Dis-Chem veroordeel geweld tydens staking

Die apteekgroep Dis-Chem het die geweld veroordeel wat by sommige van sy winkels en verspreidingspunte uitgebreek het tydens protesoptrede deur stakende werkers, en sê sy bedrywighede gaan normaal voort omdat die stakers se vakbond nie erken word nie.

Dis-Chem het bykomende veiligheid in winkelsentrums gereël waar dit winkels het nadat etlike werknemers Maandagaand ná werk deur stakers geïntimideer en geteister is.

Volgens die winkelgroep is veiligheidswagte by sy verspreidingsentrums in Midrand in Gauteng en op Delmas in Mpumalanga aangerand en motorruite stukkend geslaan.

Dis-Chem se werkers wat aan die vakbond Nupsaw behoort, het Vrydag ʼn landwye staking uitgevaardig. Hulle dring onder meer aan op ʼn algemene minimum loon van R12 500 per maand, ʼn jaarlikse verhoging van 12,5% (meer as twee keer soveel as die inflasiekoers) vir die volgende drie jaar vir diegene wat meer as dié bedrag verdien en ʼn gewaarborgde jaarlikse bonus.

Ons eien ons die reg toe om enige vakbond slegs te erken as dit minstens 30%-verteenwoordiging onder ons werkers geniet.

Dis-Chem meen die salaris-eis is onredelik gegewe die heersende ekonomiese klimaat en dat dit  ʼn uiters nadelige uitwerking op die maatskappy se toekomstige welstand sal hê indien daaraan voldoen word.

Die groep veroordeel die intimidasie van niestakende werkers en hul familielede ten sterkste, sê Caryn Barker, Dis-Chem-woordvoerder, in ʼn verklaring. Die groep doen ook ʼn beroep op Nupsaw om op te hou om die dreigement van geweld te gebruik om onderhandelings af te dwing.

“Ons erken ons werknemers se reg om by ʼn vakbond aan te sluit of hulle uit te sluit van vakbondlidmaatskap,” sê Barker. “Maar ons eien ons ook die reg toe om nie enige vakbond te erken nie, tensy dit minstens ʼn 30%-verteenwoordiging onder ons werkers geniet, wat die norm is.”

Sy beweer dis ʼn “ongewilde staking” omdat “die meeste” van Dis-Chem se werknemers geen erg aan nywerheidsoptrede het nie. “Ongelukkig is sommige aangesê om tuis te bly weens die nywerheidsoptrede.”

Sy het verwys na gerugte oor Dis-Chem se taalbeleid en gesê die groep se beleid is dat werknemers so direk en duidelik moontlik met klante in die taal van hul keuse kommunikeer. “Om Engels af te dwing is nie maatskappybeleid nie en ons ondersoek bewerings dat dit in sommige van ons winkels gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ron ·

As die nuwe minimum salaris van R12500 toegestaan word soek ek ook n pos daar asb! Ek werk al 5 jaar by n Regs Firma en kry nie eers R12000 nie!
Maak dit sommer ons land se algehele minimum loon asb…..

Nettie ·

Ek kry nou so bietjie meer as R12 500.00 per maand – vir BLIENKING BAIE EN HARDE WERK …. nie vir “till slaan” of rakke pak nie.

As Dis-Chem se werkers (waarvan baie nie eens ‘n Graad 12 het nie) ewe skielik net so onder die R15 000 per maand gaan verdien, wil ek ook op mý salaris voor aftrekkings 12,5% verhoging p.a. kry – net jammer, al is ek lid van Solidariteit, kan en sal hulle my nie verteenwoordig nie, ook omdat hulle nie die meerderheidsverteenwoordiging by my werkgewer het nie.

Koos de Meyer. ·

Raak ontslae van die stakers en kry mense wat wil werk. Dan sal hulle gou huil as hulle nie kos het nie.

Stan ·

Die groot probleem hier is dat die Dischem groep op die JSE is en dan hulle wins moet openbaar elke jaar, dan hoor die werkers dit en onder mekaar versprei die woord dat hulle vir peanuts werk terwyl die maatskappy miljoene rande wins maak elke jaar!! Moeilike situasie die….

Hanna Hoekom ·

R12 500 pm plus voordele? En dis nou vir rakke pak, til slaan en parfuum op kliente spuit… Die aptekers is dit werd. Ek is duidelik in die verkeerde beroep! Het in 2011 nie eens daardie aanbod gekry nie en ek het twee Batchelor grade! Nee wat, ek het my tyd op universiteit gemors.

Gatvol ·

Geen probleem om R12500 vir ʼn werknemer te betaal nie. Maar dan moet hy/sy eerstens ten minste ʼn kwalifikasie hê wat ʼn 3jaar vakleerlingskap of universiteitsgraad of tegniese diploma insluit. Dan moet hy/sy die verantwoordelikheid wat met die pos gepaard gaan kan dra en aan bestuur kan rapporteer.
Verder is daar daar geen ander byvoordele soos behuising, vervoer, medies, pensioen, voorsorgvonds, dertiende tjek, outomatiese bonusse ens.ens. nie.
Die meeste van die vakbondleiers leef in absolute weelde en voel vere hoeveel geld lede met ʼn staking verloor want hulle kry steeds hulle salaris.
Alle skade wat aangerig word tydens stakings moet deur die vakbond betaal word. Wetgewing moet daargestel word wat vakbonde verplig om waarborge te verskaf dat hulle sal instaan vir alle skade wat tydens stakings aangerig word.

EP ·

Stem heelhartig saam. Daar is gegradueerdes en persone met kwalifikasies en ervaring wat nie eers daardie tipe salarisse verdien nie.

Biltong ·

Suid-Afrika jou lekker ding!!Chevy, biltong en brandewyn. Wie gee om, solank die son moreaand skyn.

charmaine ·

Blankes staak nie, gooi nie motorvensters uit nie, brand nie bande nie en hulle is hardwerkend gee van die werk vir hulle en dit sal goed gaan. Die stakers het ten minste werk en hulle mag staak en sal seker weer hulle werk kan hervat?

D B ·

Gatvol, 100%, maak ‘n wet dat as daar skade tydens stakings aangerig word die vakbond moet betaal daarvoor, dan gaan ons sien hoe gou stop die soort van ding. Baie by my werk behoort al 20 jaar aan ‘n vakbond en die vakbond het nog NOOIT iets vir hulle gedoen nie, maar elke maand betaal hulle amper R 100 in fooie…belaglik.

Die eise is net so belaglik, so dis nie eers die moeite werd om daaroor te praat nie.

Wat my wel bietjie “tickle” is die “taalbeleid” storie. Hoekom nie Engels nie? Almal, of meeste, verstaan dit tog. As ek by my plaaslike tak instap kan ek maar vergeet om gehelp te word in Afrikaans, so wat is die probleem? Is Engels dan nie die “amptelike” besigheidstaal nie?

Moeggesukkel ·

Ek stem saam met Ron. Maak dit sommer ons land se algehele minimum loon. So duur soos alles geword het, kan ‘n mens nie met minder klaarkom nie. Ek werk al 12 jaar vir dieselfde maatskappy en verdien nog nie eers soveel nie.

Genieve ·

Ek wil dan ook daar kom werk want alles raak duurder jy staan met geld in jou hande kan nie eintlik iets koop nie.

Cherokee ·

Interessant wat Dischem sê oor hul taalbeleid en dat hulle bewerings ondersoek van slegs Engels in sommige takke. Ek daag Dischem uit om enige Afrikaansprekende of personeellid wat Afrikaans magtig is, uit te wys in n tak soos in die Pavillion, Westville, Durban.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.