Diewe teiken nou Kaapse munisipale swembaddens

Kragkabels is uit die grond gesteel wat die swembad sonder elektrisiteit laat en die watergehalte beïnvloed. (Foto: Verskaf)

Kapenaars sal vir eers lafenis elders moet vind nadat drie munisipale swembaddens in die Moederstad verlede week onder diewe deurgeloop het.

“Ek het tot my spyt gehoor van drie voorvalle van diefstal by swembaddens oor die afgelope dae wat skade van duisende rande beloop en tot die sluiting van die Retreat- en Manenberg-swembaddens [in die stad] gelei het,” het Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Sondag gesê.

Volgens Badroodien het diewe Donderdag in die vroeë oggendure toegang tot die filtreerkamer by die Retreat- munisipale swembad in Kaapstad verkry waarna hulle staalpype, meters asook die swembadfilter se kleppe gesteel het.

Die Manenberg-swembad het ook deurgeloop en is die afgelope paar dae gesluit nadat kragkabels gesteel is wat dié swembad sonder elektrisiteit laat en die watergehalte beïnvloed, het hy gesê.

ʼn Soortgelyke voorval is by die Parow-Noord-swembad rondom Menseregtedag aangemeld. Diewe het hiér ʼn chloortoediener, die motors van twee pompe, ʼn doseerstelsel, chloormaskers, PVC- en koperpype asook ander toebehore gesteel.

Kragkabels is uit die grond gesteel wat die swembad sonder elektrisiteit laat en die watergehalte beïnvloed. (Foto: Verskaf)

Badroodien vertel dat die Stad ʼn beter idee oor die volgende paar dae sal kry oor hoeveel dié skade beloop asook hoe lank dit sal neem om dit te herstel.

Badroodien het sy misnoeë met die voorvalle uitgespreek. “Die stad Kaapstad het baie hard gewerk om gehaltegeriewe te lewer tot voordeel van gemeenskappe en om hulle soveel moontlik te beskerm. In Augustus verlede jaar het die gemeenskapsdienste en gesondheidsdirektoraat ʼn groot finansiële inspuiting aangekondig om klinieke, biblioteke en gemeenskapsgeriewe, soos ontspanningsentrums, teen misdadigers te beskerm.

Hy vertel verder dat die stad sowat R10 miljoen bestee het om veiligheid op te knap deur middel van diefwering en alarmstelsels. R20 miljoen is ook toegeken aan sekuriteitswagte en R9,8 miljoen vir die aanstelling van 312 opsigters.

Badroodien het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige inligting rakende die voorvalle asook soortgelyke voorvalle by die polisie of die Stad se openbare noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ben ·

Diefstal lui tot armoede. En wie gaan die “Community” blameer? Hulle het niks nie want hulle vernietig alles en dan is dit iemand ander se fout. Tyd vir self ondersoek en nuwe morele waardes.

Essie ·

Die biwtjie wat die diewe gaan kry by skrootwerwe gaan so min wees nou het hul meer skade gelaat vir wat.

Stoppit ·

ag wat uiteindelik net NOG iets wat gaan toemaak en sluit sodat NIEMAND dit kan gebruik nie .. want dit is die anargiste en wettelose mense wat die ANC grootgemaak het … lekker swem hoor.

Vra net ·

Was dit regte diewe of is hier iets anders aan die gang? Vra net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.