Diewe kies verkeerde man om te beroof

Die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

Twee verdagtes is vasgetrek nadat hulle Donderdag die verkeerde man gekies het om te beroof nadat dié ʼn ontrekking by bank gemaak het.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê ʼn polisiebeampte wat nie aan diens was nie het omstreeks 10:20 geld by ʼn bank in die Bluff in Durban gaan trek, waarna hy huis toe gery het.

“Hy het sy motor in die oprit na sy huis parkeer. Terwyl hy in sy huis was, het hy opgemerk ʼn swart VW Polo, met twee insittendes, hou agter sy motor stil,” het Gwala gesê.

“Een van die verdagtes het met ʼn vuurwapen in sy huis ingestorm en op die geld aangedring wat hy onttrek het. Die verdagte het die beampte deursoek en ʼn bedrag geld uit sy sak gevat. Die verdagte het terug na die Polo gehardloop en die verdagtes het weggery.”

Die beampte het direk daarna in sy motor geklim en die verdagtes se voertuig agternagesit. ʼn Skietery het by die hoek van Austervilleweg en Qualitystraat in Wentworth uitgebreek. Die bestuurder van die Polo het beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn rooi Polo gebots en tot stilstand gekom. Die rooi polo het omgeslaan.

“Twee verdagtes, onderskeidelik 36 en 41 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem. Die 41-jarige het ʼn skietwond aan sy skouer opgedoen en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.”

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool, ammunisie en die verdagtes se voertuig.

Die verdagtes moet volgende week in die Wentworth-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die verdagtes se motor. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Oom Jaco ·

Mooi so! Indien jy in staat is, veg terug! Ons is nie almal weerlose slagoffers in hierdie oorlog teen misdaad nie!

Johan ·

Goeie streng optrede deur die lid. Maar nou het ek ‘n vraag en ek hoop die regte mense met harde feite kan antwoord: Die lid was van diens af, dus siviel. Hy het hulle agterna gesit en op hulle gevuur. Daar was seker kruisvuur, te verstane. Indien dit met ‘n siviele persoon (ek) gebeur het, sou die SAPS se optrede dieselfde gewees het? Maw nie sy (my) wapen ingeneem het vir balistise toetse nie? Daar is wel beslag gele op die rower se wapen. Waar stop my optrede as ‘n siviele persoon in so situasie? En wat kan ek verwag as ek dieselfde sou optree soos die lid (van diens af).

se maar net ·

Ek stem saam Johan. Sou ek as ‘n siviele ‘n rower raakskiet wat wegjaag, gaan ek van poging tot moord aangekla word want my lewe was mos nie in gevaar nie. Selfde geld vir as jy ‘n inbreker in jou huis skiet. Die wet vereis dat jy slegs ‘n vuurwapen mag gebruik indien jou lewe in gevaar is – of verstaan ek die wet verkeerd

HPV ·

Johan, baie goeie vraag. Ek was in so ‘n situasie, moes drie dae in die hof deurbring. Ek glo al wat my gered het was die feit dat ek die man in die been geskiet het en hy oorleef het. Neem ook in ag, dit was selfverdediging, die ou het my met ‘n mes aangeval.

JSG ·

Sovêr ek verstaan is ‘n polisie beampte nooit van diens. Miskien nie besig met ‘n skof, maar nog steeds ‘n polisie beampte. Net reserviste is van diens indien nie aan diens by die ingedeelde polisie stasie.

realis ·

Alles gaan vel kleur nie watter beroep of aan diens of nie.

annie coetzee ·

n Polisie beampte kan hom of haarself ipso facto aan diens plaas onder die omstandigheid
Hulle is basies nooit van diens.

