Dis als oor wit en swart by die Puk

(Argieffoto: Wikipedia)

Streng rasteikens en die doelbewuste transformasie van die personeel- en studentekorps by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), veroorsaak dat studente én dosente dikwels op grond van kleur eerder as akademiese kwalifikasies geplaas of aangestel word.

Gevolglik word presterende wit studente glo oorgesien vir plek in die koshuis en bekwame personeel word aanstellings geweier, op grond van hul velkleur.

Volgens ʼn senior personeellid wat op streng voorwaarde van anonimiteit inligting oor die NWU se studentewerwing en personeelaanstellings bekend gemaak het, is transformasie en maatskaplike geregtigheid tans die oorheersende doelwit vir die NWU-bestuur, terwyl dié universiteit toenemend die “laaste uitweg” vir voornemende studente is. “Die universiteit het egter nog betalende studente nodig om finansieel te oorleef en vandaar die lippediens en blatante misleiding van Afrikaanse ouers en hul kinders,” sê die bron.

Die bron sê transformasiedoelwitte met betrekking tot studente word glo fanaties gejaag en ʼn strategiese plan wys dat die Potchefstroomkampus teen 2025 ʼn koers van 50% swart en 50% wit studente moet hê.

Die universiteit het by navraag die spesifieke syfers vir die tydperk 2015 tot 2025 bevestig.

 

Koshuisplasings

Een van die gebiede waar daar glo groot ontevredenheid is, is met die kwotas wat betref koshuisplasings. Volgens die bron met wie Maroela Media gepraat het, word verskillende akademiese kriteria vir die plasing van wit en swart studente gebruik en die verskil is glo tot 20% in gemiddelde akademiese prestasie.

Kriteria verskil wel ook vir die plasing van mans- en vrouestudente in koshuise, hoewel nie met so ʼn groot marge nie.

Koshuise by die Potchefstroom-kampus moet na verneem word ʼn minimum van 50% swart inwoners toelaat en indien ʼn swart student die koshuis verlaat, kan die kamer nie aan ʼn wit aansoeker gegee word nie, glo omdat dit dan die rasbalans skeeftrek.

“Die akkommodasie-model is onregverdig,” sê ʼn ander bron, wat ook op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels het.

“Die kamer sal eerder leeg staan, as om dit vir ʼn wit student te gee.”

Na verneem word, word eerstejaarplasings in koshuise al die afgelope drie jaar volgens ʼn 50/50-beginsel gedoen en vir volgende jaar word senior keuringsdoelwitte glo op 45/55 gestel.

“Daar mag nie meer as 55% wit studente in die koshuis wees nie. Die swart studente mag niks minder as 45% wees nie, maar mag wel aangejaag word tot soveel moontlik. Een van die manskoshuise se koers is tans 70% swart en 30% wit,” sê een van die bronne.

“Dit word beskou as regverdig en sluit in dat studente wat presteer en goed vaar op strepe op waglyste gesit en weggewys word en swart studente wie se punte laer is, bo hulle in koshuise geplaas word.”

Een van die bronne sê die transformasiedoelwitte geld egter net op die Potchefstroom-kampus, terwyl die doelwitte vir die ander twee kampusse “ʼn breë riglyn blyk te wees”.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, sê egter die plasing van eerstejaarstudente in koshuise is afhanklik van hul werklike en verwagte akademiese prestasie in gr. 12 en die plasingskomitees hou by die transformasieteikens vir elke kampus, soos goedgekeur deur die NWU se raad.

“Die akademiese kriteria van die aansoekers is die oorwegende kriteria vir plasing in koshuise,” sê hy.

Teen 14 September vanjaar was daar altesame 6 693 voornemende eerstejaarstudente van alle rasse op waglyste vir koshuise op die Potchefstroomkampus.

Personeeltransformasie

Maroela Media het vantevore berig dat die NWU voorgestelde wysigings aan sy beleid oor werwing en keuring aangepas het, ná skerp kritiek omdat wit mans en wit vroue – en buitelandse burgers sonder permanente verblyfreg – oënskynlik oor presies dieselfde kam geskeer is.

