Dipuo Peters se skorsing ‘oëverblindery’

Dipuo Peters (Foto: @DSBD_SA/X)

Pres. Cyril Ramaphosa se maandlange skorsing van adjunkminister Dipuo Peters weens ʼn oortreding van die etiese kode terwyl sy minister van vervoer was, is skaars ʼn raps oor die vingers en wys hoe die ANC sy kaders beskerm.

“Hierdie klagte is ernstig en die president moes haar na regte summier afgedank het ná die aanbeveling van die komitee,” sê Wouter Wessels, VF Plus se nasionale woordvoerder.

Peters is tans adjunkminister van kleinsake-ontwikkeling en die skorsing volg op ʼn aanbeveling van die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange.

Daar is onder meer bevind dat Peters versuim het om ʼn uitvoerende hoof vir die Passasiersspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aan te stel en dat sy Prasa se raad onder voorsitterskap van Popo Molefe afgedank het nadat hulle ondersoeke na korrupsie ingestel het.

Sy het ook versuim om die bewering te ondersoek dat Swifambo Rail R79 miljoen van Prasa se geld onregmatig na die ANC se koffers gekanaliseer het. Sy is verder daarvan beskuldig dat sy in 2014 en 2015 Prasa-busse vir ANC-geleenthede gebruik het.

“Die skorsing van een maand stuur ʼn boodskap dat die regering korrupsie en bedrog sal duld en oortreders selfs sal beskerm solank die ANC daardeur bevoordeel word,” sê Wessels.

“ʼn Minister is veronderstel om ten alle tye eerlik en met integriteit op te tree. Hierdie aanklagte is ʼn bewys van oneerlikheid. Pres. Ramaphosa is duidelik nie ernstig oor korrupsie nie. Indien iemand vir oortredings soos dié so lig gestraf word, wonder die VF Plus wat ʼn minister wel moet doen om afgedank te word.”

Die DA is ook van mening dat Peters in die pad gesteek moet word.

“Peters het tydens haar ampstermyn in die staatskapingskabinet onder oudpresident Jacob Zuma growwe nalatigheid in haar pligte geopenbaar,” sê Jan de Villiers, DA-LP en die party se woordvoerder oor kleinsake-ontwikkeling.

“Ten spyte van herhaalde versekerings in verskeie staatsredes dat korrupsie bekamp word, en dat staatskaping-oortreders hanteer word, weerspreek die president se gebrek aan optrede rakende korrupsie-besmette kaders sy beweerde verbintenis tot integriteit.”

Die DA sal Ramaphosa versoek om sy besluit te hersien en Peters af te dank ten einde die nodige aanspreeklikheid te weerspieël.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.