Diewe slaan skynbaar munt uit Covid-19

Argieffoto: Netcare 911

Boosdoeners slaan skynbaar nou munt uit die koronavirus deur die uitbreek van Covid-19 in Suid-Afrika te gebruik om niksvermoedende slagoffers te besteel. Nooddienste het lede van die publiek Maandag gewaarsku teen rowers wat hul voordoen as medici. Hulle maak glo asof hulle gestuur is om sterilisasie- en virustoetse tuis uit te voer en dan huise en ondernemings te besteel.

“Neem kennis dat personeel van die Netcare-groep, insluitend Netcare-hospitale, Netcare911-paramedici of Medicross- mediese en tandheelkundige sentrums nie na huise of besighede gaan om individue vir die virus te toets nie,” het Netcare in ’n verklaring gesê.

Dié nooddiens waarsku dat sou iemand hom as ’n verteenwoordiger van een van die bogenoemde instansies van die Netcare-groep voordoen, moet die persoon nie op die erf of sakeperseel toegelaat word nie, en moet die polisie onmiddellik ontbied word.

Netcare het op Twitter berig van ’n geval waar ’n inwoner van Constantia in die Wes-Kaap beroof is. Die inwoner het twee persone, wat hul voorgedoen het as Netcare-verteenwoordigers, by die huis ingelaat, waarna die rowers met twee selfone vort is.

ER24 het ook op Twitter gesê indien enigiemand hom as ’n verteenwoordiger van ER24 voordoen, moet ER24 by 084 124 geskakel word.

Die departement van gesondheid het Maandag bevestig daar is tans 62 gevalle van die virus in Suid-Afrika.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.