Diewe besteel PTA-kinderhuis

Die ingang van die President Kruger Kinderhuis. Foto: Verskaf

Die ingang van die President Kruger Kinderhuis. Foto: Verskaf

Personeel by die President Kruger Kinderhuis, die oudste kinderhuis in Pretoria, moes Woensdagoggend vinnig ʼn plan maak om die kinders by hul skole te kry nadat hul enigste twee bussies, en verskeie van die kinders se fietse, gesteel is.

“Een van ons drywers het vanoggend by die motorhuis aangekom en gesien dit is besteel,” het Retha van der Merwe, ʼn bemarker van die kinderhuis, Woensdag aan Maroela Media gesê. “Die inbraak het heel waarskynlik in die vroeë oggendure plaasgevind. Niemand het iets gesien of gehoor nie.”

Die personeel moes inderhaas ʼn plan beraam om die 63 kinders by hul onderskeie skole te kry. “Die kinders wie se skole naby die tehuis is, het skool toe gestap. Die res is in personeel se motors en met twee bussies, wat Kilnerpark Sekuriteit en Laerskool Nellie Swart vir ons geleen het, na hul skole geneem. Van die kinders was darem net ʼn uur laat vir skool.”

Van der Merwe het gesê dit is hartseer dat die mensdom só ver sal daal om ʼn kinderhuis te besteel. “Buiten die bussies en fietse wat gesteel is, is ons nog nie in die stadium bewus van enigiets anders wat gesteel is nie. Ons is net baie dankbaar dat niemand seergekry het nie.”

Een van die bussies is reeds met behulp van ʼn ingeboude opsporingstoestel tot by ʼn hof in ʼn dorp in Mpumalanga opgespoor. Dit bussie is egter nog nie terug by die tehuis nie, en hulle weet nog nie in watter toestand dit is nie.

Die ander bussie is nog nie opgespoor nie. Dit is ʼn wit Toyota Hi Ace-minibus met die registrasienommer VXH975GP.

Die kinderhuis, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog sy deure oopgemaak het, het in Oktober sy 75ste bestaansjaar gevier. Die kinders wat daar versorg word, is tussen twee en 18 jaar oud. Die kinders word by die huis op grond van ʼn hofbevel geplaas as gevolg van verskeie redes soos gesinsgeweld, ouers se verslawing aan afhanklikheidsmiddele, molestering, tekort aan versorgingsmiddele en ander traumaverwante oorsake.

“Ons is baie afhanklik van vervoer en doen nou maar krisisbeheer. Die veiligheidsmaatskappy en laerskool het hul bussies aan ons beskikbaar gestel om in ʼn noodgeval te gebruik,” het Van der Merwe bygevoeg.

Die tehuis is afhanklik van skenkings en borge. Die tehuis het Woensdag ʼn kennisgewing aan hul gereelde borge gestuur om hulle van hul nood in te lig. “Ons moet so gou as moontlik ʼn plan beraam om die kinders se fietse en die bussie te vervang. Enigiemand wat wil help kan my by 012 332 1366 skakel,” het sy gesê.

Die Villieria-polisie ondersoek die diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanlie ·

Regtig! Ek dink die regering moet ‘n slag van hulle sagte stoele afklim en uit hulle veilige omhulsels beweeg en kyk wat regtig in die land aangaan……

Theresa ·

Julle volslae gemors. Hoop die ergste tref julle misbaksels. Julle is patete wat altyd net die maklikste uitweg kies ongeag wie deur julle optrede swaar geraak word.

Retha ·

Trek dit van jul tax af!
Ek het dit op fb geshare met al my kontakte asook by my kollegas,
hoop ons gaan genoeg vir julle insamel.
Sterkte en God’s rykste seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.