Dieselvoertuie in SA: Is daar rede tot kommer?

Foto: Pixabay

Sedert Volkswagen se internasionale dieseluitlaatgasse-skandaal die motorwêreld in 2015 geruk het, heers baie onsekerheid oor die langtermyntoekoms van dieselvoertuie in Suid-Afrika én wêreldwyd. Maar dié vervaardiger meen daar is geen rede tot kommer nie – en dat dieselvoertuie steeds ʼn sterk deel van sy internasionale strategie bly.

Motorvervaardigers wêreldwyd is onder die loep sedert dit aan die lig gekom het dat Volkswagen motors met onwettige sagteware verkoop het wat geprogrammeer is om uitlaatgasbeheerkontroles aan te skakel tydens laboratoriumtoetse en dit weer af te skakel wanneer die motor bestuur word.

Ondersoekbeamptes het destyds bepaal dat die voertuie meer as 40 keer die wetlike beperking op stikstofoksied uitlaat, wat tot asemhalingsprobleme vir mense kon lei. Hoewel die motorvervaardiger in 2017 ʼn plan aangekondig het waar hy meeste van die dieselvoertuie sou herstel wat betrokke was in die skandaal, het dié opspraakwekkende saak tot gevolg gehad dat voornemende motorkopers – en diegene wat tans dieselvoertuie besit – in onsekerheid gedompel is oor die toekoms van dieselvoertuie en die prosesse wat in plek gestel is om te verseker dat só ʼn skandaal nooit weer gebeur nie.

Veral op sosiale media is talle gesprekke oor die toekoms van dieselvoertuie in die land, en meeste van dié gespreksleiers hou voornemende motorkopers onder die indruk dat dieselaangedrewe motors geen toekoms het nie, veral nie in Suid-Afrika nie. Verder is daar ook talle gerugte dat dieselvoertuie teen 2021 nie meer in Suid-Afrika vervaardig en verkoop sal word nie.

Matt Gennrich, Volkswagen se algehele bestuurder van kommunikasie, sê dié gerugte is onwaar.

Gennrich sê hoewel motorvervaardigers gesprekke het oor die langtermyntoekoms van dieselvoertuie in Suid-Afrika, sluit dié gesprekke aan by die gesprek oor die volhoubaarheid en toekoms van voertuie wat met fossielbrandstof aangedryf word. Dit beteken volgens hom egter nié dat dieselvoertuie in Suid-Afrika in die nabye toekoms uitgefaseer gaan word nie.

“Die Volkswagen-skandaal het tot ʼn groot mate daartoe bygedra dat dieselvoertuie wêreldwyd onder die loep gekom het,” verduidelik hy. “Uit ʼn Volkswagen-perspektief, bly diesel steeds deel van die vervaardiger se strategie vir die volgende paar dekades – en dieselmotors gaan vir dieselfde tydperk nog vervaardig word en beskikbaar wees in Suid-Afrika. Daar is ʼn sekere histerie rondom die hele diesel-onderwerp en ook internasionale stede wat aandui dat hulle dieselvoertuie wil verban, maar dit is nie iets wat in die volgende drie dekades sal gebeur nie, en veral nie in Suid-Afrika nie.”

Hy sê dieselvoertuie sal waarskynlik eers van die radar verdwyn wanneer fossielbrandstof nie meer vervaardig kan word nie. Volgens hom is dít die werklike probleem wat Suid-Afrika in die gesig staar: ʼn tekort aan infrastruktuur en probleme met betrekking tot kragopwekking veroorsaak dat die land ʼn agterstand het met nuwe tegnologie soos elektriese motors.

Volkswagen (Foto: Facebook)

Gennrich sê hoewel elektriese motors die uiteindelike doel wêreldwyd is, is daar geen planne om bloot dieselvoertuie uit te faseer terwyl petrolvoertuie steeds vervaardig word nie. “Die gesprek moet eintlik gaan oor wat relevant is vir watter lande, en in Suid-Afrika staar ons ongelukkig nog groot probleme in die gesig met betrekking tot kragopwekking. Fossielbrandstof sal nog jare lank ʼn deel van motorvervaardigers se strategie bly omdat ons nie noodwendig op die regte plek is om net elektriese motors in te faseer nie.”

Gerugte dat dieselmotors binne so vroeg as die volgende twee of drie jaar uitgefaseer gaan word, is dus ongegrond en nié akkuraat nie, sê Gennrich.

