Dief vas wat glo al 3 maande lank by een huis steel

Konst. Motlati Letsoa by goedere wat uit verskillende huise in Welkom gesteel is (Foto verskaf deur die SAPD Vrystaat)

ʼn 25-jarige man is in hegtenis geneem wat glo deel is van ʼn groep wat al sedert Desember 2018 eiendom wegdra van ʼn huis waar ʼn vrou, wat psigies onstabiel is, woon.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die vrou woon alleen in ʼn huis in Flamingo Park in Welkom in die Vrystaat waar onbekende mense sedert Desember 2018 deur die dak toegang tot die huis bekom het. “Hulle het klein goedere soos elektriese toestelle (televisie, ketel, ligte, strykyster) en blomplotte begin steel totdat ʼn familielid die vrou besoek het en gevind het meubels en selfs waterkrane is intussen uit die huis gesteel. ʼn Saak van huisbraak is aanhangig gemaak by die polisie.”

Nog ʼn familielid het Donderdag ʼn onbekende man in die huis in Oktaafstraat aangetref wat vermoedelik daar was om nog items te steel. “Lede van die gemeenskap het ingegryp en hom aangekeer. Hulle het die polisie ontbied. Die 25-jarige man het alle inligting aan die polisie beken,” het Thakeng verduidelik.

Die inligting het polisiebeamptes tot verskeie voorstede soos Thabong, Dagbreek en Rheederpark gelei waar die verdagte gesteelde items saam met sy vriende verkoop het. “Beamptes het beslag gelê op die gesteelde eiendom, onder andere sitkamerbanke, vier kombuisstoele, ʼn televisiestel en ʼn koffietafel.”

Nog twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 30 jaar oud, is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van gesteelde goedere.

“Die drie persone sal na verwagting Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn.”

Thakeng ontmoedig die gemeenskap om gesteelde goedere te koop, omdat dit ʼn oortreding is wat tot inhegtenisneming kan lei. “Stel eerder die polisie in kennis as jy vermoed dat persone gesteelde goedere probeer verkoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

Haai iemand is vasgetrek ? sal seker na 3 dae kan ontsnap uit aanhouding ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.