Diere gaan dood van honger by Bloem-dieretuin

‘n Brandmaer buffel (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Foto’s kan moontlik sensitiewe kykers ontstel.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het na ʼn onlangse inspeksie by die Bloemfonteinse dieretuin bevestig dat minstens vyf diere van honger gevrek het. Dit is glo nadat die diere vir dae lank nie kos gekry het nie.

Tebogo Maswanganye, inspekteur by die DBV, sê met hul inspeksie by die dieretuin was daar nie ’n teken van kos in die meeste herbivore se kampe nie. Hulle het afgekom op ’n buffel, drie Barberry-skape en ’n impala wat dood in hul kampe gelê het.

“Die gemsbokke, elande en waterbokke wat in een kamp wei, het energieloos, swak en brandmaer gelyk. Van die gemsbokke se ribbes het deur die vel begin wys. Aangesien herbivore soos elande en gemsbokke heeldag eet en wei, is een dag sonder kos vir hulle ’n marteling,” het Maswanganye gesê.

Maswanganye sê die donkies en impalas het in hul rigting aangehardloop gekom met die hoop dat hulle kos gaan kry. Die diere het ook swak en uitgeput gelyk. “Die impalas het ’n geluid gemaak wat ek glo ’n roepkreet om hulp was.” Die renosters, buffels en Barberry-skape was só swak dat hulle skaars kon loop en hul bekke het oopgehang. Die buffels se heupbene was al sigbaar en hulle hare het begin uitval weens die tekort aan kos en die nodige voedingswaarde.

Dooie bokke in die Bloemfonteinse dieretuin (Foto: Verskaf)

Maswanganye vertel die reptielpark was ook in ’n haglike toestand. “Dit is vuil en het onaangenaam geruik. Die reptielpark was pikdonker omdat die krag af is. Die meeste reptiele het nie water gehad nie.” Die varke het ook ’n erge veltoestand onder lede en word nie behandel nie.

Soos vroeër berig, het die Vrystaatse departement van ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in Desember die dieretuin tydelik gesluit omdat die dieretuin versuim het om aan al die voorgeskrewe vereistes en voorwaardes te voldoen, soos uiteengesit deur die departement. Die dieretuin moes egter steeds toesien dat diere gevoer word.

‘n Buffel is dood van honger (Foto: Verskaf)

Maroela Media het in Januarie berig die dieretuin was in ’n veel beter toestand. Charmaine Engelbrecht, ’n inspekteur by die DBV, het destyds bevestig die diere se hokke is skoner as ooit tevore en die diere is goed versorg. Dit lyk egter of die situasie intussen agteruitgegaan het.

Reinet Meyer, die senior inspekteur by die DBV, vertel die DBV het ná hul skokontdekking die nodige kos vir die diere gaan koop en toe die diere help voer. “Die diere het die kos verorber,” sê Meyer.

Meyer het aan Maroela Media vertel dat die diere met hul vorige besoek nog kos gehad het

“Dit is duidelik dat die bestuur van die dieretuin geensins belangstel om na hul diere om te sien nie. Die dieretuin is nalatig en nou moet die diere daaronder ly. Iets drasties moet gedoen word,” het Maswanganye bygevoeg.

Die DBV het ’n klag van dieremishandeling teen die Mangaung-metro by die Bloemfonteinse polisie aanhangig gemaak. Die DBV monitor nou die situasie om seker te maak die diere het ten alle tye kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

KAIROS ·

Privatiseer die plek. Ek kan nie glo wat ek lees nie. Laat hulle hom verkoop op veiling en laat mense wat wil die plek oorneem

Bloedhond ·

Hoelank neem dit vir ‘n wilde dier om te vrek, 1 dag 1 week 1 maand?

Kokerboom ·

Dit gaan my verstand tebowe dat diere so mishandel word. Is daar ‘n plan van aksie om diere te verwyder?Hulp van boere. Kla die gespuis by Mangaung stadsraad aan asb.Dis ‘n skreiende skande. Eks moedeloos kwaad

summie ·

Hoe is so iets moontlik ?? Hoekom hoor die DBV nou eers hiervvan ?? SKOKKEND !!!!!!!!!