Hy sê diegene wat in die onlangse verlede of nabye toekoms ʼn dieselvoertuig aangeskaf het of wil aanskaf, het geen rede tot kommer nie. “Daar is definitief ʼn beweging om voertuie anders aan te dryf in die toekoms deur nié meer van petrol of diesel gebruik te maak nie. Die grootste gedeelte van hierdie gesprek gaan oor elektriese voertuie, en hoewel elektriese voertuie in Suid-Afrika beskikbaar is, was dit nog nooit prakties nie. Die redes hiervoor is eenvoudig: Dis moeiliker om lang afstande af te lê weens die kort batterylewe, en die voertuie is baie duur as gevolg van duur tegnologie wat gebruik word.

“Nuwe tegnologie word egter gereeld bekend gestel en elektriese voertuie sal waarskynlik in die nabye toekoms meer bekostigbaar word én boonop funksies soos ʼn langer batterylewe hê. Ander moontlikhede word ook oorweeg, soos onder meer die gebruik van sogenaamde brandstofselle – ʼn toestel wat elektrisiteit opwek deur middel van ʼn chemiese reaksie en gebruik kan word om voertuie aan te dryf. Maar geen van hierdie gesprekke beteken dat daar nou rede tot kommer is nie.”

Met die hedendaagse tegnologie soos onder meer Volkswagen se TSI-enjins en Ford se Ecoboost-enjins, word die brandstofverbruikverskille tussen petrol en dieselvoertuie min of meer dieselfde. Dieselenjins is nie noodwendig meer uitskieters soos in die verlede nie.

Gennrich sê motorkopers koop nie meer petrol of dieselvoertuie op grond van brandstofverbruik nie, maar op persoonlike bestuurstyl. “Aan die einde van die dag is dit ʼn persoonlike keuse wat veral gebaseer word op ʼn bestuurder se bestuurstyl. Diesel bly steeds met vandag se innoverende tegnologie in meeste gevalle meer ekonomies as petrol-aangedrewe voertuie, hoewel die nuwe tegnologie dit in sommige gevalle ewenaar en deesdae selfs troef. Maar dis deesdae nie meer ʼn slimmer of ʼn dommer keuse om ʼn dieselvoertuig te koop nie – dis eenvoudig ʼn keuse om ʼn dieselvoertuig te ry omdat jy van die verrigting van die motor hou.”

Gennrich sê volgens Suid-Afrikaanse verkoopsyfers is petrolvoertuie steeds meer gewild as dieselvoertuie – en dit het in die laaste dekade of twee glad nie verander nie. “Beweeg ons in ʼn rigting ver in die toekoms dat daar moontlik glad nie meer petrol- of dieselvoertuie gaan wees nie? Beslis. Maar in dié stadium is ander opsies vir Suid-Afrika nog nie beskikbaar nie. En vir die volgende drie dekades gaan motorvervaardigers steeds voort soos daar in die verlede gemaak is.”

Lees meer oor Volkswagen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

willie ·

Ek was tot laasweek ñ trotse eienaar van ñ VW diesel voertuig! Na hul omstrede voorkeur aan ras in SA konteks verstaan ek nou waarom hulle nou ook tegniese probleme ervaar om geloofwaardig te wees!

Attie ·

Mnr Gennrich vir in geval jy die boodskap lees, dit gaan nie oor persoonlike bestuurstyl nie maar ekonomiese brandstof / petrol gebruik. My Mazda CX5 2.2l de Active (diesel) gee my nou 6.5L /100km . Wie kan bekostig om ‘n kar te koop wat duur op brandstof / diesel is met die afstande wat ons ry en spitsverkeer. Die automaties ‘start/stop ‘ is ‘n wenner.

Janneman ·

Attie, daai verbruik op n diesel is glad nie wonderlik nie. My petrol aangedrewe meededingertjie is bietjie beter op brandstof. Dan lawaai dit ook nie, dit maak nie swart rook nie, dit is ook nie elke 10k km in garage vir diens nie, ek kan n vrag laai en dit sal nog gaan en nie weg val soos jou diesel nie.

Net jammer dit kan dalk afbrand, maar ek sal veel eerder my petrol Kuga ry, as wat ek die omgewing verniel met n trekker op n teerpad.

Rupert Ashford ·

Korreksie, elektrisiteitsvoorsiening is wereldwyd in ‘n krisis. Onbetroubare bronne kan nerens lewensvatbaar wees sonder reuse subsidies wat van belasting moet kom nie en die fiksasie met huidige wind en sonkrag tegnologie (en elektriese motors) veroorsaak dat fondse wat nodig is om ware alternatiewe en skoner bronne te ontwikkel nie beskikbaar gemaak word nie.

