Diereliefhebbers waag lewens om poolhonde te red

Joanne van Niekerk saam met Jasmin in die dierekliniek.

Joanne van Niekerk saam met Jasmin in die dierekliniek. Foto: Husky Rescue – SA

Diereliefhebbers het Sondag ʼn groot swerm bye getrotseer om poolhonde in ʼn skuiling in Lanseria van ʼn gewisse dood te red.

Joanne van Niekerk, die stigter van Husky Haven Rescue, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die nagmerrie, wat twee poolhonde se lewens geëis het, het omstreeks 11:15 begin toe sterk winde ʼn groot byenes uit ʼn boom gewaai het.

“Ons was drie vroue by die hokke toe die bye op die honde toegesak het,” het Van Niekerk gesê. Hulle het dadelik hulp ontbied en begin om die diere uit hul hokke te kry. “Nog personeel en vrywilligers het kom help en ons was in ʼn stadium 10 mense wat die 25 honde van die bye probeer red het.”

Almal is in die proses deur die bye gesteek. Twee mense moes in die hospitaal behandel word, maar is dieselfde dag ontslaan. “Daar was miljoene bye. ʼn Mens kon soms skaars nie eens die honde tussen die bye sien nie,” het sy bygevoeg.

Dit het Van Niekerk en haar span sowat drie ure geneem om al die honde van die bye te red. Die honde is daarna na die Lammermoor-dierekliniek in Muldersdrift gehaas.

Een hond is op die perseel dood, en een is later in die kliniek dood. “Die personeel by die dierekliniek was ongelooflik en hulle het die meeste honde se lewens gered. Twee honde, Jasmine en Sonic, word sedert Sondag nog steeds daar behandel. Ons behoort vandag vir Sonic huis toe te bring, maar Jasmine is nog in ʼn ernstige toestand. Ons vermoed sy is baie allergies vir bysteke.”

Die perseel is nou weer veilig nadat ʼn byvanger Sondag die bye kom verwyder het. Die perseel is eers teen 18:00 veilig verklaar.

Die honde aan die onderkant van die skuiling is ongedeerd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marietjie ·

Ag foei tog, dis verskriklik. Dankie aan elkeen se hulp en bystand om die diere te red. Sterkte vir die herstelproses.

veronica ·

Dankie vir julle, met die dapper harte! Julle is goud werd!!

Charles Thomas ·

Geldelike hulp kan verleen word vir die veearts kostes.
Husky Rescue SA
Standard Bank
Cape Gate
Takkode: 023910
Rek no. 271474092
Baie dankie
(Besonderhede verkry op FB Maroela Media)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.