Diefstalklag teen Prasa oor pensioenaftrekkings

(Argieffoto)

Die vervoervakbond Untu het klagte van bedrog, diefstal en oortredings van die Wet op Transnetpensioene aanhangig gemaak nadat pensioenfondsbydraes van miljoene rande glo onwettig weerhou is.

Die klagte is Saterdag by die Sinoville-polisiestasie teen die administrateur van die Passasierspooragentskap (Prasa), Bogisizwe Mpondo, ingedien.

Die klagte volg nadat Prasa skriftelik aan Untu erken het dat die staatsbeheerde instelling pensioenfondsbydraes van R23 miljoen – wat hy in Februarie en Maart by duisende Metrorail-werkers afgetrek het – onregmatig weerhou het.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê die wet is duidelik dat Prasa as werkgewer bydraes wat aan die fonds gemaak word binne sewe dae ná die einde van ʼn kalendermaand moet oorbetaal.

“Untu het bevestiging van die fondse en Prasa gekry dat die bydraes nie oorbetaal is nie. Prasa se verskoning is dat hy kontantvloeiprobleme ondervind. Dit is geen verskoning om die swaarverdiende geld van sy werkers sonder hul medewete te gebruik nie. Dit is ʼn strafregtelike oortreding,” het Harris gesê.

Hy het gesê Prasa het aan die Sondagkoerant City Press gesê hy het kontantvloeiprobleme, maar is nie bankrot nie.

Prasa se optrede het aan die lig gekom nadat ʼn makelaar aan die vakbond gesê het dat daar ʼn tekort in die pensioenfondsbydrae was van ʼn Metrorail-werker wat onlangs afgetree het.

(Argieffoto: Untu)

Untu sê markte het die afgelope ruk met sowat 30% verswak – tot nadeel van pensioenarisse wat staatmaak op die rente wat hulle van beleggings verdien. Die Metrorail-werkers dra egter steeds tot die pensioenfondse by, wat beteken die administrateurs daarvan kan namens hulle nog aandele teen ʼn laer prys koop. Wanneer die markte weer kop optel, gaan dit in hul guns tel, verduidelik Harris.

Hy sê nie net weerhou Prasa die R23 miljoen nie, hy trek ook voordeel uit die rente wat op die geld verdien word.

Volgens die vakbond is die Wet op Pensioenfondse in 2014 gewysig en ʼn versuim om werkers se bydraes oor te betaal kan lei tot ʼn boete van R10 miljoen of tronkstraf van tot 10 jaar vir diegene wat verantwoordelik is.

Untu, wat 49% van werkers by Prasa verteenwoordig, sê Mpondo en sy waarnemende bestuurders het die vakbond se herhaalde oproepe dat strafregtelike klagte ingedien gaan word as die geld nie oorbetaal word nie, geïgnoreer.

Die vakbond het ook by die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, sy eweknie by vervoer, Fikile Mbalula, die pensioenfondsberegter Muvhango Lukhaimane, en adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, klagte ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

23r miljoen teruggehou, wat sal 10r miljoen boete nou saak maak, hulle het nos nou die geld, tronkstraf vir individueles sal ook van pas wees, laat daar ‘n les geleer word

Deon ·

Weereens n nuttelose boete want die persoon wat verkul word betaal die boete. As daar wel n boete gaan wees

Leonard ·

Sterkte, dáár gaan nog BAIE soortgelyke korrupsie gepleeg word :-(

Fedup ·

I really do feel bad for those people who lost their pension funds. Unfortunately, that money will never ever be paid back. It’s been used for bribes, cars, houses and clothes for the anc’s unfortunates.

Willem ·

Hierdie bedrog is oral waar die ANC betrokke te vinde. Die groot gemors kom nog met Cyril se hulp pakkies.

Die Wolf ·

Oneerlikheid is deesdae bo aan die lys van nasionale sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.