Dirk Prinsloo in Belarus vrygelaat

Dirk Prinsloo. Foto: Trevor Kolk/SAPA

Dirk Prinsloo, wat 13 jaar gelede uit Suid-Afrika gevlug het terwyl hy op onder meer kinderseksaanklagte tereggestaan het, is uit aanhouding in Belarus vrygelaat.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het aan Maroela Media bevestig Prinsloo is vrygelaat. “Hy is steeds in Belarus.”

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van Interpol in Suid-Afrika, het gesê Suid-Afrika het nie ʼn amptelike uitruilooreenkoms met Belarus nie en diplomatieke kanale word gebruik om Prinsloo terug in Suid-Afrika te kry.

Prinsloo is na sy vrylating, wat glo al ʼn geruime tyd terug was, by ʼn migrasie-sentrum aangehou. Volgens berigte is hy egter glo vrygelaat aangesien hy te lank daar in aanhouding was. Naidoo het gesê Prinsloo “loop nie vry rond nie”. Prinsloo sal glo nie die nodige dokumentasie hê om enigsins te probeer vlug nie.

Prinsloo is einde 2009 in Belo-Rusland in Oos-Europa in hegtenis geneem toe hy ʼn bank probeer beroof het en is vroeg 2010 tot 13 jaar tronkstraf gevonnis. Hy was sedert 2017 op parool geregtig.

Prinsloo en sy destydse lewensmaat, Cezanne Visser (ook bekend as adv. Barbie), is in 2002 in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer verkragting en die vervaardiging van kinderpornografie.

Die aanklagte is kort daarna teruggetrek maar die paartjie, wat albei advokate was, is in 2003 weer aangekla. Hulle is later op borgtog vrygelaat.

Prinsloo het einde 2005 tydens die verhoor aangedui hy wil Rusland besoek. Hy is nie as ʼn vlugrisiko beskou nie en sy borgtog is verhoog. Hy het egter nie in April 2006 by die hof opgedaag nie en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik. Hy sal dus in hegtenis geneem word sodra hy weer in Suid-Afrika aankom.

Visser se verhoor het sonder Prinsloo voortgegaan en sy is in Februarie 2010 op 11 aanklagte skuldig bevind en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Sy is in Augustus 2013 op parool vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre Stander ·

Dit is nou interresant, Dankie MM! Ek het nogal nou die dag wyl ek net met my gedagtes besig was ewe skielik gewonder wat met Dirk gebeur het.
Ek onthou die saak wat destyds voorblad nuus was, en die skandes..

Ja né, die keuses wat mens maak dikteer die soort lewe wat jy lei.

Rooikop ·

Hoe stupid was hierdie man nie gewees nie ? Blink toekoms weggegooi ………….
En dit is nog nie verby nie …………….. As hy in SA land gaan hy tien teen een weer tronk toe …….

jaco ·

Die korrekte Afrikaanse naam vir dié land is Wit-Rusland of Belarus. Belo-Rusland is bloot ‘n direkte vertaling van die Engelse Byelorussia.

Daan Erasmus ·

Dit is nog steeds nie maanskyn en rose vir hom nie. Sonder reis dokumente is dit lastig in die wêreld

Amelia ·

Ons sal met graagte die nuus dophou om te sien of Dirk in SA sal aanland en sy prys betaal. Wat het van Cezanne geword? Die laaste wat ek kan onthou na haar vrylating is dat sy verloof is en aan KZN suidkus bly. Sy sal tog seker moet getuig as hy hier in ons howe beland? …………..

thelsa ·

Soos wat Grace Mugabe die land kon uitglip sonder dat die owerhede ‘n vinger op haar kon plaas, so sal Dirk Prinsloo die land binneglip en niemand sal dit weet nie.

jaco ·

verkeerd. hy is wit. ‘n TOTALE ander stel reëls geld vir wit mense.

Se net ·

Soos ek verstaan system vrylating Nou moet hy Suid Afrika toe kom om vir sy saak hier om voort the gaan. Hey was in die from vir n ander saak. Sal hierdie storie te volg om the sien of reg sal geskied. Glad Nie iets waaroor hy bly moet wees nie. Soos Ek verstaan begin sy moeilikheid nou eers. So Kom ons Kyk maar wat gebeur…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.