Dat diere nie in hokke hoort nie, sal ʼn ewigdurende twispunt bly, maar niemand kan stry dat die Nasionale Dieretuin van Suid-Afrika (NZG) uitmuntende werk doen om bedreigde spesies te beskerm nie.
Dié dieretuin, algemeen bekend as die Pretoria-dieretuin, is een van die agt grootste dieretuine ter wêreld en een van die mees hoogaangeskrewe. Hy vier ook vanjaar sy 124ste bestaansjaar en het onlangs verskeie nuwe aankomelinge verwelkom.
Die dieretuin van 85 ha is die tuiste van talle spesies amfibieë, reptiele, voëls en soogdiere en bly ʼn uitsonderlike besienswaardigheid vir toeriste, skoolgroepe en gesinne.
“Baie mense verstaan die rol van dieretuine in die bewaring en teel van spesies verkeerd,” sê Nontsikelelo Mpulo, die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se direkteur van bemarking, kommunikasie en kommersialisering.
“Dieretuine oor die hele wêreld is professionele tuistes vir bekwame, toegewyde bewaringspesialiste, bioloë en ekoloë wat onvermoeid en met passie werk om spesies te red. Teel in gevangenskap is ʼn veeleisende verantwoordelikheid. Natuurlike habitatte moet so na moontlik nageboots word om broeipogings moontlik te maak. Met elke sukses wat ons behaal, beweeg die betrokke spesie ʼn bietjie verder weg van uitwissing.”
Kurators by die dieretuin het onlangs noemenswaardige vooruitgang gemaak om dierespesies wat ʼn onsekere toekoms in die natuur kan verwag, te teel en die voortbestaan van bedreigde spesies te verseker.
Maroela Media het vroeër berig die NZG is tydens die Pan-African Association of Zoos and Aquaria (Paaza) se konferensie in Oos-Londen vandeesmaand met die Paaza-bewaringstoekenning bekroon.
Die toekenning is ter erkenning van spanlede van die NZG se reptielpark se toewyding om kritiek bedreigde Afrika-pannekoekskilpaaie (Malacochersus tornieri) suksesvol te teel.
Die NZG is glo die eerste instelling in Suid-Afrika wat die suksesvolle teling van hierdie spesie bewerkstellig het.
- Pannekoekskilpaaie benodig ʼn bepaalde temperatuur, humiditeit en dieet om uit te broei. (Foto: National Zoological Garden/Facebook)
- (Foto: Verskaf)
Die dieretuin se goed gevestigde “Adopt a Wild Child-program” gee mense ook die geleentheid om diere aan te neem en te borg, waaronder die dieretuin se babadiere wat in gevangenskap geteel is.
“Dit gee individue, gesinne, groepe, organisasies en sakeondernemings ʼn geleentheid om in die toekoms van ons diere te belê en hul voortbestaan te help verseker,” sê Mpulo.
Die dieretuin het boonop vroeër vanjaar die uiters seldsame geboorte van vier kwesbare sonkykerakkedisse gevier.
- Die sonkykerakkedis, ook bekend as ’n skurwejantjie, wat onlangs by die Pretoria-dieretuin uitgebroei het. (Foto: Verskaf: Sanbi)
- Die sonkykerakkedis, ook bekend as ’n skurwejantjie, wat onlangs by die Pretoria-dieretuin uitgebroei het. (Foto: Verskaf: Sanbi)
Dit het die getal sonkykerakkedisse wat al suksesvol in die dieretuin geteel is, op vyf te staan gebring.
“Die sonkykerakkedisse is endemies aan die Vrystaat en Mpumalanga se grasvelde. Habitatvernietiging en stropery is die spesie se grootste bedreigings, en die sonkykerakkedisse oorleef net in relatief klein beskermde gebiede in die natuur,” sê Mike Adams, kurator van die dieretuin se reptielpark.
“Teel en bewaring in gevangenskap is egter nie beperk tot endemiese of inheemse Suid-Afrikaanse spesies nie. Dieretuine oor die hele wêreld werk saam aan teelprogramme om te verseker dat genetiese diversiteit in die nageslag van gevange diere gehandhaaf word, en ons nasionale dieretuin is ʼn gereelde en hoogaangeskrewe deelnemer aan teelprogramme in gevangenskap.”
Die dieretuin het ook baie onlangs ʼn geelwang-gibbonmannetjie van die Le Teste de Buch-dieretuin in Frankryk gekry. Die bedreigde Franse apie, Sylvester, is aan ʼn geelwang-gibbonwyfie voorgestel en die hoop is groot dat klein geelwang-gibbons binnekort in die dieretuin verwelkom sal word.
“Die diere in ons dieretuin is ambassadeurs vir hul spesies en die bioloë en dierkundiges wat met hulle werk, is spesie-oorlewingskampioene.
“Elke suksesvolle teelprogram in gevangenskap by die nasionale dieretuin gee ons en die wêreldbewaringsgemeenskap groot rede om fees te vier,” sê Mpulo.