Dieretuin se orangoetang sterf

Dumai Foto: Johannesburgse dieretuin, Facebook

Dumai Foto: Johannesburgse dieretuin, Facebook

Dumai, die geliefde orangoetang van die Johannesburgse dieretuin, is Woensdag oorlede.

Dr. Kresen Pillay van die Johannesburse dieretuin, het Donderdag aan Maroela Media gesê die 26-jarige Dumai is vroeg Woensdagoggend oorlede. Hy was vier jaar oud toe hy 22 jaar gelede na dié dieretuin gebring is.

“Hy was die afgelope paar maande behandel vir griepsimptome,” het Pillay gesê. “Hy het depressief begin word en het nie meer al sy kos geëet nie.”

Pillay het gesê hulle het besluit om Dumai onder algehele verdowing te plaas om ʼn volledige mediese ondersoek te kan doen. “Dit is maar altyd ʼn risiko, maar ons het die nodige protokol gevolg,” het hy bygevoeg. “Ons het ook X-strale geneem, maar hy is tydens die ondersoek oorlede.” Hulle het tevergeefs probeer om Dumai weer by te bring.

Pillay het Dumai daarna na Onderstepoort se Veeartsenykunde-instituut in Pretoria geneem om ʼn onafhanklike nadoodse ondersoek te doen. Hulle wag nog vir die amptelike verslag, maar Dumai se hart was ernstig vergroot.

“Ons is tevrede dat ons die regte besluit gemaak het,” het Pillay bygevoeg. “Sonder die ondersoek sou Dumai dalk nog moontlik slegs ʼn paar weke geleef het.”

Hy het gesê dit is ʼn groot terugslag vir die bewaarders wat soveel tyd saam met Dumai deurgebring het. “Ons is nog almal in skok, maar ons het berusting dat dit ʼn bestaande probleem was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.