Digkunsprojek wil berusting aan Suid-Afrikaners bied

avbob-digkunsprojek

Van links is Johann de Lange, hoofredakteur van die Avbob-digkunsprojek, Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, dr. Mantoa Motinyane-Masoko, senior lektor en hoof van Afrikatale en-literatuur by die Universiteit van Kaapstad en dr. Stanley Madonsela, direktoraat: Afrikatale, Universiteit van Suid-Afrika en Daniel Hugo, Afrikaanse redakteur vir die Avbob-digkunsprojek. Foto: Verskaf.

Die begrafnisversekering- en diensteoplossingsmaatskappy Avbob het Dinsdag ʼn splinternuwe webwerf bekendgestel wat daaraan toegewy is om nuwe digters se digkuns in al elf amptelike landstale ten toon te stel.

Dit is dié maatskappy se bydrae tot Mandela-dag-vieringe wat jaarliks wêreldwyd op 18 Julie op oudpresident Nelson Mandela se verjaardag gehou word.

“Ons wil soveel as moontlike gehaltepoësie in al elf van Suid-Afrika se landstale publiseer en hierdie gedigte sal dan gratis beskikbaar wees vir mense wat dié soort kuns waardeer. Die webwerf is ook ʼn platform waarop Avbob se landwye gedigtekompetisie van stapel gestuur sal word. Ons wil die verskeidenheid van ál die stemme in ons land vier,” het Frik Rademan, die uitvoerende hoof van Avbob, gesê.

Elke gedig sal eers deur een van Avbob se redakteurs gekeur word voordat dit op die webwerf geplaas word. So word dit dan deel van ʼn biblioteek van woorde wat skoonheid en berusting aan die mense van Suid-Afrika kan bring.

“Elke gedig wat goedgekeur word vir publikasie sal ʼn R300-prys ontvang as deel van ons waardering vir die digter se werk. Boonop sal elke gekeurde gedig ook in aanmerking kom vir ʼn verdere kontantprys as dit gekies word as die beste gedig in die onderskeie taal,” het Rademan verduidelik.

Elke gedig staan ook ʼn kans om gepubliseer te word saam met gevestigde en bekende digters se werke in ʼn digbundel wat uit 100 werke sal bestaan met die titel I wish I’d said. Die digbundel sal in Augustus 2018 gepubliseer word en die tema van die digbundel sal handel oor die gerusstelling dat ons almal in ʼn stadium in ons lewens spyt is omdat ons dinge ongesê gelaat het, dinge soos “ek is lief vir jou”, “vergewe my” of “ek sal jou nooit vergeet nie”.

“Ons hoop dat die Avbob-digkunsprojek ʼn voertuig sal word vir mense waar hulle uiteindelik die onuitgesproke fluistering van hul harte kan uitdruk, ongeag wat die frase vir elke individu mag beteken. Wanneer hartseer ʼn mens stom laat, stel dit ons in staat om die nalatenskap van ons geliefdes vir ewig vas te vang en ons verlies op ʼn sinvolle wyse uit te druk.

“Dit is nou belangriker as ooit dat ons as nasie die pen eerder as die swaard moet opneem. Net soos met die stigting van Avbob in 1918 tydens die moeilike jare ná die Eerste Wêreldoorlog, ly mense steeds 99 jaar later. Dit is ontevredenheid en die bedreiging van Suid-Afrikaners se selfbehoud wat mense nou laat ly. Mense is ook oor die algemeen verdeeld en word verder verskeur deur onsekerheid, terwyl werk skaars is en sinvolle werk selfs nóg skaarser.”

Rademan glo sy maatskappy se borgskap van die gedigteplatform sal aan alle digters die geleentheid bied om kalmte en waardigheid aan hul medelandsburgers deur hul woorde te gee.

“Avbob se uitnodiging aan beide opkomende en gevestigde digters is om vir ons gedigte te stuur wat die tema aanspreek. Dit is natuurlik ook ʼn strategiese besluit, want so help ons om ʼn brug tussen mense wat die woorde het en mense wat van hul woorde beroof is te bou,” het Rademan bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

Berusting uit digkuns doen NIKS aan wit mense wat werkloos is weens regstellende aksie, wit mense wat geliefdes weens plaasmoorde verloor en swart mense wat 23 jaar NA apartheid steeds in plakkerskampe bly.

Eish ·

Née dis waar, maar wanneer wanneer jy die emosie kan verwoord deel jy jou begrip en belewing en gee dimensie aan ander se belewenis van die lewe. Of jy kan die prysgeld skenk aan n verdienstelike organisasie.

Johann Marx ·

Jaco, jy’s absoluut reg…..dit doen niks vir die mense wat jy beskryf nie, maar ten minste kan hulle nou gediggies lees en “berus” by hulle omstandighede….tot hulle van Avbob se ander dienste benodig….hehehe..

Jan Britz ·

Ag ou Jaco, watter bydrae behalwe negatiewe kommentaar het jy al in jou lewe gedoen om van ons land n beter plek te maak? Ek dink hierdie is n skitterende platform vir mense met die intellektuele vermoë om die dieper dimensie en waarhede van die lewe raak te sien en te verstaan. Berusting is maar een van baie fasette van die lewe. Weliswaar die begin van n hele nuwe pad van lewensvreugde wat kan volg na smart en rou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.