Hennie ·

Enige mens mag n rower agter na sit. Dis jou reg, as die rower dan op jou begin skiet dan is dit self verdeediging

Gys ·

As dit nou n gewone persoon van die publiek gewees het wat dit gedoen het , sou so n persoon onmiddelik in hegtenis geneem word vir rig van vuurwapen , poging tot moord en af vuur van wapen in munisipale gebied. Selfs die media se opskrif sou ook anders gewees het. Die AF diens polisie beampte het geen reg gehad om op die rowers te skiet nie. Volgens die compatency training wat ons moet leer , staan daar dat as jou lewe nie in gevaar is nie mag jy nie op hulle skiet nie. Die AF diens polisie beampte het die rowers gevolg in sy eie motor.Deur sy roekelose skietery kon n dwaal koeel n onskuldige persoon getref het. Deur om op die rowers te skiet en hulle agterna te sit het die rowers teen n onskuldige persoon se voertuig gebots.

Polisie Lid ·

Jy weet regtig nie waarvan jy praat nie. Die van diens lid het sy werk gedoen. As jy nie iets goed kan se nie, bly dan eerder stil. Jy is duidelik die tipe persoon wat nooit iets goeds kan se nie. Kom by!!!!

Oopkop ·

Die arme onskuldige mense wat hierby geraak word. Kyk diewe moet maar kry vir hulle. Geen genade vir hulle nie, maar mens moet nie ander se veiligheid bedreig nie.

jammer om te sê ·

as die polisie beampte homself tydens die roof, up and close contact verdedig het, pleks van die rowers in n beboude gebied met n vuurwapen te gaan aanval, was die rooi polo van n onskuldige padgebruiker nie beskadig en dié insittendes dalk beseer maar defnitief getraumatiseer nie.

Grappie ·

As die man wie geroof was n siviele witman was het hy klaar in die tronk gesit vir moord en die twee rowers was los op R300 borg elk. Die rowers se families sou die witman se huis ge-petrolbom het en sy gesin met die dood gedreig het en hom as n rassis uitgemaak het. Lekker ou RSA.

Stuiwer ·

Sjoe, wat ‘n ongelooflike ryk verbeelding het party mense nie. Die berig sê nie of die polisiebeampte wit of swart is nie. Wat maak dit tog saak? Haal bietjie julle rassistiese brille af, dan sal ons almal in hierdie land in vrede met mekaar kan lewe.

Afrikaner ·

@Stuiwer—Sekere mense in die spektrum van kleur word gebrandmerk in Suid-Afrika. Miskien moet jy jou bril opsit en die realiteite begin raaksien. Daagliks sien jy dit in die media soos vandag by die Weskaapse boer (Niemand is doodgmaak nie)wat nie bortog kry nie maar moordenaars en verkragter kry borgtog. Kan jy die kleur van die spetrum raai ?

Exterminator ·

Die volgende poste bly 24/7/365 – MAW as jy van diens af gaan beteken dit nie jy is nou Jan alle man nie.. jy bly n:-

Polisieman
Verkeers Konstabel
Paramedic
Brandweerman
Dr
Verpleegster

IK ·

Of ‘n magtelose wit slagoffer van misdaad in Ramp-phosaland.

Cherokee ·

Netjiese bydrae Exterminator. Jy kon ook bygevoeg het ‘kommentator’.

liz ·

Ek moet vra – gaan die Polisie beampte nou van poging tot moord aangekla word?

Polisie Lid ·

Onthou, ten enige tye waar n SAP lid sy vuurwapen afvuur word, word n dossier geopen en sy wapen word ingestuur vir ballistiese toetse. Wanneer die dossier hof toe gestuur word vir beslissings word aanbevellings gemaak. Daar word met strenger oe na n polisie dossier gekyk as na n Jan-alle- man dossier.

Poppie ·

En niks word ook verder gesê van die insittendes in die Rooi Polo nie. Hoop hulle is ongedeerd.

