Diewe teiken diereskuiling twee keer in twee dae

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Diewe het Dinsdagoggend vir die tweede keer in twee dae op die Animal Anti-Cruelty League (AACL) se perseel in Johannesburg toegeslaan. Die diereskuiling het reeds swaar getrek weens die Covid-19-pandemie en dus is die verliese wat hulle weens die diefstal gely het soveel erger.

Luidens ʼn verklaring van die AACL-diereskuiling het diewe Dinsdagoggend om 01:00 die diereskuiling se hospitaal se ontvangs en spreekkamers betree. Hulle het vyf rekenaars, ʼn televisieskerm en ander items met ʼn totale waarde van R100 000 gebuit.

Die eerste diefstal het Saterdagaand plaasgevind.

Carren Nickloes, bemarkingsbestuurder van die skuiling, sê met albei voorvalle het die diewe deur die muur en elektriese heining gebreek om die perseel te betree. Hulle het ook glo toegang tot die hospitaal se ontvangs gekry deur die veiligheidsdeure.

“Met albei diefstalle het die boewe van die ontvangs na die spreekkamers in die hospitaal beweeg om rekenaartoerusting te gaps,” het Nickloes gesê.

Nickloes sê hulle kon skaars die skade wat tydens die eerste rooftog aangerig is, herstel, toe die diewe weer toeslaan.

“Afgesien van die toerusting wat gesteel is, is groot skade aan die perseel gerig. Die muur, elektriese omheining, veiligheidshekke en binnedeure is beskadig.”

Nickloes het bevestig twee sake van diefstal is Sondag en Dinsdag by die Moffetview-polisiestasie in Johannesburg aanhangig gemaak. Maroela Media het ʼn navraag aan die Gautengse polisie gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

Volgens Nickloes is die diereskuiling ʼn niewinsgewende organisasie en maak hulle staat op donasies van die publiek. Die skuiling is genoop om sy deure tydelik te sluit totdat die gesteelde toerusting vervang en die skade herstel kan word om die perseel weer veilig vir personeel, kliënte en die diere te maak.

“Die Covid-19-pandemie en afsonderingstydperk het ons finansieel geknou en daarom kan ons nie ʼn terugslag soos hierdie bekostig nie. Ons is nou meer as ooit tevore afhanklik van die publiek se welwillendheid en vrygewigheid,” sê Nickloes.

Nickloes sê hulle het ten tyde van die afsonderingstydperk minder donasies ontvang weens die finansiële impak wat dit op die meeste mense gehad het. “Mense het ook nou veral veeartsenykundige dienste vir hul diere nodig.”

Die skuiling vra vir enige donasie om hulle in hierdie moeilike tyd te help. Druk hier vir meer inligting om ʼn donasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Waar is die “authorities”? Vas aan die slaap agter die toonbank!

Dries ·

Hierdie is rerig die slegste van die slegste mense in die samelewing wat sulke misdade pleeg.

marius ·

Twee luislange en die skelms hardloop vir hulle ‘n splinternuwe deur ….dwarsdeur ‘n baksteen muur .

Michael ·

Lafaards. Teiken weerloses. Hulle verdien om tot in lengte van dae in die stof wat hulle besig is om na te laat, te vergaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.