Ben Niemand ·

Vir die meer petrolkoppe hier, Google bietjie “RCCI engine”. Baie interessante konsep…

Heidi Feistel ·

Hier in Duitsland word alle verkope en vervaardiging van diesel-aangedrewe voertuie gestaak vanaf 2020

Vraagteken ·

Hoekom koop Suid-Afrikaners diesel? Dit is verouderde, vuil tegnologie. Jou perol is baie skoner en behalwe vir CO2, is baie minder besoedellend.

Hoekom, volgens VW, is elektriese motors die ‘toekoms’? Hulle krag kom van kragstasies af wat minder ‘efficient’ as jou standaard petrol engine is, om nie eers te praat van ‘network losses’, ‘vehicle losses’, ens. nie. En moet asb nie daardie bog-storie van solar en wind vertel nie; dit is gemors.

Piet Pompies ·

Ons het in 2009 ‘n VW Touran 1.9TDi gekoop, dit was my eerste diesel voertuig, in 2014 het ek hom vervang met ‘n nuwe VW Touran 2.0TDi en het die voertuig nog steeds. My besluit in 2009 om na diesel oor te gaan was vir beter brandstof verbruik. Die resultate is uitstekend en as bonus het ons nou ‘n gesinsvoertuig wat lekker stap op die lang pad, nie skrik vir opdraendes en met cruise control aan verbeter ek al my vorige rekords van goeie brandstof verbruik. Dat ‘n diesel voertuig raas is nie heeltemal waar nie, met klank demping is die rit aangenaam en stil. Albei voertuie rook ook nie en iemand wat beweer modern diesel voertuie rook, rook dalk self iets. Albei die voertuie het ‘n instandhoudingsplan en ‘n goeie waarborg wat onbeplande kostes vanaf 2009 tot op hede nul is. Ons dorp voertuie (Citi Golf en Caddy LDV) is almal petrol voertuie wat uitsluitlik vir kort afstande gebruik word, hier is goeie brandstof verbruik gegrond op ekonomiese bestuur. Sal my olie brander ry tot hulle van die mark verdwyn.

Nico ·

Elektriese motors is gewild onder omgewings bewustes, maar vir my bly dit n narigheid om bloot aan te dink. Ja dit is so dat die gebruik van “Fossil Fuels” uitfasseer word in Europa en eerste (wêreld) lande. Hulle het alreeds die infrastruktuur waar jy jou elektriese motortjie kan inprop vir n “charge”. Ek kom uit n era van V6, V8 petrol enjins. Ai as ek aan die hoendervleis gevoel dink wat jy kry deur te luister na die dreuning van n V formaat petrol enjin, dan kan ek nie verstaan waarom mense in die eerste plek luukse diesel voertuie begin koop het nie. Ja ek verstaan jy kan verder ry met n tenk diesel, maar wanneer jy die V6 se versneller trap en jy die meer-klep enjin hoor en wringkrag voel dan is dit net my generasie wat dit blykbaar nog waardeer. Ek gee toe, diesel motors trek lekker vd wegtrek af en jy kom verder op n tenk. Net jammer dat die tipiese enjin geknetter steeds daar is, al is dit deesdae ten minste stiller as 10 (jaar) gelede. Ek sal in n elektriese motor ry slegs as iemand een vir my gee. Ek wil tog nie tussen Beaufort-Wes en Laingsburg soek na n elektriese laai stasie wanneer die liggies skielik afgaan nie . “Fossil Fuels”, (brandstof uit olie, gas en steenkool) gaan nog lank met ons wees in SA, so gelukkig kan my generasie ontspan. Ons kan nog ons V6 petrol enjins ry en die klank daarvan geniet.

Tiaan ·

Diesel-gehalte in ons land is uiters onbetroubaar. Vulstasie-eienaars maak nie gereeld hul dieseltenks skoon nie. Die gevolg is dat die dieselkomponente soos turbo, pomp, injektors groot risiko loop om met vuil diesel onklaar te raak. Ek het al twee turbo’s so op my Hilux diesel turbo verloor – elkeen wat in die hof besleg moes word omdat Toyota nie aanspreeklikheid wou aanvaar nie agv vuil diesel. Nee- nooit weer ‘n diesel voertuig nie. Ons diesel kan nie met die Europese standaarde vergelyk word nie. Dieselvoertuie is agv die dieselbrandstof ‘n “no – no!!!”

chrisjan ·

Gooi n botteltjie 2 stroke olie by elke 3de tenk.diesel. dit brand alles skoon. Ek gebruik dit al jare en my ou diesel het geen kwale nie.

Piet Pompies ·

Two stroke mengsel werk nie op moderne diesel enjins, hier gaan jy groot skade kry.

chrisjan ·

Jy is reg, Piet Pompies, dit werk net op die ouer enjins wat nog 500ppm diesel ook kan gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.