Diereskuilings oorvol terwyl inperking druk

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hoewel sommige gelukkige troeteldiere ongetwyfeld die inperking weens Covid-19 terdeë geniet aangesien hul ounooi of oubaas nou aldag tuis werk, is daar ongelukkig baie ander vierpotiges wat noodgedwonge deur hul eienaars by ’n skuiling afgelaai word omdat hulle bloot nie meer hul diere kan bekostig nie.

Verskeie diereskuilings was dit vandeesweek by navraag aan Maroela Media eens: Mens én dier kry swaar te midde van die Covid-19-pandemie.

Die skuilings getuig van troeteldiereienaars wat hul werk weens die inperking kwyt is en noodgedwonge sonder hul geliefde hond of kat na ’n kleiner woonplek moes verhuis – of eenvoudig nie meer kos vir hul troeteldier kon bekostig nie.

“Dit is hartverskeurend. Daar is gesinne wat só lief is vir hulle diere, maar hulle moet van hulle afskeid neem,” vertel Reinet Meyer, senior inspekteur by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein.

Volgens Meyer het dié tak voorheen sowat 400 honde per maand ingeneem waarna hulle moes omsien en nuwe eienaars probeer vind. Die getal het egter sedertdien die inperking ingestel is tot sowat 700 honde per maand opgeskiet.

Die DBV in Bloemfontein ontvang meestal honde.

Cilla Trexler, eienaar en stigter van die Wollies-diereskuiling in Pretoria in Gauteng, sê hulle inname het verdubbel weens die inperking. Dié diereskuiling word weer oorval met katte en het net verlede maand 117 katte wat deur hul eienaars afgeteken is, ontvang.

Altesaam 91 honde is verlede maand by dié skuiling afgegee.

“Ons ondervind dat verskriklik baie mense in die townships hul werk verloor het. Ons het nog nooit so baie diere uit die townships gaan haal soos nou nie. Ons gaan haal elke dag diere in die townships. Dit gaan maar gepaard met siek diere ook.”

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die Wollies-diereskuiling help tans 70 behoeftige huisgesinne om hul diere kos te gee en gee selfs sakke kos by plekke af waar eienaars van troeteldiere kos vir hul diere kan gaan haal.

“Dit is so hartseer dat mense hulle diere – dít waaraan hulle vasgeklou het – nou moet opgee. Jy kan sien mense kry swaar. Dit is nie net diere. Dis mens én dier.”

Marcelle du Plessis, woordvoerder van die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap, sê die kliniek het aanvanklik vermoed dat baie eienaars hul troeteldiere tydens vlak 5 van die inperking sou opgee. Die kliniek het egter byna geen diere gedurende dié afsonderingstydperk ontvang nie.

“Ons vermoed dit was omdat mense meer by die huis was en meer aandag aan hul diere kon gee.”

Die dierekliniek het egter gedurende vlak 3 ’n groot toename in innames beleef en dit word vermoed dat talle mense wat vroegoggend tot laataand werk na hul werksplekke moes terugkeer en besef het dat hulle nie meer na hul diere kon omsien nie.

“Maar ons sien eintlik nou eers die probleem. Mense het hul werk verloor en hulle kan nie meer na hul diere omsien nie. Hulle eienaars sukkel en dit is so hartseer vir hulle om hul diere te laat gaan.”

Die Mdzananda-dierekliniek ontvang meestal honde.

Om sake te vererger, verkeer die skuilings nou uiteraard onder meer druk om al die troeteldiere te voer.

(Foto: Wollies/Facebook)

“Ons het niks meer kos nie,” sê Trexler.

Wollies het vandeesweek ’n ernstige beroep op die publiek vir kosskenkings gedoen.

Du Plessis sê op haar beurt die Mdzananda-dierekliniek verkeer ook onder druk om die diere te onderhou.

“’n Dier se eerste maand by die kliniek kos omtrent R1 500. Sommige bly so lank as vier maande en sommige het al langer as ’n jaar gebly.”

Die kliniek het in enige gegewe stadium tot 50 pasiënte in sy sorg. Hulle bedryf ook ’n klein skuiling wat kapasiteit het vir 15 honde en 15 katte. Die skuiling het reeds dié kapasiteit bereik.

Du Plessis sê mense is ook huiwerig om diere by dié dierekliniek aan die buitewyke van Kaapstad aan te neem – moontlik weens die kliniek se ligging.

Dit lyk egter of aannemings te midde van die pandemie by Wollies en die DBV in Bloemfontein toeneem.

Meyer sê mense wat wel tuis werk en voel dat hulle ’n dier kan bekostig, neem graag nou gedurende hierdie tydperk aan. Al meer sogenaamde opreggeteelde honde word opgegee en dit is hierdie honde wat makliker aangeneem word, sê sy.

Volgens Trexler is Wollies se aannemings ook baie goed, hoewel dit meestal babahondjies is wat aangeneem word.

Altesaam 89 honde en 20 katte by Wollies is verlede maand aangeneem.

Die skuilings en diereklinieke doen ’n beroep op mense om hulle met skenkings te help.

Besoek die onderskeie instellings hier vir meer inligting: Wollies, Bloem-DBV en die Mdzananda-dierekliniek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Laat the people en Cerol se fellow south AFRICANS vir hulle eie sorg.

Johan ·

Nee Tania, nie “te midde van die pandemie” nie…regulasies, daar was geen pandemie of eers amper een nie, net ontwrigting agv die regulasies.

Johan ·

Waarvan praat jy Thom? Die regulasies van 2019 (en tot nou) wat meer mense se lewens met meer verkort het as wat die virus ooit sou kon? Word ASB wakker en dink bietjie daaroor, hoeveel mense gaan honger, ondervoed, mis uit op mediese diense, kon nie hul kanker vroegtydig laat behandel nie, het infeksies gekry en ledemate verloor, nie leer lees nie, dipressie (26% meer), selfmoord, ens……..stupid slaaf. Of maak jy ook lekker geld uit die regulasies ten koste van ons almal.

Lorette ·

Ek sal liewer self honger gaan as wat ek my diere sal laat gaan. Hulle hou my aan die lewe met hul liefde. Voel so jammer vir diegene wat nie meer kan hul diere versorg nie.

Genis ·

Ons het ook wer nog n hond ingeneem, mense het na n nie dier vriendelikke plek getrek… hoe trek jy na n nie vreindelikke dier plek as jy n dier het? Maar nou ja… Mense asb as jy kan ondersteun asb Wollies of diere beskermings plekke naby jul… Die diere het nie hiervoor gevra.. Dis mense wat hul daar laat beland…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.