‘Diepgaande leesbegrip’ nodig vir dié Afrikaans-vraestel

(Argieffoto: Unsplash)

Die tweede Afrikaans-vraestel in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen was een wat uitgebreide voorbereiding veronderstel het. Hoewel dit uitdagend was, was dit billik, meen die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

“Die belangrikste rede vir die bestudering van letterkunde is om kandidate se vermoë tot analities-kritiese leesvaardighede en kritiese denke te ontwikkel en veral om ʼn fyn taalaanvoeling te verskerp,” sê die SOS.

“Die letterkundevraestel is dus weer gekenmerk deur ʼn ryk en diepgaande leesbegrip wat by kandidate ontwikkel moes word.”

Matriekleerders het Donderdag die letterkundevraestel van Afrikaans‑huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Afrikaans Tweede Addisionele Taal afgehandel.

“Sommige gedeeltes van die vraestel was meer uitdagend as ander, maar oor die algemeen was die vraestel maklik,” sê Reinhardt Vorster, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Eldoraigne.

Leané Labuschagne van Hoërskool Trio op Kroonstad sê die vraestel was soos sy verwag het, en dat daar min vrae was wat werklik ingewikkeld was.

Verskeie matriekleerders wat Afrikaans-huistaal geskryf het, is dit eens dat ʼn langvraag oor die jeugroman Onderwêreld wel ʼn uitdaging gebied het.

Breyten Lindeque, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein, sê dié vraag was ʼn nuwe een wat hy nog nooit vantevore in vraestelle gesien het nie.

SOS wys daarop dat die kontekstuele vrae oor dié roman “beide tekstueel en kontekstueel gestel is”.

“Kandidate sou die inhoud van die roman baie goed en deeglik moes lees en bestudeer om die vrae oor die twee leesfragmente goed te kon beantwoord.”

Reinhardt sê hy het nogal gestoei met die kontekstuele vrae van Krismis van Map Jacobs.

“Die kontekstuele vrae van Map Jacobs het nie gehandel oor die protagonis nie, maar eerder net gefokus op die agtergrondkarakters, wat vir my onverwags was,” sê hy.

Volgens SOS sou matrieks hul inhoud veral goed moes geken het om dié vrae te kon beantwoord.

“Dit was nogtans billik.”

Matriekleerders voer aan dat hulle oor die algemeen geen verrassings in die vraestel teëgekom het nie, en dat hulle oorgenoeg tyd gehad het om dit te voltooi.

Daar is twee uur en 30 minute toegeken om die vraestel te voltooi, maar die meeste kandidate het dit reeds in twee uur afgehandel.

Die matrieks gaan Vrydag voort met hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wanneer hulle die tweede rekeningkundevraestel aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.