Diereliefhebber vermoor toe sy honde beskerm

Jill Masterson. Foto: Facebook

Jill Masterson. Foto: Facebook

ʼn Bejaarde diereregte-aktivis van Kromdraai buite Krugersdorp is Donderdagaand tydens ʼn huisroof vermoor nadat sy skynbaar probeer het om haar honde te beskerm.

Jill Penelope Masterton (62) en haar man is Donderdagaand deur vyf gewapende mans in hul huis op die Letamo-wildsplaas en –landgoed aangeval.
Terry-Ann Booyse, woordvoerder van die veiligheidsmaatskappy Drift Reaction cc, het Vrydag aan Maroela Media gesê hul personeel was saam met paramedici op die toneel.

“Na wat verneem word, wou haar man buitentoe gaan om ondersoek in te stel nadat die honde verwoed begin blaf het,” het Booysen gesê.
Toe hy die deur oopmaak, het die rowers hom oorweldig. Hulle het hom in die huis ingedwing en hom en Jill vasgebind, waarna hulle die huis geplunder het.

Dit wil voorkom asof Jill en haar man in ʼn stadium van mekaar geskei is, en dat sy die mans gekonfronteer het toe hulle haar honde wou seermaak. Tydens die worsteling wat gevolg het, het die aanvallers haar met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Die rowers het daarna met die gesteelde huisware gevlug.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat vyf gewapende mans in verband met die voorval gesoek word.
“Die vrou is op die toneel aan haar beserings dood. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal hoe sy dood is,” het Ernst gesê.
Die Krugersdorp-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie is besig om leidrade op te volg.

Chris Voets, ook ʼn aktivis vir diereregte en Jill se vriendin, het aan Maroela Media gesê hulle het bevriend geraak deur hul gesamentlike passie vir diere.

“Sy was ʼn sprankelende, liefdevolle mens vol lewenslus. Sy sou nie eens ʼn mier leed aandoen nie,” het Voets gesê. “ ʼn Mens sou juis van haar verwag dat sy haar lewe vir ʼn dier sou opoffer. Ek is seker sy is gisteraand vriendelik by die reënboogbrug verwelkom deur die hordes diere wat sy in haar leeftyd gehelp het.”

Sy het gesê Jill se dood is nie net ʼn groot verlies vir die mensdom nie, maar ook vir die diereryk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cobie Jansen van Rensburg ·

Moet asb onder geen omstandighede uitgaan, dit is resep vir moeilikheid soek!!! Bel of roep op radio vir bystand as jy radio het!!

Elizabeth ·

Ai enigiemand wat diere wil beskerm of voor lief is is ‘n “champ” in my oë. KOn die verdomde goed nou nie maar net die goed gesteel en voetsek nie. Sy is eintlik vir amper “niks” vermoor as mens so daaraan dink. Sterkte aan die familie

Amanda ·

Hoe maak ek om iemand aan te gee wat honde van die straat af vat en nie rapporteer dat hulle honde op getel het Krugersdorp en hulle het +- 13 tot14 hond woon gebied en nie plot nie al die honde slaap in bed en in kamer, en daar moet iemand by die huis wees heeldag om te keer dat die groot honde baklei asb wie kan ek kontak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.