Diewe steel pikkewyn uit Bayworld

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Die polisie in Port Elizabeth is op soek na twee mans wat Donderdagoggend in die Bayworld-oseanarium ingebreek en ʼn pikkewyn gesteel het.

Cherie Lawrence, senior kurator van mariene soogdiere en seevoëls by Bayworld, het aan Maroela Media gesê hulle het Vrydagoggend opgelet dat die pikkewyn Buddy verdwyn het. “Beeldmateriaal van die veiligheidskameras wys hoe twee mans oor die muur vanaf die parkeerarea binne-in die pikkewyn-dam geklim het,” het Lawrence gesê.

“Jy kan sien hoe hulle in die kamp rondloop en met hulle selfone foto’s neem voordat een sy hemp uittrek. Ons neem aan hy het die hemp gebruik om vir Buddy te vang voordat hulle met hom weer teruggeklim het oor die muur.”

Lawrence het gesê Bayworld het ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en die polisie is op die uitkyk vir die twee motors wat op die beeldmateriaal gesien kan word. Sy het gesê sy weet nie hoekom iemand ʼn pikkewyn sal wil steel en of dit moontlik studente was wat ʼn grap probeer maak het nie. “Pikkewyne is baie taai diere, maar Buddy is ons prins en is natuurlik net gewoond aan die beste kos en die beste behandeling. Die stres van hierdie voorval kan baie sleg vir hom wees,” het sy gesê.

Volgens Lawrence het Buddy, wat nou drie jaar oud is, juis vandeesweek pa geword toe sy tweede groep kuikens uitgebroei het. Buddy het ʼn rooi en blou kabelbinder om sy vlerk met die nommer 266 op.

Kapt. Johan Rheeder, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die polisie op die uitkyk is vir die verdagtes se voertuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Raymond Bastone ·

Hoop hulle word gevang en toegesluit en Buddy is nog gesond en veilig hou ons op hoogte dankie

Adeline ·

Stem saam Raymond, maroela hou ons asb op hoogte. Arme Buddy!

E ·

Ag nee werklik? dit klink dalk snaaks, maar eintlik is dit niks anders as dieremishandeling nie.

Johann ·

Ok. Ek lees dit en eerlik; as dit April was het ek gesê ja shure. Maar dit is September…wel in Suid Afrika! Waar nie ees meet n pikefrikenwyn veilig is nie! Rerig? Ek kan nie wag vir die verskonings nie. En n straf…Kaal.g.a.t in n Pikkewyn Kolonie vir n week. Ons sal sien wie pik en wie ween!

Savethetigerplz ·

Ag nee?ek hoop hulle kry vir Buddy gou terug. Hou ons asb op hoogte

R Eaton ·

Dalk het iemand hul gered uit bayworld. Daardie plek het uiters morsig geraak. Was altyd PE se trots. Nou n swamp waar diere rond dwaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.