Die woord van die jaar is…

Argieffoto: Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (5de Uitgawe)

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) het Dinsdag, as deel van Internasionale Woordeboekdag, die Suid-Afrikaanse woord van die jaar aangekondig.

Pansat het, in samewerking met die medianavorsingsmaatskappye Focal Points en Newsclip aangekondig dat “grondonteiening sonder vergoeding” die woord van die jaar vir 2018 is.

Die Suid-Afrikaanse woord van die jaar is ʼn term of uitdrukking wat die afgelope jaar gewild was.

Die kandidate vir die woord van die jaar is deur Pansat hersien en op grond van meriete bespreek voordat een gekies is wat die filosofie, omstandighede of neigings van die betrokke jaar vasgevang het.

Die maatskappye Focal Points en Newsclip het sleutelwoorde ondersoek vir die tydperk 1 Januarie tot 15 Oktober 2018. Data is ontleed om die gereeldheid van die sleutelwoorde in die media te bepaal.

Daar is bevind dat “grondonteiening sonder vergoeding” meer as 25 000 keer in die Suid-Afrikaanse media gebruik is en sodoende ander gewilde woorde soos “ kommissie [van ondersoek]” en “Thuma Mina [die ANC se stuur my!-veldtog]” uitgestof het.

Die gebruik van “grondonteiening sonder vergoeding” het in 2018 skerp toegeneem nadat die parlement in Februarie ʼn mosie aanvaar het om maniere te ondersoek om die Grondwet te wysig sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

Die mosie is aanvanklik deur die EFF ter tafel gelê, maar deur die ANC gewysig voor dit met 241 stemme teenoor 83 aanvaar is.

Die publiek is hierna gevra om insette te lewer oor die voorgestelde wysiging van die Grondwet om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding en openbare verhore is gehou. Die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee oor onteiening sonder vergoeding sal na verwagting sy werk teen einde November afhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek is seker die woord plaasmoorde het baie meer voorgekom.

Alias ·

Ongelukkig…. die term ‘plaasmoord’ gebruik die meerderheid van Suid-Afrikaanse woord nie. Ons is maar 10% van die bevolking en hulle voel vere vir ons.

Nettie ·

@Woorde ….. jy het seker die gedeelte wat lees “Die Suid-Afrikaanse woord van die jaar is ‘n TERM of woord wat die afgelope jaar gewild was” gemis ………

Andrew ·

Teen die tempo wat engelse woorde in Afrikaanse woordeboeke opgeneem word, kon dit ook ‘n engelse rympie gewees het wat wen.

liefie ·

Dit is siek om die minste te sê. Ek dog “iets”van die jaar sal verband hou met iets plesierig en positief. Hierdie is nou weer net moeilikheid.

Realis ·

Hoekom is dit “weer net moeilikheid”? Dit is juis die woorde wat die meeste uit die volksmond gehoor word die laaste jaar. Dis hoekom dit die woord / frase van die jaar is. Daar is nie meer veel “plesierig en positief” oor nie. Dit word oorskadu deur die negatiewe.

Anita ·

En die sinoniem vir “grondonteiening sonder vergoeding” natuurlik is dit DIEFSTAL!

Anoniem ·

Liefie, gebeur daar ooit iets POSITIEFS in Suid-Afrika vandat die ANC aan bewind is.

Wonder net ·

Dit is drie woorde en moet derhalwe die frase van die jaar genoem word. Hierdie keuse sal heel moontlik die idee dat “onteiening sonder vergoeding” reg en aanvaarbaar is, versterk. Daar is tog sekerlik meer “opheffende” woorde wat as die “woord” van die jaar gekies kan word.

Johan ·

Pansat het hul al in die verlede bewys as ‘n organisasie wat nie opkom vir die regte van Afrikaans nie. Om dus die genoemde term van die jaar as wenner aan te wys, is maar net weer ‘n bewys dat Pansat inval by die pro-ANC narratief om enige iets te steun wat die ANC pas.
Die genoemde term is die laaste paar maande baie gebruik ja, maar die woord plaasmoorde word al vir jare gereeld gebruik. Glad nie oortuig en beindruk met Pansat se woord nie. Duidelik lei Pansat aan die Dunning-Kruger effek.

Casper Labuschagne ·

Ek vermoed hulle het die woord van die jaar verwar met ramp van die eeu.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.