Diefstal blaas dalk nuwe lewe in World of Birds

Weldoeners het een van die Kaap se oudste toeristeaantreklikhede binne ʼn oogwink gehelp om elke sent van die geld terug te kry wat Sondag daar gesteel is.

Walter Mangold (81), die eienaar van die ikoniese World of Birds in Houtbaai, is Sondag in sy kantoor oorval, aangehou en van meer as R70 000 beroof. Dit was nadat hy omstreeks 16:00 geld van die kafee na sy kantoor daar naby geneem het.

“Ek het die geld in die kluis gesit,” sê Mangold, “en by my lessenaar gaan sit toe twee mans die kantoor binnekom. Een het my in ʼn wurggreep beetgekry en van die stoel afgestamp, op my geklim en my gesig platgedruk.”

Ek het hulle mooi gevra om my nie seer te maak nie.

Mangold vertel die mans het die telefoonkabels geknip en sy hande en voete styf daarmee vasgebind. “Dit was ontsettend seer. Hulle wou my mond met ʼn kombers toedruk. Ek het hulle mooi gevra om my nie seer te maak nie.”

Nadat hy om hulp geroep het, het toeriste die bejaarde eienaar gekry waar hy met sy gesig op die grond gelê het.

World of Birds is reeds langer as 40 jaar in bedryf en bied sorg aan meer as 2 000 voëls en klein soogdiere wat permanent beseer is en nie in die natuur losgelaat kan word nie. Maar sedert Junie vanjaar sukkel Mangold om kop bo water te hou.

Die naweek se inkomste van oor die R70 000 wou hy net so oorbetaal aan die bank wat hy R850 000 skuld.

Mangold het besluit om die terugslag van die diefstal in iets goeds te omskep en te kyk of hy kan keer dat World of Birds ná vier dekades sal moet sluit. Hy het ʼn rekening oopgemaak waarmee hy deur skarefinansiering reeds amper R80 000 op die platform BackaBuddy kon insamel.

Altesaam 139 skenkers het reeds bygedra en Mangold hoop vele meer sal sy geliefde dierehawe uit die verknorsing help red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Ek het ‘n idee dit gaan nie help nie, ligging en realiteit het ingeskop, die gebied het sy aantreklikheid tyd gelede al verloor.

Paul ·

Ek wonder hoe gewild is Suikerbossie restaurant nog daar op die kop na Llundudno se kant, dis mos waar ‘n voormalige bekende krieketkaptein van ons getrou het. En Snoekies in die hawe, waar ons altyd snoek, geelstert, kabeljou, krewe en perlemoen gekoop het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.