Wayne ·

@Exterminator. Jy is 100% korrek . Hy bly n polisiebeampte van en aan diens . Wel gedaan Polisieman . En aan almal wat so gal braak : Waar was sy lewe NIE in gevaar nie ? Hulle het op hom geskiet !!! Dit klink so bietjie gevaarlik . Gee krediet waar dit toekom asb . Hy waag sy lewe om twee kriminele van die straat af te haal

Julie ·

Nou wil ek ‘n storie vertel – ‘n egte geval van ‘n Oos-Kaapse polisieman wat gevonnis is omdat hy ‘n transitorower -wat probeer weghardloop – doodgeskiet het. Die storie is dat die polisie op die toneel was en daar was eers vermoed dat die rower ongewapen was, maar toe hy omdraai om weg te hardloop en geskiet word, het hulle wél ‘n wapen aan hom gevind. En die man se kollegas wou nie vir hom in die hof getuig nie – mens kan maar net spekuleer dat ras daar ‘n groot rol gespeel het … tel 2+2 bymekaar…

koos1 ·

Net bietjie inligting soos mense hierbo gevra het.
1. Die SAPS beampte mag homself aan diens plaas.
2. Die beampte se wapen word soos enige SAPS wapen wat aan diens gebruik word, ingeneem vir balistiese toetse, dit word gedoen om getuienis aan die hof te kan voorlê.
3. Daar word kriminele sake geopen teen alle partye, SAPS lid ingesluit.
4. Die SAPS lid het 100% korrek opgetree wat ek uit die berig kan vasstel. Hy mag geweld gebruik om lewe en eiendom te beskerm.
5. Die hof moet besluit of die sake teen watter partye moet voortgaan.

Hierdie berig is agter nie voledig genoeg om besluite oor te maak nie.
Ek wil net sê dat dit baie moed van die lid gevat het om die rowers man alleen aan te vat, en hy mag gerus maar komplimente hiervoor ontvang!

Geregtigheid ·

@Koos1—-Mag ons almal as landsburgers nou ook met geweld ons eiendom beskerm of mag dit net wees vir polisiemanne? Sy lewe was beslis nie ingevaar nie as hy hulle nie agtervolg het nie. Die polisieman was roekeloos en nalatig. Wat sou gebeur het as ‘n omstander gewond of doodgeskiet sou word? Polisiemanne dink hulle kan doen wat hulle wil en is nie deel van die landwette nie. Ek hoop die polisieman word aangekla en vervolg.

koos1 ·

Geregtigheid, gaan lees gerus “Wanneer mag ek ‘n inbreker skiet” soos geplaas op Maroela op 29 Julie 2015.
Verder meld die berig net dat daar ‘n skietgeveg uitgebreek het, nie wie eerste geskiet het nie.
Polisie lede is opgelei om elke situasie te evalueer en daarvolgens op te tree. Ek (en jy) was nie daar nie en daarom my tweede laaste sin in my vorige kommentaar.

As jy beroof was, sal jy van die polisie verwag om agter jou rowers aan te gaan en hulle te probeer vang? Elke landsburger verwag dit van die polisie, nou hoekom mag hy nie agter hulle aan gegaan het nie? Ek is nie ‘n regskenner nie maar ek weet wat reg en verkeerd is.

Ek is dankbaar hy het dit gedoen. Hy het heel moontlik verdere rooftogte ens. deur sy optrede voorkom.

Koos de Meyer. ·

As jy met ‘n vuurwapen gedreig word is jou lewe nie in gevaar nie. As jou lisensie sê self verdedig moet jy eers vra of hy wil tee drink. As hy in my huis kom sal ek maar vir a vbob en dan die polisie bel. Ons moet altyd bedag wees.

MIke ·

Nice… weet net dat dit teen die wet is om ‘n Boef agter na te sit en te skiet of te floek of skeef aan te kyk, na hy jou beroof, jou vrou vergrag en/of jou kind vermoor het. As hy sy rug op jou draai en probeer weg kom, mag jy niks aan hom doen nie…

Afrikaanse Knaap ·

Sonder ‘n gelisensieerde vuurwapen in hierdie land gaan jy verseker geen skelms vastrek nie.
Bewapen jouself en jou gesin.

Andre ·

Indien n misdaad in die teenwoordigheid van jou as publiek gepleeg word is jy by magte om die oortreder te arresteer en ook by magte om tydens arrestasie jou lewe en die van ander te beskerm met die toepassing van die nodige geweld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.