Diewe laat staan bakkie toe hulle kind opspoor

holding-handsʼn Pa en sy negejarige seun is vinnig in Delmas, Mpumalanga, herenig nadat sy bakkie, met die kind daarin, voor ʼn winkel gesteel is.

Kol. Jannie van Tonder, stasiebevelvoerder van die  Delmas-polisiestasie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die pa, ʼn voormalige luitenant-kolonel van die polisie, en sy seun is binne 20 minute herenig.

“Die pa het sy silwer Toyota Fortuner omstreeks 16:10 voor die Pick n Pay parkeer,” het Van Tonder gesê. Hy het na bewering die sleutel in die voertuig gelos en die enjin laat luier, terwyl die seun in die voertuig bly sit het. “Opportuniste het hul kans gewaag en in die voertuig gespring en weggejaag, sonder dat hulle geweet het die kind is in die voertuig.”

Die pa het intussen uit die winkel gekom en ontdek sy voertuig is gesteel. Die polisie is dadelik ontbied en die gemeenskap is vinnig gemobiliseer om op die uitkyk te wees vir die voertuig.

“Die misdadigers het intussen die seun in die voertuig ontdek en het die bakkie in ʼn woonbuurt, enkele blokke van die Pick n Pay laat staan en weggehardloop. Die polisie het die voertuig met die seun daarin aangetref,” het Van Tonder verduidelik.

Die polisie ondersoek die voorval.

Intussen word talle weergawes van dié storie soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. ʼn Boodskap doen die ronde wat sê: “DRINGEND.. Babadogtertjie in gevaar asb. julle. ʼn Silwer Fortuner met registrasienommer FWL127MP is pas gekaap in Bronkhorstspruit met die baba nog binne-in. Wees asb. op die uitkyk en bid asb. dat die baba veilig sal terugkeer na haar ouers. Stuur asb. aan en moenie die ketting breek nie. As dit my kind was sou ek enige iets doen om haar terug te kry. En wat as dit jou kind was. Asb. stuur aan en help die baba. Wat gaan die kapers met haar doen dis ʼn dogtertjie asb. bid hard.

Van Tonder het bevestig die seun is veilig en ongedeerd gevind. Hy het die gemeenskap versoek om nie die boodskap verder te versprei nie. Die polisie in Bronkhorstspruit het ook bevestig dat die geval nie in dié dorp plaasgevind het nie, maar wel in Delmas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Joey Combrinck ·

Wat ‘n genade is dit nie. Dit kon in ‘n tragedie geeindig het. Die emosionele skade aan die kind sal egter daar wees. Ouers moet werlik meer verantwoordelik optree. Plattelandse inwoners moet besef dat misdaad besig is om uit te brei na hul gebiede. Wees op jul hoede en tree altyd paraat en voorkomend op.

Petrie ·

Ek is self dankbaar die kind en sy pa is herenig, maar genade man, hoe los jy ‘n kind in die kar, en laat die enjin nog luier. Dit was uiters onverantwoordelik. Misdaad vind in ‘n oogwink plaas.

AmY ·

Ek is bly alles het goed geeìndig, maar dit was bietjie ‘onverantwoordelik’ van die pa om die sleutels in die aansitter te gelos het.

Marietjie ·

Baie dankbaar dat die seun ongedeerd is, maar my magtag ek wens ek kan die Pa teen die kop klap. Wie in sy regte verstand (Stasiebevelvoerder of nie) los jou kind in die bakkie met die sleutels in.
Meneer, jy moet wakker word. Jy meeste van almal behoort te weet wat se gemors daar buite is en wat kan gebeur. Ag nee, regtig baie onverantwoordelik.

Kitsie ·

Hy is nie ‘n pa se $@% nie …. Uiters onverantwoordelik vir ‘n voormalige polisie ofisier !!

Belinda ·

Ag nee kyk daar is net nie pille vir dom mense nie………..dit kon baie erger en wreed gewees het!

luke ·

Dank God die kind is ongedeerd trug gevind, dis in elke geval dom om n kind in n voertuig te los wat nie gesluit is en met sluitels in. Mense moet meer waaksaam wees met die dinge.

Theresa ·

Die pa kort ‘n paar warm klappe. Wakker word oompie………..!!! Hel, en jy kom uit die SAP uit.

marelize ·

Sou nie omgee as SARS ook die Fortuner as ‘n bakkie beskou nie…:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.