Nadat besware oor die voorgestelde wysigings aan die beleid onder sy aandag gebring is, het dr. Bismark Tyobeka, die NWU se nuwe visekanselier, glo self opdrag gegee dat dit weer gewysig word.

Maroela Media se bron sê egter dit is algemene kennis onder personeel dat wit mans en vroue slegs in hoogs uitsonderlike gevalle en gewoonlik eers nadat ʼn pos herhaaldelik geadverteer is en nie gevul kon word nie, vir ʼn aanstelling oorweeg word.

“Die sogenaamde verandering van die keuring- en werwingsbeleid se bewoording is bloot lippetaal omdat hierdie beleid reeds ʼn geruime tyd presies net so toegepas word.”

Na bewering is talle poste vakant omdat daar nie genoeg geskikte transformasiekandidate by die NWU aansoek doen nie.

“Dit het tot gevolg dat personeel tot drie mense se werk moet doen, maar as hulle aansoek doen vir die pos [waarvan hulle reeds die werk doen], word hulle weens die werwing- en keuringsbeleid nie aangestel nie.”

Jacobs sê NWU “behoort aan alle Suid-Afrikaners” en dat die universiteit ook internasionale studente en personeel werf.

Hy sê die universiteit gaan egter nie beweerde kommer van personeellede deur die media hanteer nie. “Alle personeel is goed ingelig oor bestaande interne kanale wat beskikbaar is waardeur hulle hul kommer vrylik lug. Dit is ook in ooreenstemming met die NWU se waardes.”

Minder betalende studente

Volgens Maroela Media se bron is daar toenemende kommer oor ʼn daling in die getal studente wat self hul studieloopbaan finansier en die bewering is dat wit studente, wat dikwels self vir hul studie opdok, dus gewerf moet word.

Jacobs sê daar bestaan inderdaad kommer oor die getal studente wat deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) gefinansier word. In 2015 is 4 837 NWU-studente deur NSFAS gefinansier, terwyl die syfer in hierdie stadium op 26 500 staan – sowat vyf keer hoër as sewe jaar gelede.

“Ons het selfbetalende studente, ongeag van hul ras, nodig om ons inkomstebronne te diversifiseer en die gevaar van ʼn enkele bron, byvoorbeeld die regering, te verminder. Die huidige NSFAS-model lyk ook onvolhoubaar,” sê Jacobs.

Die ander bron sê daar was beslis ʼn opdrag dat meer selfbetalende studente gewerf moet word, maar dat daar nie spesifiek na ras verwys is nie.

“Daar word egter informeel aangeneem dat dié studente wit is, omdat hulle meer dikwels hul eie studie moet finansier.”

Volgens syfers van die universiteit het die persentasie “selfbetalende” studente van 52% in 2015, tot 35% in 2020 afgeneem. Ander beurse het van 30% in 2015 tot net 11% in 2020 gedaal.

Die NWU word glo toenemend as ʼn “laaste uitweg” vir voornemende studente beskou, sê een van die bronne, terwyl al hoe meer ouers glo nie meer ʼn rede sien om hul kinders daarheen te stuur nie. Die universiteit stem egter nie hiermee saam nie en sê studente kies juis die NWU omdat die instelling gehalteonderrig bied, ʼn bedrywige studentelewe het en veeltalig is.

“Die aansoeke en aanvaarding van studente van tradisioneel Afrikaanse skole neem boonop jaarliks toe as daar na data van die afgelope drie jaar gekyk word,” sê Jacobs.

Gegrond op die inskrywingsteiken word sowat 30% meer studente aanvaar as waarvoor die universiteit plek het om te verseker die jaarlikse innameteiken word behaal. Die NWU ontvang jaarliks byna 200 000 aansoeke en kan in 2023 net 11 551 plaas, sê Jacobs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

So onder ons neuse het die Puk “getransformeer.” Die samesmelting met die Mafikeng universiteit was die begin van die einde. Maar dis weer die ou Afrikaner siekte: bou, deel, gee weg, bou, deel, gee weg, bou, deel, gee weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.