Dief gevonnis, maar 250 jaar oue viool word steeds vermis

Argieffoto (Foto: Ri Butov/Pixabay)

ʼn Man is Donderdag tot twee en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis in verband met die diefstal in Maart verlede jaar van ʼn 250 jaar oue viool uit ʼn musiekakademie in Berlyn.

Die onvervangbare instrument word nog steeds vermis.

Die viool, vervaardig deur Nicolo Gaglianio in 1769, was meer as €275 000 (byna R5,5 miljoen) werd.

Die 41-jarige dief het die instrument vir €200 (sowat R4 000) verkoop om sy dwelmgewoonte te ondersteun.

Die viool behoort aan Duitsland en is aan ʼn student geleen tydens ʼn beursprogram.

Die dief en sy medepligtige was op soek na kontant in die Berlyn-konservatorium in die middestad nadat hulle ʼn fiets probeer steel het. Die hof het die Duitser skuldig bevind op aanklag van diefstal en hom beveel om €275 000 in vergoeding te betaal.

Die man het reeds ʼn paar vorige skuldigbevindings en het aan die begin van die hofsaak skuld erken. “Ek het geld nodig gehad vir kokaïne,” het hy gesê. “As ek geld in die hande kon kry, sou ek die viool gelos het.”

Hy het die instrument kort ná die diefstal verkoop aan ʼn onbekende man en die helfte van die geld vir sy medepligtige gegee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Suid Afrika het vir ‘n keer beter gedoen as Duitsland. Vir diefstal van ‘n viool werd €275 000, word hy 2½ jaar gevonnis en die viool is nie eens terug gekry nie. Hy is wel gesê om die waarde terug te betaal, maar dit klink nie of hy dit het om terug te betaal nie.
In Suid Afrika is ‘n sjangaan gevonnis tot 10 jaar vir diefstal van koperkabel werd R100 000 en wat terug gekry is. Diè keer is Suid Afrika voor, al is dit by die uitsondering.

Michael 1 ·

Maar onthou nou hy word gevonnis tot 10 jaar maar na 6 maande kry hy parool of amnestie of ramaposa gee kwytskelding omrede iemand waterpokkies of keelseer in die tronk het.

Pieter J ·

Ek dink hierdie ou moet toegesluit word totdat die viool eendag tevoorskyn kom.

Amatambo ·

Dis skokkend hoeveel misdaad terwille van mense wat aan dwelms verslaaf is, gepleeg word. Dit is ongelukkig ‘n feit dat jonger mense nie besef dat om dwelms “net eenkeer” te probeer tot verslawing kan lei nie. Ek erken dat ek die slegte rookgewoonte op jong ouderdom aangeleer het, maar na 49 jaar het ek op ‘n dag besluit: “Tot sover -en nie verder nie” en het ek my laaste sigaret aangesteek, tot op die kleinste stompie gerook, en nooit weer teruggekyk nie… my oorlede man het self straf gerook (en is tien jaar terug) aan longkanker oorlede, maar dit het my nie gepla om in dieselfde vertrek as hy te wees nie – selfs vandag nog as ek in die teenwoordigheid van enige roker is, pla dit my nie. Ek verwyt myself ook dat ek deur die jare soveel geld op sigarette uitgemors het – ek sou vandag wat wou gee om daardie geld inmy bankrekening te kon kry, daar ek nou ‘n pensioenaris is en die inkomste is maar aan die skraal kant, maar soos oorlé Ma altoos gesê het: Gedane sake het geen keer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.