Diere ‘ly gʼn honger’ in Bloemfontein se dieretuin

Die diere in Bloemfontein se dieretuin het oorgenoeg om te vreet, sê die DBV, wat ook streng toesig oor die plek se netheid hou. Foto: Facebook

Bloemfontein se Dierebeskermingsvereniging (DBV) sê iemand wat daarop uit is om die stad se dieretuin in ʼn slegte lig te stel, versprei valse gerugte op sosiale media dat die diere kwansuis vrek van die honger.

Reinet Meyer, senior inspekteur van die plaaslike DBV, sê hulle hou die dieretuin reeds geruime tyd fyn dop nadat dit tydens inspeksies aan die lig gekom het die plek word nie behoorlik in stand gehou nie.

“Daar was berigte op Facebook dat die diere nie kos het nie,” het sy Maandag aan Maroela Media gesê, “maar ons inspekteurs was die afgelope Dinsdag daar, en toe was daar kos vir al die diere.”

Volgens een van die inskrywings op Facebook ly die diere honger. “Die apies het al vier dae lank geen kos gekry nie. Dis diere wat in hokke staan en nou verhonger!” het die inskrywing gelui.

Die skrywer smeek dan Facebook-gebruikers om kos vir die diere te skenk, want “om in daardie diertjies se oë te kyk en die honger te sien met ʼn smekende handjie is hartverskeurend.”

Nadat die gerugte later verlede week weer op die sosialemediaplatform opgeduik het, het DBV-beamptes Saterdag en Sondag heeldag in die dieretuin deurgebring om seker te maak al die diere word gevoer.

“Daar is ʼn persoon wat die dieretuin skade wil berokken en valse berigte aan die media deurstuur,” meen Meyer. “Hulle het definitief genoeg vleis, groente en alles om die diere te voer.”

Ook die gerugte dat van die diere gevrek het van die honger, is ongegrond, sê Meyer, maar erken die DBV het klagtes oor die netheid van die dieretuin ontvang. “Hulle het mense van korrektiewe dienste ingekry wat help om die gras te sny wat lank was, en die hokke netjies te maak nadat dit slordig was.”

Sy sê die DBV het die dieretuin, wat onder die beheer van die Mangaung Metro staan, gewaarsku die vereniging sal drastiese stappe teen hulle doen as hulle nie planne instel om die dieretuin na behore in stand te hou nie. “Ons monitor hulle elke week om te kyk hoe hulle vorder.”

Gevra wat die DBV se beleid jeens dieretuine is, het Meyer gesê: “Ons glo nie daaraan dat wildediere in aanhouding moet wees nie. Ons glo hulle moet vry wees in die veld. Ons is glad nie te vinde daarvoor dat diere in dieretuine aangehou word nie.

“Maar ons kan dit nie weg wens nie; daarom monitor ons hulle om te sorg dat daar na die beste van hul vermoë na die diere gekyk word.”

Die Rosestad se dieretuin is die tuiste van onder meer ʼn groot verskeidenheid boksoorte, leeus, tiere, sebras, donkies, verskeie soorte apies en ʼn sjimpansee, maar dié word binnekort na ʼn ander sentrum oorgeplaas, vertel Meyer.

Maroela Media het ʼn woordvoerder van die Mangaung Metro om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

honourable member ·

Die dieretuin is n marteling vir die diere. Hoekom sal mense se die diere is verhonger as dit nie so is nie. Kyk hoe morsig het Bloemfontein geword so ek kan nie dink dat daar veel moeite gedoen word om die dieretuin skoon en netjies te hou nie. Hierdie mense het mos inelkgeval geen liefde vir diere nie. Maar ja as die DBV se daar is genoeg kos is ek tevrede. Geen dier verdien om so te ly nie.

Nettie ·

@honourable member, terselfdertyd is daar beter maniere om ‘n moontlike grief wat iemand teen die munisipaliteit en/of dieretuin kan/mag hê te lug en die lug te suiwer, as om die tyd, mannekrag en infrastruktuur van ‘n organisasie soos die DBV, wat reeds onder druk is a.g.v. befondsing en die enormiteit van hul taak om órals te probeer wees om dieremishandeling te voorkom, te misbruik.

Dis duidelik op die foto’s, dat die diere wel kos en water, asook skuiling het. As die dieretuin dan nou nie heeltemal so netjies gehou word, soos party mense sou verkies nie, is daardie mense dan mos alte welkom om hul dienste GRATIS aan te bied, om dierehokke en -skuilings te gaan skoonmaak!

