Diewe besteel drankwinkel deur tonnel

Die gat in die Shoprite LiquorShop se vloer (Foto: Verskaf)

Diewe het ’n tonnel tot binne-in die Shoprite Liquorshop in die Newton Junction-winkelsentrum in Johannesburg gegrawe en drank ter waarde van R300 000 gesteel. Hulle het glo ’n gat deur die betonblad van die winkel gemaak om só toegang tot die winkel te verkry.

Die bestuurder van dié drankwinkel het Vrydagoggend, toe sy die winkel weer vir die eerste keer sedert die instel van die afsondering betree, op die gat in die winkel se betonvloer afgekom. Die drank is glo deur dié gat verwyder.

Volgens die kringtelevisiestelsel in die winkel het die diewe reeds ʼn week tevore die winkel deur die gat in vloer betree en whisky, brandewyn, jenewer, sider, wodka en bier gesteel.

Beeldmateriaal van ’n sekuriteitskamera wys hoe drie diewe in die winkel drank buit. Daar was glo nog diewe in die tonnel wat gehelp het om die groot hoeveelheid drank deur die tonnel te smokkel.

Die verkoop van drank was sedert die instel van die staat van afsondering verbied.

Patti Quinton, die Shoprite-groep se woordvoerder, sê die winkel was van buite af beveilig om diefstal te voorkom. Sy sê die bestuurder is Vrydag na die winkel om voorbereidings te tref vir die heropening vandag (Maandag), noudat drankverkope weer toegelaat word.

Quinton sê die diewe het deur ʼn stormwaterpyp tot onder die winkel gevorder en vandaar ’n tonnel deur die beton van die winkel gegrawe.

Sy sê dit is nog onduidelik hoe die diewe geweet het waar presies om die tonnel te maak. Hulle weet ook nie hoe lank die diewe aan dié tonnel gegrawe het nie.

“Hulle het wel tyd gehad om ’n paar keer terug te gaan vir nog drank. Die tyd het hulle egter ingehaal en hulle kon nie die winkel leeg steel nie,” sê Quinton.

Volgens Oswald Meiring, verliesbeheerbestuurder van die Shoprite-groep, wys veiligheidskameras dat die diewe die eerste keer op 21 Mei toegang tot die winkel gekry het. Dit is ’n week voordat die gat ontdek is.

Shoprite het ’n beloning van R50 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die diewe kan lei. Dié beloning is wel onderhewig aan sekere bepalings.

Mense met inligting kan 0800 118 879 skakel of ’n wenk stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tokkel ·

Stuur die rekening vir die regering, Shoprite, want orals word dit gesmokkel asgevolg van hul swak besluite.

Sarel ·

Destydse Tonnelroof ( Bank Roof) nooit opglos sover ek weet nie. Wie onthou daai een nog:

Sarel ·

Dranksmokkel ??? Nie net gedurende ” Lock Down ” nie. Gaan kyk maar vir die Sjibeens.

Anel ·

Soos hulle sê:” inside job “. Dis hoe hulle geweet het waar om die tonnel te grawe. Het mos baie tyd gehad. Maar hoe is dit dat niemand die kappery gehoor het nie?

daniel ·

Dit blyk n “Inside job ” te wees. Wie anders sal die planne vir die uitleg he?

Ellie ·

Waar is die Alarm? Hoe kan ‘n drankwinkel sonder ‘n alarmstelsel wees?? Beweging binne winkel, moet mos die alarm laat skree!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.