‘Die wind is uit my seile geruk,’ sê jongman na kankerdiagnose

Blaine Coetzee (Foto: Verskaf)

“Ek kon nie praat nie. Ek kon nie dink nie. Daar was net ʼn absolute gevoel van leegheid wat oor my gespoel het.”

Blaine Coetzee is op 2 Oktober, op sy 20ste verjaarsdag, met fase 4 nie-Hodgkin-limfoom (NHL) gediagnoseer.

Om op enige ouderdom met kanker gediagnoseer te word, is ʼn groot skok, maar die wind is behoorlik uit Coetzee se seile geruk aangesien hy pas sy studentejare afgeskop het en glad nie so ʼn diagnose verwag het nie.

“Ek het op 7 Oktober my amptelike resultate van my biopsie ontvang en gehoor ek het NHL. Toe die dokter die nuus aan my oordra, het ek net in die stoel gesit en uitgezone. Dit was eers toe my pa aan my arm skud dat die realiteit my weer getref het. Ek het gevoel asof ek van die werklikheid wou weghardloop.”

Coetzee is ʼn ingenieurstudent aan die Universiteit Stellenbosch. Hy moes mediese verlof by die universiteit indien omdat hy die grootste gedeelte van die tyd in die hospitaal gaan deurbring vanweë die aard van sy behandeling.

Alhoewel sy studies vir die res van hierdie jaar ontwrig is, beoog hy om sy studies in Maart voort te sit.

Hy wil graag nadat hy sy graad verwerf het, sy nagraadse studie oorsee gaan voltooi.

“Ek beoog om my lewe dan daarna voluit te leef en oor die wêreld rond te reis.”

Die ambisieuse jong man wil eintlik graag ʼn akteur word en sy groot droom is om ʼn aanbieder op die televisieprogram Top Gear te word.

“Ek is al vandat ek ses jaar oud is by teater betrokke en het selfs al talle kere my verskyning op die verhoog gemaak. Ek is gaande oor die vermaaklikheidsbedryf en om mense te laat glimlag en lag.”

Coetzee is ook ʼn kranige sportman en het op hoërskool in ʼn stadium byna elke sportsoort wat beskikbaar was, beoefen. Hy het na skool aan nasionale kragoptel-kompetisies deelgeneem.

Volgens sy vriende, het Blaine Coetzee altyd ‘n glimlag op sy gesig (Foto: Verskaf)

“Ek moes helaas teater- of my kragoptelaktiwiteite opgee sedert ek met die ingenieurswese begin het. As alles nou oorwaai, gaan ek weer meer aandag daaraan gee.”

So tussendeur Coetzee se toekomsdrome, het sy kankerdiagnose hom soos ʼn vuishou in die maag getref. Hy het nie verwag dat hy in die fleur van sy lewe sal “siek wees” nie.

“Ek was nog altyd ’n redelik optimistiese mens met ’n wye uitkyk oor die lewe. Hierdie siekte het my laat besef hoe vinnig die lewe kan verander en dat ons jongmense nie onoorwinlik is nie.”

So aaklig as wat kanker is, net so kragtig is die mens se denke, sê Coetzee oor wat hy die afgelope maand wyser geraak het.

“Mens onderskat die krag van positiewe denke.”

Coetzee moet nou omvattende toetse ondergaan voor sy aggressiewe chemoterapiebehandeling begin om die omvang van die verspreiding van sy kanker te bepaal. Sy toetse en behandeling word nie alles deur sy ouers se mediese fonds gedek nie.

ʼn Fondsinsamelingsinisiatief is deur Coetzee se vriendin, Samantha Taylor, namens sy vriende en familie, van stapel gestuur om die finansiële las op sy ouers te help verlig.

“Om op die ouderdom van 20 met kanker gediagnoseer te word, is klaar erg genoeg. Nou moet hy en sy familie nog stres oor finansies ook. Ons wil graag as gemeenskap hande vat en hom help,” sê Taylor.

Sy beskryf Coetzee as ’n positiewe mens wat baie aktief by die gemeenskap betrokke is.

“Hy is betrokke by talle gemeenskapsaktiwiteite. Hy is deel van ons teater, hy was ’n WP-bofbalspeler en ook ʼn SA kragopteller. Hy geniet sy lewe voluit. Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig en ’n goeie woord om oor ander te sê. Sy positiwiteit skyn deur, selfs in hierdie moeilike tye.”

Meer as R126 000 van die R150 000 wat vir Coetzee se behandeling benodig word, is al ingesamel.

Coetzee sê hy is oorstelp oor die fondsinsameling en mense se vrygewigheid. Hy besef dit is ’n moeilike pad wat voorlê.

“Maar ek het positiwiteit aan my wat my hierdeur gaan dra. Ek weier dat hierdie siekte my gaan onderkry. Ek gaan my bes doen om die beste daarvan te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Africangrey ·

Baie, baie jammer om te hoor, ek wens jou alle sterkte wat nodig is vir die behandeling wat voorle, en bid dat God sy beskermende hande oor jou sal wees. Hy kan, en wil en sal in mood, uitkoms gee, ons bid vir jou Blaine.

Miskruier ·

Kom weg uit die harwar, gaan leef iewers in skoon lug, eet net wat God gemaak het, mediteer en bid. Ek sal ook.

Persheks Adri ·

Jy’s in ons gebede my kind! Siekte vra nie vir ouderdom nie ek moes dit ook vroeg in my lewe ervaar het… Mag God jou dra en bly positief!!!

Elsabe ·

Baie sterkte aan jou en jou familie en vriende. Dit gaan ‘n uiters moeilike maar leersame tyd wees. Staan sterk, hou Jesus se hand vas, indien moontlik, bly kalm.

Cornelius ·

Sterkte voorentoe en mag jy heeltemal herstel en jou drome uitleef.

johanf ·

Sterkte, vasbyt en Glo in Hom….
Ons bid vir jou jong man.

Gert Johannes ·

Baie dankie aan almal wat kommentaar gelewer het, ons genesing en redding is net in GOD gesetel en nêrens anders nie. Net jammer dat dié een wat die berig geskryf het dit nie so insien en skryf nie. Ons bid vir jou en jou familie, Blaine.

Lizelle ·

Ek verstaan nie die af duimpies wat mense hier gee nie. Mis ek iets? Kan iemand asseblief vir my verduidelik?

Misky ·

Ek stem 100% saam Lizelle. Vir watse rede sal enigiemand die af duime gee??? Wat is fout met jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.