Diko-egpaar reageer op aantygings van korrupsie

Pres. Cyril Ramaphosa en Khusela Diko. (Foto: GCIS)

Koning Madzikane II Diko en sy vrou, Khusela, het Woensdag die lug probeer suiwer nadat hulle hulself midde in ʼn storm oor die toekenning van ʼn Covid-19-tender bevind het.

Die omstredenheid hou verband met ʼn tender wat die Gautengse gesondheidsdepartement vir persoonlike beskermingstoerusting aan Royal Bhaca Projects toegeken en toe gekanselleer het.

“Ten spyte van die afwesigheid van enige onwettigheid en bevestiging dat geen openbare geld ooit aan Royal Bhaca Projects betaal is nie – en waarvan besonderhede verder deur die ondersoek bekend gemaak sal word – veroorsaak die kwessie groot woede in die samelewing,” het die egpaar in ʼn verklaring gesê.

Volgens die egpaar het Khusela Diko self besluit om uit respek vir die amp verlof te neem as woordvoerder van die presidensie terwyl die ondersoek afgehandel word.

“Ons neem met nederigheid kennis van Suid-Afrikaners se woede. Vir meer as ʼn dekade het Suid-Afrika weens staatskaping gely. Soos die bewyse voorgelê aan die Zondo-kommissie oor staatskaping gewys het, is daar ʼn verband tussen politieke ampte en invloed en private ondernemings het onregmatig uit die staat se koffers voordeel getrek.

“Korrupsie het die vermoë van die staat om noodsaaklike dienste te lewer ondermyn en van die armes gesteel. Dit is dus belangrik dat die media en die publiek waaksaam bly in die stryd teen korrupsie. Dit is iets wat ons heelhartig steun,” gaan hul verklaring voort.

Die egpaar ontken dat daar enige korrupsie tydens die bodproses en toekenning van die tender aan Royal Bhaca Projects was. Hulle sê jarelange bevoordeling het ʼn omgewing van wantroue en agterdog geskep wanneer individue wat na aan politieke ampte en invloed is, oënskynlik baat by die staat op maniere wat moontlik oneties is.

“Ons het die situasie probeer regstel deur te vra dat die kontrak gekanselleer word en ons betreur die oordeelsfout wat gelei het dat Royal Bhaca Projects in die eerste plek met die departement wou sake doen.

“Ons steun al die maatreëls wat die regering ingestel het om voorvalle van die misbruik van geld wat met die reaksie op die Covid-19-pandemie verband hou, te ondersoek en te laat vervolg.”

Wat betref hul verhouding met Bandile Masuku, die Gautengse LUR vir gesondheid, sê die egpaar hul bande strek tot lank voor die opneem van enige ampte. Hulle sê hulle het dié bande nooit weggesteek nie en dat dit op gemeenskaplike respek en waardes gegrond is.

“In die huidige atmosfeer aanvaar ons dat die geskiedenis tussen ons families agterdog en kommer kan wek.”

Madzikane Diko was tot onlangs die uitvoerende hoof van die Alfred Nzo-ontwikkelingsagentskap, ʼn afdeling van die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap. Hy het vantevore as adjunkvoorsitter op die raad gedien en is ʼn voormalige raadslid van die Ingwe-TVET-kollege.

Hy sê in die verklaring hy het ʼn meestersgraad in ontwikkelingskommunikasie van die Universiteit van Pretoria en ʼn sertifikaat in munisipale finansies van Wits.

Hy is ook ʼn raadslid van Sentech en CATHSSETA en sê hy het aan aansoekprosesse vir oorweging in dié poste voldoen.

“Dit was nog altyd my begeerte om die perspektief van landelike gemeenskappe te verteenwoordig en daartoe by te dra in al die organisasies wat ek die voorreg gehad het om te dien.

“Ek verwerp die aanname dat die aanstellings, wat ek ná deeglike prosesse verdien het, die gevolg was van onregverdige politieke inmenging.”

Madzikane Diko sê hy het steeds besluit om in die belang van etiese leierskap en aanspreeklikheid sy vrou se voorbeeld te volg en as lid van die Johannesburg-mark se onafhanklike ouditkomitee te bedank omdat dié aanstelling nou ook in omstredenheid gehul is. “Dit is om die mark en die stad van enige verdere onnodige ondersoek te spaar.”

Hy sê ook die vraag word gevra waarom hy sake met die staat wou doen terwyl hy terselfdertyd ʼn toelaag van belastingbetalers ontvang.

“Dit is ʼn wanopvatting wat ek moet regstel. Ek ontvang geen toelaag van die staat nie. Dit is hoekom ek probeer het om entrepreneurservaring op te doen en by sakeondernemings betrokke te raak wat my familie en die gemeenskap wat ek dien – wat steeds grootliks arm en maatskaplik en ekonomies op die rand staan – tot voordeel sal strek.

“Ek het diepe spyt dat hierdie pogings om ʼn eerlike inkomste te verdien en die welstand van my mense te verbeter, nou in omstredenheid gehul is en nie sy doelwit kon bereik nie.

“Ek is nou gefokus daarop om die amaBhaca suksesvol te lei en hul vertroue in my leierskap te beloon.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

dave ·

die presedent is ook seker betroke met die storie want hy kan niks virkeerd doen nie altyd onskuldig maar hy eet die grootste stuk van die koek

Johann ·

Whahahahhaaa!!!! En die “koning” en sy vrou dink ons glo n woord van die snert wat hulle kwyt raak? Al wat hulle oor jammer is , is dat hulle uitgevang is.

Persheks Adri ·

Waar is hulle maskers en social distancy? Julle lieg so jul glo julself al twak man! Ons glo GEEN woord meer nie en ja ons is briesend kwaad oor al die korrupsie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.