Dieretuin-veiligheidsmaatreëls opgeskerp ná waarskuwing

Leeu in die Pretoriase dieretuin Foto: La Chiquita via gauteng.net

Leeu in die Pretoriase dieretuin Foto: La Chiquita via gauteng.net

Die Pretoriase dieretuin het Sondag gesê hy het sy veiligheidsmaatreëls opgeskerp ná twee rooftogte in die omgewing.

“Ons is bewus van twee misdaadverwante voorvalle wat met besoekers buite die dieretuin verband hou,” het Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, in ‘n verklaring gesê. “Alle maatreëls is in plek om enige moontlike verdere voorvalle te verhoed.”

Allenby het die verklaring uitgereik in reaksie op ‘n kennisgewing van die Amerikaanse ambassade waarin Amerikaanse toeriste gewaarsku word om nie die dieretuin te besoek nie, uit kommer vir hul veiligheid.

Allenby het Sondag gesê een van die twee rooftogte het verlede jaar in Oktober plaasgevind en ‘n tweede voorval drie weke gelede. Al twee voorvalle het glo buite die dieretuin plasgevind toe besoekers, wat besluit het om nie by die dieretuin se aangewese parkeergebied te parkeer nie, na hul motors teruggestap het.

In die mees onlangse voorval het Suid-Afrikaners glo “’n hele ent van die dieretuin af” parkeer en na hul motor teruggestap. Daar was geen wapens betrokke nie en die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.

Volgens Allenby is geen voorvalle binne die dieretuin aangemeld nie.

Die ambassade het in sy verklaring gesê “’n aantal besoekers aan die dieretuin was slagoffers van gewapende rooftogte”. “In die lig van hierdie voorvalle raai die ambassade alle Amerikaners af om die Pretoriase dieretuin te besoek totdat die veiligheidsituasie by die dieretuin verbeter,” lui die verklaring.

Allenby sê dit is “jammer” dat die dieretuin uitgesonder word wat misdaad betref en dit is nog nie duidelik wat spesifiek daartoe gelei het dat die ambassade die kennisgewing uitgereik het nie. Hy het gesê die polisie en metropolisie doen nou ook meer patrollies in die gebied. Veiligheidsmaatreëls in die dieretuin sluit sekuriteitspatrollies, kringtelevisiekameras en veilige parkering in.

“Die nasionale dieretuin maan besoekers steeds om waaksaam te wees oor hul eiendom, net soos wat mens enige ander plek in die wêreld sou wees,” het Allenby bygevoeg.

Lees ook:
Amerikaners gewaarsku teen PTA-dieretuin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Collin ·

Uhm… Dit vat Amerika om te kla voordat stappe geneem word… Sê baie van ons eie reg tot veiligheid.

Drieks ·

Ek moet weer Desember/Januarie buitelanders Gauteng gaan wys. Dit verskriklik. Elke keer is ons so bang, want jy voel die onveiligheid om jou, en dit by toeriste aantreklikhede. Ek moet alweer Carlton Centre toe, mense dit so mooi da bo op die 50ste verdieping, maar onder in die mall en straat bid jy net heeltyd. Kan ons land nie net respek hé vir mekaar nie.

Rita ·

Pretoria Dieretuin, maak asseblief die plek sommer skoon ook dit is ongelooflik vuil daarbinne!! Rommel word rondgestrooi en lyk baie sleg!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.