Nie Verbaas ·

Wat kan ons nog se van ons land? Alles maar absoluut alles vergaan.

SomeOne ·

maak die “dieretuin” vir eens en altyd toe, laat die Mangaung-metro betaal vir hul nalatigheid

Pieter ·

Misdaad teen die mensdom was onlangs in die nuus. Is dit mense wat so na diere kyk? Lyk my die Bloemfontein omgewing is gereeld in die nuus rakende hierdie probleme. Beste is om die plek toe te maak en die diere te skuif na werklike mense wat omgee. Die apokriewe leer my dat so ‘n dier ‘n siel het. Die Koran wys ook duidelik daarop om diere te versorg. Hierdie gebeure spreek boekdele oor die wat die mag besit. Mag God ons spoedig verlos hiervan, vir mens en dier se omhalwe.

Pieter ·

Gandhi always included the animals, stating, “The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated.”

marius ·

Waarom word die verantwoordelikes se name en gesigte nie geplaas nie ?

Loeloe ·

Dit kom nou daarvan! Radio Rosestad het petisie ingedien om plek gesluit te kry wat hul toe reggekry het. So? Toe word die deure gesluit en lyk my die sleutel sommer weggegooi. Nou kan niemand sien wat daar binne aangaan nie. Waar is die sogenaamde vriende van die dieretuin? Hoekom doen hulle nie iets daaraan nie! Maar soos met alles in die stad, wag die munsipaliteit seker dat die inwoners inspring en diere begin versorg want hulle het seker nie geld nie. Hulle mors mos met ons geld met macufe en parties. En ek verstaan hulle is onder administrasie? Wie administreer nou en waar is die geld? Daar is n dieretuin bestuurder aangestel maar hy moet nou seker die diere versorg uit sy eie sak? Kry n ondersoekende joernalis om al die stories te kom oopkrap. Laat die wereld kan weet wat hier aangaan!!!

Magda ·

Maar hoekom word daar nie gereeld Inspeksies gehou nie – Goeie hemel – waar die ANC n vinger in die Pie het is daar gemors. Wanneer gaan die mense wakker word en die klomp verwyder met hulle stemme. Verdien nie waar hulle op die oomblik geplaas is deur julle stemme nie – ASB mense ANC verdien nie julle stemme nie . so ook nie die EFF wat net Choas saai nie – Tyd dat julle begin dink en minder luister na hulle “goedkoop en lee beloftes” praatjies.

PieterP ·

Wie is die bestuur en verantwoordelike persone van hierdie dieretuin? Plaas hulle fotos en name ook asb.

Andre ·

Stop alle salarisse, hulle het gedros. Verkoop die dieretuin. Die stadsraad is nie in staat om daarna om te sien nie.

Anoniem ·

Dit is n skande in die oe van die Here. Dit is verskriklik….

Karpraat ·

Die bevolking van n land word geken aan die manier waarop hy sy diere versorg

Helene ·

Absoluut skokkend. Die Spca of DBV moet net al die diere konfiskeer en uit plaas. As ek in beheer was…. Maar nou ja waar die Anc in beheer is, verander Al’s mos in,…!!!

Iebbe ·

Maak asb. hierdie plek toe, dit is ‘n aanhoudnde storie. Dan gaan dit goed dan gaan dit baie sleg.

Elize ·

Wat de hel gaan aan in Bloemfontein? As ek n artikel van dieremishandeling lees het dit in Bloemfontein plaasgevind. Ek dink die gemeenskap daar moet meer betrokke raak om die tipe van dinge te verhoed.

Hettie ·

Hoe kan mens toelaat dat diere so ly! Sou diere wat in die natuur vrylopend is, van honger vrek, is dit ‘n natuurlike proses (hoe hartseer dit ook is), maar om diere in aanhouding van honger te laat vrek, is ‘n misdaad. Die skuldiges moet vervolg word en die swaarste moontlike staf opgelê word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.