ʼn Man het Dinsdagoggend glo die Diesel-klerewinkel in Cavendish Square-winkelsentrum in Claremont, Kaapstad, aan die brand gesteek.
Kapt. Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Sapa gesê die man het die winkel betree, brandstof op die vloer gegooi en dit aan die brand gesteek.
Volgens Van Wyk kon die personeellede daarin slaag om ongedeerd uit die winkel te kom.
“Veiligheidsbeamptes het die verdagte aangekeer nog voordat hy uit die winkelsentrum kon ontsnap,” het Van Wyk gesê.
Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting.
Wilfred Solomons-Johannes, ʼn woordvoerder van die stad se rampsbestuurseenheid, het aan Maroela Media bevestig ʼn brand het omstreeks 09:30 in die winkel uitgebreek. “Oormatige hitte van die brand het veroorsaak dat die vertoonvenster gebars het,” het Solomons-Johannes gesê. “Die brand is egter gou deur die winkel se sprinkelstelsel geblus.”
Die stad se brand- en reddingsdienste het die toneel beveilig, en geen beserings is aangemeld nie.
Wanneer word bls 3 se berigte van 13 & 14 April vervang ?