Digital Vibes se naam duik al jaar gelede in vrae op

Dr. Zweli Mkhize. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die VF Plus sê bewerings oor ongerymdhede rakende verkryging in die departement van gesondheid ingevolge Covid-19-noodregulasies doen al lank reeds die ronde – en die naam van Digital Vibes, die maatskappy wat dr. Zweli Mkhize dalk nou sy pos as minister kan kos – is lankal genoem.

Digital Vibes – en Mkhize – is in die spervuur weens die departement se toekenning van ʼn kontrak van R150 miljoen aan die onderneming. Twee van die maatskappy se grootste belanghebbendes, Tahera Mather en Naadhira Mitha, het albei noue bande met Mkhize – al ontken hy ten sterkste dat hy enigsins ʼn rol gespeel het in die toekenning van die tender, óf dat hy daarby gebaat het.

Mkhize het Vrydag op grond van “regsadvies” nie die parlementêre portefeuljekomitee se sitting bygewoon nie en pleks daarvan moes die adjunkgeneraal van die departement, dr. Sandile Buthelezi, gaan vure doodslaan.

Mkhize en Buthelezi is by die vergadering onder meer daarvan beskuldig dat hulle die parlement se werk kelder omdat hulle nie hul eie werk kan doen nie.

Philip van Staden, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, het tydens die komiteevergadering gesê die minister én sy departement moet nou oop kaarte speel en duidelikheid oor alle kwessies verskaf vóór die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sy verslag oor die kontrak bekend maak.

Hoewel die ondersoek nog nie afgehandel is nie, het die SOE reeds bevind dat die toekenning van die tender onreëlmatig was.

Van Staden het ná afloop van die vergadering gesê hoe meer die regering praat oor korrupsie, hoe meer voorbeelde kom na vore dat die ANC-regering eers bereid is om teen korruptes in sy geledere op te tree wanneer hy geen ander keuse het nie.

“Terwyl daar tans met min. Mkhize, soos soveel keer in die verlede, asem opgehou word oor optrede teen ʼn senior amptenaar wat van ernstige onreëlmatighede verdink word, het pres. Cyril Ramaphosa klaarblyklik vir eers die bal aangegee na die SOE, óf dit word van Mkhize self verwag om terug te staan,” sê Van Staden.

Ramaphosa het vroeër vandeesweek die versekering gegee dat die kwessie behoorlik hanteer sal word. Die president het reeds met Mkhize byeengekom en volgens Ramaphosa gee sy gesondheidsminister sy volle samewerking.

Van Staden sê die SOE moet alle Covid-19-kontrakte by die departement ondersoek, en dat dit vinnig en deeglik gedoen moet word.

“Die VF Plus het meer as ʼn jaar gelede, in Mei verlede jaar, reeds skriftelike vrae aan Mkhize gevra oor kontrakte wat toegeken is, asook wat die naam van die maatskappye is waar afgewyk is van die normale verkrygingsprosedures.

“Digital Vibes se naam het toe al opgeduik,” sê Van Staden.

Hy sê Suid-Afrikaners kry toenemend die indruk dat hoëprofiel-ondersoeke onbepaald uitgerek word terwyl die reg veel gouer sy loop neem met sogenaamde gewone burgers.

Benewens vrae oor die toekenning van die kontrak, het bewerings intussen ook aan die lig gekom dat Digital Vibes ʼn tweedehandse Toyota Land Cruiser vir Mkhize se seun, Dedani, gekoop het. Daar word ook beweer dat die maatskappy vir instandhoudingswerk aan een van die minister se eiendomme betaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Waar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie. Kla hom aan en laat hom opsy staan.

Dup ·

Hulle grootste skande is om uitgevang te word en nie om korrup te wees nie.Die regering se korrupsiehandleiding is nogal heel lywig.

Tubac ·

Wonder nou wat ou Biden nou gaan kwytraak, nadat hulle hom n toekenning gegee het.

Johanncb ·

Die minister en sy sibbes leef lekker, terwyl die land struikel onder werkloosheid, armoede en Covid! Tree asseblief op teen hom, Mnr Die Staatspresident !

Nie Verbaas ·

Elkeen vir homself. Their time to eat. Dit gaan egter net vir die regering en hulle kaders terwyl mense honger lei agv hulle onbaatsugtige gestelery.

Francois Le Cochon ·

Hier in my geweste ry ‘n Hi-Ace taxi rond met die woorde “EVERY BLACK MAN IS A SUSPECT” op die agter venster. Ek het nog altyd gedog dis net swart humor.

Samuel ·

Ek dink baie burgers is diep geskok oor die openbaarmaking van die beweerde korrupsie van ‘n eens gerespekteerde minister. Wys jou net jy kan politici nie vertrou nie. Dit maak nie saak aan watter kant van die speelveld hulle staan nie.

JohanR ·

Mense – se vir my as julle ‘n arm ANC sien, want dan het hy homself nog nie gehulp nie, maar sal binnekort!

Nie Verbaas ·

“Ramaphosa het vroeër vandeesweek die versekering gegee dat die kwessie behoorlik hanteer sal word.” Net soos Magashule en Zuma meneer Ramaphosa? Halfhartige pogings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.