party wat hulle self mens noem is in elk geval meer skadelik as alle diere.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.