Diere brand dood, duisende hektare verwoes

Duisende hektare is in die brande verwoes. (Foto: Verskaf)

Meer as 67 000 ha weiveld is in die verwoestende brand wat Maandag in die Suid-Vrystaat gewoed het, vernietig en duisende diere het doodgebrand.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie het ʼn aanlyn opname onder boere gedoen wat onder die brande deurgeloop het.

Donderdag het verskeie boere nog opvlambrande probeer bestry en gister is talle beseerde diere behandel en die karkasse van diere wat doodgebrand het, vernietig. Dié boere kon dus nog nie terugvoer oor die skade gee nie. Wilken sê infrastruktuur is ook in die brand vernietig, wat beteken talle boere het nie ʼn selfoonsein nie.

Uit die 63 boere wat tot dusver terugvoer gegee het, is vasgestel 67 000 ha veld is vernietig, 2 017 beeste en 1 953 skape het gevrek, 415 stuks wild is dood en die skade aan strukture beloop voorlopig sowat R2,7 miljoen.

Geen sterftes is aangemeld nie.

Wilken sê in dié stadium is veeartsenyvoorraad, watervoorsiening, voer- en voeraanvullings vir die oorlewende diere die grootste behoefte totdat boere alternatiewe planne kan maak om deur die winter te kom en die weiding van die nuwe seisoen hergroei het.

Daar is ook ʼn behoefte aan geldskenkings vir die finansiering van diesel om voer en ander voorraad wat reeds geskenk is te vervoer, voerskenkings, dieremedisyne, diesel, waterpype en -toebehore en omheiningsmateriaal.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê hoewel die brand saamgeval het met die aanvang van die plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng, is daar geen bewyse dat die brande deur brandstigters veroorsaak is nie.

Wilken sê die geraakte boere is ook uiters dankbaar vir ander boere en hul plaaswerkers wat van oral gekom en deur die nag gewerk het om die brand te help bestry. Dieselfde geld vir lede van die Mangaung Sambreelbrandbeskermingsvereniging (MUFPA) en die Working on Fire-spanne wat ontplooi is en beheer geneem het oor die onstuitbare wegholbrande in die uiters sterk en wisselvallige windtoestande.

  • Enigiemand wat die betrokke boere wil bystaan, kan dit doen deur VL se webwerf hier te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is volgende vlak van terorisme, ek wonder hoeveel indien enige terroris gevang is ?

Henk ·

So hulle reken die veld het sommer so self aan die brand geraak. Ja right!!

annie ·

Ek weet nie of die prez, so besig, sy glo belofte sal kan nakom om ok ‘n draaitjie in die Vrystaat te maak om die skade te besigtig nie, siende dat hy glo ook ‘n boer van formaat is. Sekerlik nie vandag nie, dis mos Sondag en voorvaders kry altyd voorkeur… en dan is dit ook nog ‘n Gupta- en Ace-terrein. Mens moet mooi dink voor jy hals van kop dinge doen, het Madiba of was dit Ghandi, altyd gesè het.

Yvonne ·

Net te toevallig…duistere magte hard aan die werk….hulle vrek oor brand

Di ·

Sjoe wat ‘n tragedie, my hart is stukkend vir hierdie boere! My gebede gaan uit aan elke boer wat hierdeur geraak is. Mag weldoeners in SA mildelik skenkings doen om hierdie boere te help. Saam kan wondere verrig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.