Direkteur-generaal van gesondheid ‘net met verlof’

Dr. Sandile Buthelezi (Foto: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad)

Die departement van gesondheid het dit Vrydag duidelik gestel dat die direkteur-generaal van gesondheid nié geskors is of bedank het nie.

Dit volg ná mediaberigte dat dr. Sandile Buthelezi óók betrek word by ʼn korrupte tender wat die departement van gesondheid aan Digital Vibes toegeken het. Daar word sedertdien bespiegel of hy dalk die trekpas gekry het.

Die nuuswebwerf Maverick Citizen het Dinsdag berig dat Buthelezi en sy adjunk, dr. Anban Pillay, óók by die korrupsieskandaal betrek word wat tot die afdanking van dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid, gelei het. Dissiplinêre stappe sal glo “binnekort” volg.

Dié webwerf bespiegel nou dat die departement van gesondheid dalk binnekort te midde van die pandemie ʼn tekort aan ervare leierskap kan beleef.

Die departement sê egter die rede vir Buthelezi se afwesigheid het nie te doen met enige wanoptrede aan sy kant nie.

“Die departement is die afgelope tyd oorval met medianavrae wat daarop sinspeel dat dr. Buthelezi afgedank of geskors is, of dat hy bedank het. Ons wil dit graag duidelik stel dat geen amptenaar van die departement, onder wie dr. Buthelezi, afgedank of geskors is nie, maar dat hy bloot ʼn paar dae jaarlikse verlof geneem het,” lui ʼn verklaring deur die departement.

“Die departement wil hom graag in dié tyd ruimte gun en sal nie verder op die onderwerp kommentaar lewer nie.”

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) maak verdoemende bevindings in sy ondersoek na die Digital Vibes-kontrak wat die departement van gesondheid teen ʼn koste van R150 miljoen met die maatskappy aangegaan het. Diegene aan die stuur van Digital Vibes het noue bande met Mkhize.

Die SOE het reeds ʼn verslag hieroor aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig en Maroela Media het Vrydag berig die presidensie oorweeg nog dié verslag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kokerboom ·

Die bedrog, korrupsie en skandale hou net aan en aan!! Dit word ‘n SA norm!

Frederik C ·

Hy’s nie geskors nie en het ook nie bedank nie, Dan’s hy waarskynlik dood, want daar’s reeds iemand in sy pos aangestel.

Yvonne ·

Hierdie mense verdien alreeds astronomiese salarisse maar dit is nie genoeg nie….mammon lei hulle die verderf in….gierigheid erger as n virus

Hasie ·

As dit gewone man op straat was , was hy al toegesluit en gn op ” verlof” gesit nie ….

Dirk Mostert ·

Dis die leierskorps in ‘n department wie se statistiek vir soetkoek opgeeet word.

Hennie J ·

Nou word bespiegel dat die departement binnekort n gebrek aan ervare leierskap sal beleef. As ek as Jan alleman die keuse het kies ek liefs onervare leiers teenoor ervare leiers wie se ervaring in ieder geval net strek tot ervaring van geldlaai plundering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.