Dieseltenks gesteel tydens kaping

Argieffoto

Die polisie in Gqeberha (Port Elizabeth) vra nou lede van die publiek om op die uitkyk te wees vir verskeie aluminiumdieseltenks wat Donderdag tydens ’n vragmotorkaping gesteel is.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, sê ’n groep van sowat tien verdagtes het omstreeks 15:40 op ’n wit Hino-vragmotor op die Addoweg-afrit op die N2 in Markman toegeslaan en die vragmotor gekaap.

Die vragmotor het na bewering op die R335-afrit (Addoweg) in die rigting van die Markman-nywerheidsgebied gedraai, toe ʼn wit VW Polo, ʼn wit Toyota Tazz en nog ʼn onbekende voertuig die pad versper het.

Die insittendes van die motors het vuurwapens op die vragmotorbestuurder gerig en hy is gedwing om na Ikamvelihle te ry. Hiér is die vragmotorbestuurder en sy passasier in die Toyota Tazz gedwing. Die verdagtes het met albei in die motor weggery en die vragmotor is agtergelaat.

Die vragmotor is later verlate in Ou Uitenhageweg gevind. Daar was geen teken van sy vrag van 16 palette met aluminiumdieseltenks nie.

Beetge sê die waarde van die dieseltenks is nie in dié stadium bekend nie. Hy doen ’n beroep op mense met inligting rakende die gesteelde dieseltenks om sers. Welile Ndzima van die provinsiale polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad by 071 352 4782 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Genade maar dit raak nou belaglik! Voorsien Swaarvoertuig bestuurders met wapens dat hul hulself kan verdedig teen hierdie sinneloosheid!

Aai ·

Die gate is klaar gegrou vir tanks hulle gaan onder die grond geberg word en maatskappy drywers gaan 5l op ‘n slag aan hulle verkoop vir ‘n paar rand en hulle stoor dit in tanks.

Jacobus ·

Klink vir my na vragmotor dieseltenks. Raai seker 300- 500 liter tenks.

Herman ·

Hoe lyk die tanks? Is dit nie beter om die foto van die tank te plaas as n foto van n pad. Ek weet nie waarvoor om op die uitkyk te wees nie.

Waarnemer ·

Herman,die vragmotor dieseltenks is soort van vierkantig,kan ongeveer 300 na 500 liter diesel neem en het n gat bo waar diesel ingetap word en n gat aan die onderkant9soms aan die agterkant)waaruit die diesel dmv n dieselpompie na die voertuig se ontbrandingskamer verplaas word…..net om jou te help om dit uit te ken.

Waarnemer ·

Die polisie moet by die skrootmetaal handelaars in Gber….wat ookal(Port Elizabth) gaan kyk vir daardie aluminium tenks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.