Diewe kies verkeerde man om te beroof

Die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

Twee verdagtes is vasgetrek nadat hulle Donderdag die verkeerde man gekies het om te beroof nadat dié ʼn ontrekking by bank gemaak het.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê ʼn polisiebeampte wat nie aan diens was nie het omstreeks 10:20 geld by ʼn bank in die Bluff in Durban gaan trek, waarna hy huis toe gery het.

“Hy het sy motor in die oprit na sy huis parkeer. Terwyl hy in sy huis was, het hy opgemerk ʼn swart VW Polo, met twee insittendes, hou agter sy motor stil,” het Gwala gesê.

“Een van die verdagtes het met ʼn vuurwapen in sy huis ingestorm en op die geld aangedring wat hy onttrek het. Die verdagte het die beampte deursoek en ʼn bedrag geld uit sy sak gevat. Die verdagte het terug na die Polo gehardloop en die verdagtes het weggery.”

Die beampte het direk daarna in sy motor geklim en die verdagtes se voertuig agternagesit. ʼn Skietery het by die hoek van Austervilleweg en Qualitystraat in Wentworth uitgebreek. Die bestuurder van die Polo het beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn rooi Polo gebots en tot stilstand gekom. Die rooi polo het omgeslaan.

“Twee verdagtes, onderskeidelik 36 en 41 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem. Die 41-jarige het ʼn skietwond aan sy skouer opgedoen en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.”

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool, ammunisie en die verdagtes se voertuig.

Die verdagtes moet volgende week in die Wentworth-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die verdagtes se motor. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Her

Another day in the “WILD WEST!”

Oom Jaco

Mooi so! Indien jy in staat is, veg terug! Ons is nie almal weerlose slagoffers in hierdie oorlog teen misdaad nie!

Potlood

Dis soos ‘n VW advertensie in ‘n movie :-)

Johan

Goeie streng optrede deur die lid. Maar nou het ek ‘n vraag en ek hoop die regte mense met harde feite kan antwoord: Die lid was van diens af, dus siviel. Hy het hulle agterna gesit en op hulle gevuur. Daar was seker kruisvuur, te verstane. Indien dit met ‘n siviele persoon (ek) gebeur het, sou die SAPS se optrede dieselfde gewees het? Maw nie sy (my) wapen ingeneem het vir balistise toetse nie? Daar is wel beslag gele op die rower se wapen. Waar stop my optrede as ‘n siviele persoon in so situasie? En wat kan ek verwag… Lees meer »

marous

En roekelose bestuur ..