Diewe skep met aanlyn inkopies

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Misdadigers het klaarblyklik geskep nadat die algehele landwye afsondering wat verlede jaar ingestel is, verbruikers toenemend genoop het om inkopies aanlyn te doen.

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) se jaarlikse misdaadsyfers vir 2020 toon dat aanlyn bankbedrog verlede jaar met ʼn stewige 33% gestyg het, namate Suid-Afrikaners hulle gedurende die afsonderingstydperk tot aanlyn inkopies gewend het.

Debietkaartbedrog het om die beurt met 22% gestyg, hoewel kredietkaartbedrog met 7% afgeneem het.

Sabric meen die afsonderingstydperk het ʼn noemenswaardige invloed op die neigings van finansiële misdaad in 2020 gehad.

“Die pandemie het veranderings aan menslike gedrag, beweging en polisiëring tot gevolg gehad, wat weer nuwe geleenthede vir misdadigers geskep het,” sê Sabric.

Die jongste syfers toon wel dat die beperking op beweging en verhoogde polisiëring gedurende die streng afsonderingstydperk ʼn afname in kontakmisdade wat verband hou met die bankwese meegebring het.

Minder voorvalle van dié aard is aangemeld vergeleke met 2019. Dit sluit in bankverwante rooftogte wat in 2020 ʼn afname van 24% getoon het. Die afname is veral in die Vrystaat, die Oos-Kaap en Mpumalanga opgemerk.

Aanvalle op kitsbanke het ook met 9% afgeneem, hoewel voorvalle waar kitsbanke spesifiek opgeblaas is met 20% toegeneem het.

Transitorooftogte het gedurende vlak 5 van die afsonderingstydperk aansienlik afgeneem. Volgens Sabric is dit weens beperking op beweging en vrees vir padblokkades.

Transitorooftogte het egter weer met 22% toegeneem namate die afsonderingsregulasies verslap is.

Sabric waarsku Suid-Afrikaners dus om versigtig met hul persoonlike data om te gaan.

“Jou persoonlike data, gekombineer met tegnologie, is nou die nuwe sleutel tot die kluis wat jou geld in ʼn bank hou.”

Jou data en geld kan só beskerm word:

  • Moet nooit jou wagwoord uitgee nie.
  • Moenie jou e-posse aanstuur waarop jou banknommer en vervaldatum verskyn nie.
  • Gaan gereeld jou bankstate na en doen navraag by jou bank indien jy agterdogtige transaksies bespeur.
  • Doen slegs aanlyn inkopies op ʼn veilige webwerf.
  • Registreer met 3D Secure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Ek het gister my bank geskakel om ‘n doodeenvoudige vraag te vra (wat niks met my rekening te doen gehad het nie). Die personeellid wou met alle mag my persoonlike inligting bekom. Mense….wees gewaarsku.

Kokerboom

Wees op uitkyk vir binne bedrog deur bank personeel self!

Elize

Ek het dieselfde ondervind, die skakelbord dame wou my ID nr he voor sy my sou deursit na die betrokke persoon.

OW

Baie ouer mense word telefonies gevang deur bank inligting uit te gee soos pin nommers,rekening nommers en rekening inligting.As hulle weer sien is hulle rekeninge leeg getrek.Die dae om sake oor ‘n telefoon te doen is na my mening verby,veral wat finansies betref.Loop maar katvoet vir aanlyn bankdienste ook.