‘Diewe’ probeer beampte met ‘plan’ fnuik

Argieffoto: Hi-Risk Unit

Twee vermeende diewe het Donderdag hul rieme in die ooste van Pretoria styfgeloop toe hulle probeer het om ʼn veiligheidsbeampte te fnuik.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn oplettende veiligheidsbeampte van Hi-Risk Unit het Donderdag omstreeks 13:40 twee mans gesien wat peuter aan ʼn motor wat by Laerskool Anton van Wouw in Nieuw-Muckleneuk geparkeer was.

“Toe hy hulle nader het hulle gemaak of hulle langs die pad urineer. Die beampte het hulle gekonfronteer, waarna hulle in ʼn wit Opel Corsa-bakkie, sonder nommerplate, geklim en weggejaag het,” het Weilbach gesê.

Inligting oor die verdagtes se voertuig is oor die veiligheidsmaatskappy se radionetwerk versprei en die bakkie is sowat tien minute later in die omgewing van Laerskool Waterkloof opgemerk.

Die maatskappy het beamptes van die Brooklyn-polisiestasie ontbied en die twee spanne het die verdagtes se bakkie van die pad af getrek.

“Die verdagtes en hul bakkie is deursoek en toerusting om by voertuie in te breek, is in die bakkie gevind. Die verdagtes, onderskeidelik 26 en 32 jaar oud en van Atteridgeville, is net daar in hegtenis geneem.”

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op aanklag van die besit van voertuiginbraaktoerusting.

Die Brooklyn-polisie het in April verlede jaar ʼn veiligheidsforum met verskeie rolspelers, waaronder High-Risk Unit, Fidelity en ADT, gestig en belê baie daarin om die veiligheid van inwoners in die Brooklyn-omgewing te verseker.

Brig. Kushie Nair het die rolspelers vir hul oplettendheid en die inhegtenisneming geprys. “ʼn Beduidende impak kan op misdaad gemaak word as die polisie, veiligheidsmaatskappye en die gemeenskap saamwerk,” het Nair gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CHRISTA ·

Ek wens ons polisie en metropolisie in Ekurhuleni was so wakker!! Al RAPPORTEER jy ‘n probleem, trek hulle net hulle skouers op en sê: dis nie ons area nie!! Meer as 80% motorfietse op ons paaie het GEEN nommerplate nie, ten minste 30% motors het net een nommerplaat (gewoonlik is die agterste een nie daar nie of dit word met ‘n trekstang of tuisgemaakte buffers bedek)!!!

anton ·

Nou hoekom pla dit jou so erg dat motorfietse nie nr. plate het nie???

LeonC ·

Anton, dit virtel my hierdie motoriste probeer wegkom met oortredings soos spoed lokvale en wie weet water ander krimemele oortredings. Ek sal nooit so eits kan goed praat nie punt. Dit is onwettig.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek ry sonder ‘n voorste nommerplaat omdat myne al hierdie jaar 3 keer gesteel is. Ek het nou weer ‘n nommerplaat laat maak teen hoe koste maar dit nie opgesit nie. Nommerplate is duur en dit verbaas my dat jy eenvoudig by hierdie besighede kan instap en se jy soek so en so nommerplaat en hulle voorsien dit sonder enige navrae. Waarheen gaan hierdie nommerplate?

Sektor 1234 ·

Wat help dit die “diewe” word vasgetrek, dieselfde dag word hulle op GRATIS borg vrygelaat, 6 maande later kom sy saak voor, hy is nie daar nie, en die saak word van die rol geskraap, wat ‘n lagwekkende reg stelsel het ons tog !!!!!!!

Sektor 1234 ·

Wat help dit dat die “diewe”vasgetrek word, dieselfde dag word hulle op GRATIS borg vrygelaat, 6 maande later kom sy saak voor, hy is nie daar, saak word uit gegooi, wat ‘n lagwekkende regstelsel het ons !!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.