Diereredder klou verbete aan boom toe rivier hom gryp

Dirk Engelbrecht nadat hy gevind is. (Foto: South African Wildlife Rehabilitation Center/Facebook)

Dirk Engelbrecht het vir byna 20 ure met een been op ’n slag in die mik van ’n boom gestaan terwyl die bruisende en kragtige water van die Vrystaatse Vaalrivier onder hom gewoed het.

Daar was nie tyd vir honger word nie. “Die grootste prioriteit was om wakker te bly, op te bly en te hoop dat die water nie styg en ek my boom verloor nie.

“Die moeilikste was om te weet die odds is teen jou,” vertel hy nou nadat hy Maandag deur ʼn sterk stroom op sy kajak meegesleur is en oornag aan die boom geklou het.

Engelbrecht (42) het hom voorberei om selfs vir vyf dae op reddingswerkers te wag. Hy het vertrou daar word na hom gesoek en sy familie moes ten minste wéét dat hy uitgehou het, verduidelik hy aan Maroela Media.

Engelbrecht is die uitvoerende hoof van die niewinsgewende biodiversiteitsbewaringsorganisasie Wild Serve en was besig met wildreddingspogings aan die oewer van die Vaalrivier toe hy vermis geraak het. Hy is eindelik Dinsdagoggend ná ’n grootskaalse soektog uit die mik van ʼn boom gered.

Die Vaalrivier en Hell’s Corner

Dirk Engelbrecht (Foto: South African Wildlife Rehabilitation Center/Facebook)

Hy vertel dat hy en verskeie reddingswerkers van onder meer die South African Wildlife Rehabilitation Center Maandagoggend voëls en neste aan die oewer van die rivier gered het voor die sluise oopgemaak en hulle weggespoel sou word.

Die reddingspoging het goed verloop en sowat 50 voëls en hul eiers op ’n eiland by Willow Creek is die betrokke oggend na veiligheid geneem.

Die reddingspoging was teen 12:00 afgehandel. Plaaslike inwoners het egter vertel van nog voëls en neste op ander eilande wat moontlik in gevaar was.

Engelbrecht en die egpaar Brendan en Danelle Murray van die Owl Rescue Centre het daarna besluit om nege kilometer op in die pad te stap en met twee kajaks weer rivier af te beweeg op die uitkyk vir nog voëls.

“Alles was fine,” onthou Engelbrecht. “Ons het geweet daar is risiko’s, maar dit was ’n noodsituasie. Ons het in oorleg met plaaslike inwoners en professionele roeiers opgetree en was voorbereid. Ons het geen onnodige risiko’s geneem nie.”

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was toe reeds heeldag op die toneel ter wille van veiligheid.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Hans Braxmeier/Pixabay)

Hy vertel dat die rivier rustig gevloei het en dat hulle net voor die voorval nog rustig rivier af op die kajaks gedryf het – Engelbrecht op die een en die Murrays op die ander. “Ek het selfs agteruit gedryf en met Brendon gesels. Dit was lekker.”

Hy onthou dat hy ʼn bietjie vooruitgegaan het op soek na nog ’n eiland. Toe raak die onvoorspelbare Vaalrivier se waters binne oomblikke onstuimig.

Engelbrecht se kajak het in die middel van die rivier omgeslaan. “Ek het in daardie stadium steeds nie juis bekommerd geraak nie. Dit gebeur. Kajaks slaan om. Jy klim dan maar net weer op.”

Engelbrecht se kajak het egter net op die verkeerde tyd omgeslaan, meen hy.

“’n Sterk stroom het my ingetrek toe ek uit die water opkom [nadat die kajak omgeslaan het].”

Dié stroom het Engelbrecht om ’n draai meegesleur reg tot in waters wat as Hell’s Corner bekend staan.

Die rivier het hier in verskeie strome verdeel.

Die boom

“Ek het geen tyd gehad om uit te kom nie. Toe ek opkyk, is ek teen ʼn boom vas.”

Engelbrecht het onder die kajak beland en het sowat 15 meter verder na ’n ander boom gegryp.

Jy dink eerste “is ek in ’n goeie boom?” onthou hy.

Engelbrecht het daarna tot in ’n ander boom geklouter en dit is hier waar hy oornag het – een been op ’n slag in die mik van sowat 10 cm – en om hulp gewag het.

Die Murrays se kajak het in die stadium self omgeslaan nadat dit doringdraad in die water getref het. Die egpaar het in die onstuimige waters tot by die oewer gesukkel en kaalvoet gestap om hulp vir Dirk te gaan soek nadat hulle hom uit die oog verloor het.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay.com)

“Hulle is die onbesonge helde,” sê Engelbrecht nou.

Hy kon dit nie waag om in die boom te beweeg nie en was meer bekommerd as bang.

“Jy besef dat jy in ’n baie slegte posisie is, maar ook dat dinge nóg slegter kan raak indien dit begin reën en die water verder styg.”

Engelbrecht vertel dat al die gebede wat hy in daardie boom gebid het, wel beantwoord is. Hoewel die weer verskeie kere opgesteek het, het dit elke keer net ʼn paar druppels gereën.

“Jy dink in daardie stadium wie oor jou bekommerd is en in watter toestand hulle is. Jy is ook bekommerd oor die reddingswerkers wat na jou soek en voel skuldig dat hulle hul lewens in gevaar stel om na jou te soek.”

Teen sononder het hy besef dat die soektog afgelas sou word en Engelbrecht het hom gestaal vir ʼn lang nag. Dit was koud, mistig en winderig terwyl die rivier onder hom geraas het.

Engelbrecht het voor sy noue ontkoming reeds min geslaap nadat hy diere tydens die Nuwejaarsvieringe bygestaan het en het gesukkel om wakker te bly.

“Dit was die laaste ses ure onmoontlik om wakker te bly. Ek het verskeie kere aan die slaap geraak en dan wakker geruk.

“Jy kyk heeltyd na die hemelruim en wag dat dit lig word. Dit is erger as om te kyk hoe verf droog word.”

Teen sonsopkoms het hy weer gereeld om hulp begin uitroep ten spyte van die raserige waters. Hoe later dit geword het, hoe meer bekommerd het hy geword.

Omstreeks 09:00 het hy die rooi pette van NSRI se reddingswerkers gesien.

“Daar was groot blydskap en verligting. Ek het ook gedink ‘welgedaan ouens’. Julle het goed gedoen om my so vinnig kry.”

Sowat 80 mense, onder wie familie, vriende, kollegas, polisieduikers, paramedici en plaaslike inwoners, het op die rivieroewer vir hom gewag. Engelbrecht is met luide applous en ʼn gefluit ingewag.

“Jy is verbysterd, verlig en vol waardering. Alles in een.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ziggy ·

Fantastiese storie van uithou vermoee, welgedaan aan hom en almal wat help soek het.

Shakespeare ·

Jy is ‘n ysterman. Dankbaar dat jy lewendig uitgekom het.

melW ·

Die Vaal is onvoorspelbaar. Ek het in Parys opgegroei en ons tieners het gewag vir die golf as die Barage se sluise oopgemaak is, en dit gedurf het om die rivier aan te vat. Ons was so roekeloos, dankbaar dat ons jaar in en jaar uit ongeskonde daarvan afgekom het. Baie dankbaar dat Engelbrecht gered is.

Blomme ·

Dis nou ń lekker goed voel storie vir ń slag… Weg vd afbreek, bedrog en geweld wat eie aan ons land geword het. Dankie MM dat ons vir ń slag kan glimlag na ń beriggie soos hierdie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.