Dieretuin-staking: Hof tree in

Die hof het sy stem dik gemaak teen sommige werkers wat die naweek te midde van die skoolvakansie op ʼn staking by die Nasionale Dieretuin in Pretoria gegaan het, om hulself in toom te hou.

Personeellede wat verbonde is aan die National Trade Union Congress (NTUC) het Saterdag om 12:00 begin staak. Die dispuut hou verband met ʼn ooreenkoms wat in 2009 onderteken is tussen die dieretuin en verskeie vakbonde wat betref ʼn sewedag-werkweek. NTUC eis nou dat dié ooreenkoms gekanselleer word en dat werknemers oortydbetaling moet ontvang wanneer hulle oor naweke werk.

Kragtens die huidige ondertekende ooreenkoms word Saterdae beskou as normale werkdag en werknemers ontvang oortydbetaling vir Sondae.

Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, het Donderdag aan Maroela Media gesê die dieretuin se bestuur het laat Dinsdag reeds ʼn dringende interdik teen die organiseerders van die NTUC-staking bekom en dié hofdokumente is Woensdag aan die vakbond oorhandig.

Aldus die interdik mag die stakers nie nader as vyf meter van die ingang van die dieretuin kom nie, nie rommel strooi of niestakende werkers intimideer of verhoed om in die perseel in te gaan nie.

Allenby het gesê die staking gaan nog voort, maar Woensdag was daar geen gewelddadige voorvalle nie.

Vroeër die week is rommel by die ingang gestrooi en niestakende werkers is aangerand en geïntimideer en verhoed om by die perseel in te kom. Daar was ook sake van beskadiging aan eiendom aangemeld.

“Kriminele aanklagte is reeds aanhangig gemaak teen stakers wat niestakende werkers aangerand het,” het Allenby gesê.

Allenby het gesê bedrywighede by die dieretuin gaan voort en besoekers is veilig. “Slegs ʼn derde van die personeel neem deel aan die staking. Al die diere word steeds goed versorg en ons het tydelike werkers ingebring om na die perseel en diere om te sien,” het hy bygevoeg.

“Die bestuur van die dieretuin wil inwoners gerusstel dat die beste gedoen word om die welstand van die diere en die veiligheid van ons besoekers te verseker.” Allenby het gesê daar is ʼn beperkte impak op besoekers en bedrywighede in die dieretuin.

Die dieretuin het ʼn beroep op die publiek gedoen om tydens die staking geduldig te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Robert ·

As die werk voortgaan, jaag die derde wat nie wil werk nie, weg!

Fransie ·

Ek stem saam Robert, en stel dan die tydelike werkers permanent aan. Ten minste wil hulle werk.

Irene ·

Dank af daar is ander mense wat werk soek hoogtyd dat daar nou opgetree word

Es ·

Daar is so baie mense wat sal werk onder daardie kontrak. Dis so skaars.

Justice ·

Ek vertrou dat die stakende werkers wat nie stakers fisies aangerand het daardeur hulself met onmiddelike effek uit die diens van die dieretuin ontlsaan het.

Nita ·

Unies is n onding. Unies is eiehandig daarvoor verantwoordelik om die land op sy kniee te dwing. Brittanje het ook gebuk gegaan onder die onsinnige stakery totdat Margaret Thatcher hulle in die bek geruk het.

Johann ·

En as die diere begin staak? Maak die grondwet ooit daarvoor voorsiening as HULLE ontevrede is en hul griewe wil lig. Hulle het nie die kundigheid om brand te steek nie.

Dotta ·

Ja tipies Suid Afrikaners, as daar oop poste beskikbaar is dan is daar ‘n storm loop. Almal sit hulle “beste Gesiggies” en “mooiste glimlaggies” op. En is altyd tevrede met wat in die kontrak staan, maar ooo magtag as hulle eers die werk het, hetsy kontrak of permanent…boeta dan begin die eise en ongelukkigheid oor hoe onregverdig die werkgewer is. Dis soo sad want daar so baie ander wat onder erger omstandighede werk en tevrede is met die minimum loon en lang urr!!!!!!!!!!!!!!!!

Waarheid ·

Dankie vir werkers en mense wie instaan en werk. Kry eerder dan die wie wil werk en help. Arme diere kannie praat en hulself verdedig nie en wat nog hul kos moet kry. Skande op skande en daar is nog sekeres wie wat wil werk. Ander kan gerus maar gaan. Raak woedend veral wanneer by onskuldige diertjies kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.