Diensleweringsvoertuie in Kaapstad met petrolbomme bestook

Een van Eskom se voertuie is aan die brand gesteek. (Foto: Eskom/Twitter)

Diensleweringsvoertuie is Vrydag uit Nyanga in Kaapstad onttrek nadat petrolbomme na meer as een diensverskaffer se voertuig geslinger is.

Vyf voertuie, waaronder twee Golden Arrow-busse, ʼn vragmotor van die stadsraad en twee ligte afleweringsvoertuie wat aan Eskom en die stad behoort, is glo deur oproermakers verwoes.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die jongste aanvalle veroordeel en bevestig dat die voertuie wat die stad gebruik om dienste te lewer, uit die gebied geneem is.

“Ons personeel werk nou saam met die polisie om diegene verantwoordelik vir hierdie gruwelike dade op te spoor,” sê Smith.

Hoewel die motief vir die aanvalle nie dadelik duidelik was nie, vermoed Smith dat dit in reaksie is op die polisie se pogings om Donderdag ʼn taxibestuurder en -eienaar op te spoor.

Dié twee het verlede week uit polisieaanhouding ontsnap nadat sowat 40 taxibestuurders na die Philippi-Oos-polisiestasie opgeruk en chaos veroorsaak het.

“Die stad sal bykomende beamptes ontplooi om die oortreders vas te trek, maar ook om die risiko van verdere aanvalle te verminder,” sê hy.

‘Geen krag’

Eskom het Vrydag aangekondig dat hy sy dienste in gedeeltes van Kaapstad ná die petrolbomaanval opgeskort het en nog ʼn aanval sy werknemers se lewe in gevaar gestel het.

Dié besluit sal nou talle Kapenaars in die donker laat.

Die kragverskaffer het in ʼn verklaring gesê hy is genoop om die stap te doen nadat een van sy voertuie aan die brand gesteek is en ʼn ander een in Philippi met klippe bestook is.

Dié voorvalle het daartoe gelei dat die Eskom-bestuurders vinnig uit die gebied moes padgee.

“Eskom vrees vir die veiligheid van sy werknemers en het dus die besluit geneem om alle dienste in die geraakte gebiede op te skort tot dit veilig is om terug te keer.”

Die gebiede wat geraak word, sluit in Boystown, Crossroads, Luzuko, Mandalay, Marcus Garvey en Philippi.

“Hierdie gebiede sal ʼn beduidende vertraging in die herstel van sy elektrisiteit ondervind en inwoners kan dalk vir lang tydperke sonder elektrisiteit wees.”

Volgens Eskom werk hy saam met plaaslike owerhede om te verseker dat die gebiede so gou moontlik beveilig word sodat sy werknemers met herstelwerk kan voortgaan.

“Eskom veroordeel die optrede van mense wat sy werknemers teister; die veiligheid van alle Eskom-werknemers sal altyd die hoogste prioriteit bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Delia

Terrorisme…..dis n ramptoestand….nie COVID

Wat Wou

Ai, onse mense kry swaar. Eers betoog ons teen geen diens lewering, en as ons dienslewering kry vernietig ons ons stadsraad se voertuie wat met swaarkry geld elke maand aan die stadsraad gegee word. Wat wil julle ouens he, alles mahala?

Kokerboom

Hierdie twak moet einde kry. Die belastingbetaler moet vir die sinnelose verwoesting betaal. ONAANVAARBAAR. Dis tyd dat dat die gemeenskappe betrokke aanspreeklikheid vir hul eie boewery aanvaar. Indien nie GEEN dienste!!!

Kokerboom

Dis ook tyd dat die President pa-staan vir die gemors, sy sog lang planne verkort en ophou tydmors om opposisie aan te val NET omdat hy skuldig is en myns insiens onbevoeg is. Mnr, bestuur u land asb behoorlik!

krodedil

Mooi Eskom, doen so voort