Dienslewering in duie, maar munisipaliteit weier vergaderings

Dimakatso Malwane, die uitvoerende burgemeester van die Tswaing- plaaslike munisipaliteit (Foto: tswaing.gov.za)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het verlede week Dimakatso Malwane, die uitvoerende burgemeester van die Tswaing- plaaslike munisipaliteit (Delareyville, Sannieshof) in Noordwes, en munisipale speaker, Phemelo Lebelo, skriftelik genader oor die versuim om raadsvergaderings te belê vir die afgelope drie maande.

“Hierdie versuim is in stryd met die wetgewende raamwerk vir plaaslike regering,” het Kagiso Mangwejane, die DA se koukusleier in die munisipaliteit, gesê. “Die Wet op die Munisipale Struktuur vereis dat die raad minstens een keer per kwartaal vergader en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) bepaal dat vergaderings om die halfjaarbegroting en prestasie- en jaarverslae te beoordeel, teen 20 Januarie elke jaar moet plaasvind.”

Volgens Mangwejane is die burgemeester en speaker in minagting van die wet wat die uitvoerende gesag en die raad se rolle en verantwoordelikhede beheer. “Hulle versuim om die minimum te doen is ‘n klap in die gesig van inwoners wat daagliks gebuk gaan onder die gebrek aan basiese dienslewering.”

Die raad was veronderstel om in Januarie, Februarie en Maart te sit. Die laaste raadsvergadering sou op 31 Maart 2021 gehou word, maar het misluk weens die aantygings van finansiële wangedrag teen die finansiële hoof, Ramotseki Mogoje en die munisipale bestuurder, Isaac Moruti, wat moontlik tot hul skorsing kan lei.

“Die DA het ook ‘n mosie van wantroue teen Lebelo ingedien en dit is om hierdie rede dat sy steeds versoeke om raadsvergaderings ignoreer. Die raadsvergadering in Januarie was veronderstel om die jaarverslag, prestasiebeoordeling en uitgawesverslae oor die middeltermyn te bespreek.”

Malwane moes die aanpassingsbegroting ter tafel lê en kennis neem van die aangepaste dienslewerings- en begrotingsimplementeringsplan (SDBIP) tydens die raadsvergadering in Februarie.

“Die burgemeester het tot Woensdag, 31 Maart 2021, nog steeds nie die voorgestelde jaarlikse begroting ter tafel gelê nie, maar die raad is nie byeengeroep nie en geen verduideliking is verskaf vir die versuim om die vergadering te belê nie,” het Mangwejane bygevoeg.

Malwane, as die verantwoordbare persoon vir die begroting, moet ook haar rol speel om te verseker dat die raad spertye nakom en vergaderings hou om die begrotingseise af te handel.

“Die versuim om hierdie vergaderings te belê, vertraag die proses om dienste aan die inwoners van Tswaing te lewer. Die DA het aan burgemeester Malwane geskryf en haar versoek om dringend ‘n raadsvergadering te belê om kwessies en uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar, aan te pak.”

Die DA se provinsiale woordvoerder vir samewerkende regering, Freddy Sonakile, sal ook aan die LUR, Mmoloki Cwaile, skryf en hom versoek om in te gryp en op te tree teen die speaker en burgemeester omdat hulle hul pligte versuim het.

“Uiteindelik is dit in die hande van die kiesers van Tswaing om daadwerklik verandering te bring deur die ANC later vanjaar by die stembus te verwerp en vir ‘n DA-geleide regering te stem sodat ons kan herbou wat die ANC vernietig het en basiese dienste van goeie gehalte aan almal kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Jy kan hang met soveel goue kettings as wat Cleopatra seker in die Egypte gedra het, maar as dit ‘n 29.5 percenter is, gaan niks hulp nie!

Adri

Wanneer, o wanneer gaan ons van hierdie ellende van wanfunksionele munisipaliteite velos word?

Diline

Tipies! Soek die poste met massiewe salarisse maar kan en wil nie die werk doen nie. Wag net vir hulle salarisse elke maand.

Sambok

Hoekom wag vir die verkiesing-ANC deel net weer T hemde en KFC uit en wen weer,gooi die klomp uit hulle kantore uit-dis nou te se as hulle in hulle kantore is

Snowball

Daar sit die Burgemeesteres. Opgedress en opgeprop in al dit se ANC glorie. In goud oordek. Potsierlik gelukkig met die top posisie, maar ai, so uit plek uit soos ‘n molslang in ‘n hoenderhok. Berge bedek ons!