Diefstal van standbeelde ‘tragies’

Die borsbeeld van oudpres. Paul Kruger is in 1981 ingehuldig (Foto: Verskaf)

Vier standbeelde ter waarde van meer as R50 000 is verlede week by ʼn oord op oudpres. Paul Kruger se historiese plaas by Rustenburg, Noordwes, gesteel.

Die standbeelde het Vrydag in die vroeë oggendure by die Kedar Heritage Lodge op die plaas Boekenhoutfontein voete gekry.

Volgens Sarah Forsyth, oordbestuurder, is dit onduidelik hoe die boewe toegang tot die standbeelde gekry het omdat dit in ʼn vertrek met ʼn alarmstelsel en diefwering gestoor was.

Volgens Forsyth het slegs ʼn beperkte getal mense toegang tot die vertrek gehad en was die standbeelde nie as deel van ʼn uitstalling aan lede van die publiek toeganklik nie.

Die standbeelde sluit in ʼn borsbeeld van Kruger, ʼn beeld van ʼn bronssoldaat wat bekend staan as The man in bronze en twee metaalbeelde van leeus.

Die borsbeeld van Kruger is in 1981 deur die oudpolitikus Willem Adriaan Cruywagen ingehuldig.

The man in bronze-beeld wat ook van die plaas verdwyn het (Foto: Verskaf)

“Ons het al by verskeie skrootwerwe in die omgewing gaan soek, maar kon helaas nie die standbeelde opspoor nie,” sê Forsyth.

ʼn Saak van diefstal by ʼn sakeperseel is by die polisie aanhangig gemaak, het kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, bevestig.

Volgens FC Pelser, woordvoerder van die FAK, is die standbeelde van historiese waarde en is die diefstal daarvan ʼn tragedie.

Die FAK het Vrydag van die diefstal te hore gekom en help nou deur middel van sy netwerke om die standbeelde te probeer opspoor.

“Ons gebruik ons platforms om mense van die diefstal bewus te maak en só hopelik die beelde terug te kry,” sê Pelser.

Volgens Pelser is die kans groot dat die standbeelde op ʼn skrootwerf kan beland.

“Die standbeelde word nie sommer by kunsveilings verkoop nie omdat dit agterdog kan wek,” sê Pelser.

Maroela Media het vroeër berig die FAK wil vanjaar verhoed dat nóg erfenisskatte tot niet gaan nadat duisende beelde, gedenkplate, monumente en gedenkwaardighede oor die hele land heen die afgelope paar jaar deur vandale geplunder of verwoes is.

Die meeste gevalle was waar erfenisstukke onder vandale deurgeloop het, met enkele gevalle van diefstal.

Die FAK beplan om hierdie jaar sy netwerke selfs verder uit te brei en gemeenskappe landwyd te help om die erfenisskatte in hul dorpe te bewaar.

“Ons kan nie toelaat dat ons erfenis verder vernietig word nie, anders gaan daar niks vir ons nageslag oorbly nie.”

Pelser sê mense wat in besit van historiese erfenisstukke is, moet die werke met ekstra omsigtigheid bewaar.

“Indien jy nie oor die hulpbronne beskik om dit te bewaar nie, skenk dit vir ʼn museum of instansie wat dit veilig sal hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Katinka ·

Dit kan net ‘n inside job wees!

Ek weet nie so mooi of die museum selfs jou historiese erfenisstukke sal kan bewaar nie.

Harley Davidson ·

Hulle smelt dit en verkoop dit dan in stukke ,wie sal nou ‘n borsbeeld by ‘n skelm koop.

piet ·

So ‘n bronsbeeld kan ‘n ou ‘n paar Rand in die sak bring.

Piet parys ·

Maw die alarmstelsel was nie geaktiveer nie . Al verklaring wat daar kan wees . Julle werksmense weet hoe dit werk.

Christine ·

Dit kan slegs die sekuriteit wees wat kameras afsit en deure oopsluit. Daai paar wat weet hoe om dit te doen, moet deur ‘n leuenverklikkertoets gaan. Ons het by my werk gereeld ons aekuriteitwerkers seur leuenverklikkertoetse gesit. Klomp misdadigers!

Di ·

Die skelms in die land kan ook net mooi NIKS uitlos nie. Waaragtig al keelvol vir al hierdie kriminele

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek wag vir die dag dat die Uniegebou in Pretoria afgebrand word of dat ‘n standbeeld van Nelson Mandela gestroop word vir skrootmetaal. Niks wat in SA gebeur kan my meer skok nie. Daar is erge gebrekkige opvoeding in menigde Suid-Afrikaanse ouerhuise. Red só ‘n nasie!

Miskruier ·

So die publiek weet nie van die beelde nie maar wel die personneel.

Shakespeare ·

Ramaphosa. Ongelooflik hoe jy en jou kader stemvee ons mooi land op ALLE gebiede verwoes. Julle dag gaan kom en dit gaan skrikwekkend wees. Geluk aan die EFF wat net so briljant, hul bose dade verrig. Verskriklik is dit om in die hande te val van ons lewende GOD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.