Ek stem saam: wilde diere hoort nie in dieretuine nie – hulle hoort in die veld of reservate waar mense ook kan betaal om hulle te sien.

Oujongvrou ·

Mense wil tog so graag belangrik voorkom op facebook. Dis n skande dat hulle leuens sal versprei om aandag te kry. Mense is verveeld en gebeur al die valse berigewing

Marius ·

Ek sal uitkyk vd spesifieke berig op FB. Gewoonlik is dit persoon[e] wat sulke snert verkondig of a) werknemer[s] met ‘n grief teen die bestuur, of b) iemand wat opsetlik die dieretuin wil in ‘n slegte lig stel. Kyk uit op bv Diere groepe juis of FB of op ander sosial media groepe. Vir fotos wat geplaas word – gaan na TinEye.com – en kyk dan na die outentiek ontleding van dit. Daar is verskeie ander sagteware ook op die mark.

Ek dink ·

Ons was onlangs daar en dit is BESLIS nie skoon nie! Die tuine en diere se hokke is oorgroei, die diere se water was vuil & baie van die hokke was leeg. Die kafeteria is toe en rommel le oral op die perseel. Tragies hoe alles eenvoudig agteruit gaan. En wanneer het die afdraandes begin …?

My mening ·

Ons was onlangs by die dieretuin en dit is BESLIS nie skoon nie! Die tuin en diere se hokke is oorgroei en hulle water was vol plastiek en ander rommel, veral by die waterbuffels. Die hele terrein was vol rommel en baie van die hokke was leeg. Die kafeteria is ook toe en lyk baie verwaarloos. Dis so tragies dat alles so agteruit gaan. En wanneer het die afdraandes begin …?

DeVill ·

Maak die plek toe asb!

Dit is een groot gemors vandat jy daar stop.

Bloemfontein gaan dag na dag agter uit maar tog word daar heerlik geparty en geld uit gegee asof daar nie ‘n more is nie!

MAAK DIE DIERETUIN TOE!

Annetjie ·

Die kos wat die diere gekry het was donasies van die publiek. As hulle nie eers die diere skoon water kan gee of die plek netjies maak nie, hoe dink die mense gaan hulle die diere kos gee.

Katerina ·

Ek het al van kinds af n gruwel in dieretuine. Ek kan nie eers n voeltjie aanhou nie. Het net nog nooit vir my gelyk of die diere regtig gelukkig is nie- en dit was selfs in die jare toe dieretuine nog netjies was.

San-marie Truter ·

Ek het n post opgesit nadat ek die berig Vrydag op Radio Rosestad en Saterdag-oggend op OFM gehoor het dat daar nood is by die dieretuin en dat die ape al 3 dae sonder kos is. Danksy baie weldoeners wat daarop gereageer het en hul harte oopgemaak het is daar Saterdag oggend klomp kos gaan aflewer. Ek kan nie sien waarom dit nou afgemaak word as iemand wat n grief het nie aangesien hier net positiewe hulp gebeur het. Die diere het kos gekry. Griewe het ek beslis nie teenoor die dieretuin/ munisipaliteit of Dbv nie aangesien ek nie n inwoner van Blfn is nie of enige iets met hierdie instansies te doen het nie. Hierdie was bloot n plasing nadat daar op radio vir hulp gevra is. Daar is ook n voice-mail van n dame wat die dieretuin Saterdag oggend geskakel het en waar n werker van die dieretuin bevestig dat daar nie kos is vir sekere van die diere nie. Waarom instansies wat na diere belange moet omsien nou die storie so uit verband wil ruk en weldoeners eintlik beledig sal ek nie weet nie. Bedank eerder al hierdie mense wat hul harte oopgemaak en gesorg het dat daar kos afgelewer was. Moenie die hand wat voed byt nie!.

Antjie ·

Dit maak my bang. Miskien so beplan, want ek het ʼn gerug gehoor, en anders as die vuil en oorgroeide dieretuin is dit net ʼn gerug: Dat die DBV sonder water gelaat is kort nadat die klagtes van ernstige tekorte laasweek by die media uitgelek het. Dinge raak dalk baie gevaarlik in Bloemfontein! Veral as jy ʼn onskuldige dier is, of moes gewees het!

Landi ·

DBV moet onverwags oor n periode van n klomp maande opdaag vir inspeksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.