Diefstal lei glo tot pyplynontploffing in Alberton

Foto: @City_Ekurhuleni/Twitter

Diefstal was glo vir Dinsdagoggend se ontploffing op ʼn petroleumpypleiding in Alberton verantwoordelik.

Die ontploffing het tot gevolg gehad dat inwoners binne ʼn sekere radius hul huise moes ontruim.

Die pypleiding behoort aan Transnet. Sibongiseni Khathi, uitvoerende hoof van Transnet, het gesê poging tot diefstal by ʼn blokklep op die pypleiding tussen Alrode en die lughawe het tot ʼn petroleumlekkasie en die gevolglike brand gelei.

“Nooddienswerkers is onmiddellik ontbied en die brand is onder beheer gebring.” Volgens Khathi is hierna daarop gefokus om die petroleumlekkasie onder bedwang te bring ten einde die risiko vir die omliggende gemeenskappe en omgewing te beperk.

Foto: @City_Ekurhuleni/Twitter

Inwoners word steeds versoek om die gebied te vermy. Dié pypleiding is deel van die Durban-na-Johannesburg-pypleiding wat tans buite werking gestel word, aangesien dit reeds met ʼn nuwe pypleiding vervang is.

Volgens Khathi hou die voorval nie gevolge vir die petrolmark in Gauteng in nie.

Khathi het gesê daar was die afgelope paar maande verskeie ongehoorde voorvalle van diefstal op Transnet se pypleidings en verwante infrastruktuur. Dit het volgens Khathi tot buitensporige herstelkoste gelei.

Foto: @City_Ekurhuleni/Twitter

’n Bykomende risiko van dié voorvalle van onwettige aktiwiteite is dat dit weens die aard van petroleumprodukte tot ernstige beserings of selfs sterfgevalle kan lei in gemeenskappe wat naby die pypleidings woon.

Transnet het verskeie aksieplanne in werking gestel om die voorvalle te bekamp. Volgens Khathi het dit al tot talle inhegtenisnemings en beslagleggings gelei.

“Ongelukkig gaan die kriminele aktiwiteite voort en verhoog dit die risiko vir gemeenskappe wat naby pypleidings woon en het dit die potensiaal om die petroleumaanbod vir die binnelandse mark te beïnvloed.”

Transnet het mense gevra om enige verdagte aktiwiteite in die omgewing van ʼn pypleiding aan te meld deur hul tolvrye nommer by 0800 203 843 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.