Dís dalk hoekom ma’s moor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Wat dryf ’n ma tot moord?

’n Eenvoudige antwoord op só ’n gesinstragedie blyk daar nie te wees nie. Sielkundiges meen verskeie faktore speel ’n rol in die moord op ’n kind: sosio-ekonomiese omstandighede, geestesversteurings of die blote tekort aan ondersteuning.

“Ma-wees word verromantiseer,” verduidelik prof. Lou-Marie Kruger, hoof van die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en skrywer van die boek Of Motherhood and Melancholia: Notebook of a Psycho-Ethnographer.

“Dit is nie maklik om ’n ma te wees nie,” benadruk Kruger. “Ma’s word kwaad, maar dit is nie sosiaal aanvaarbaar nie. Ma’s raak soms geïrriteerd en soms kry ma’s nie genoeg ondersteuning nie.”

Verskeie voorvalle van ma’s wat van die moord op hul kinders teregstaan, het onlangs die media gehaal.

ʼn Oos-Randse ma van Nigel is net vroeër vandeesweek borgtog geweier nadat sy na bewering haar sewejarige dogter en 16-jarige seun gif ingegee het nadat sy glo uit ’n groot bedrag geld geswendel is. Sy kon glo nie meer vir hulle sorg nie.

’n Ma van ’n gegoede buurt in Ballito staan ook tereg weens die moord op haar vierjarige dogtertjie nadat sy haar na bewering in ’n emmer water verdrink het. Daar word beweer dat die kleuter ’n steurnis was. Die ma het daarna haarself om die lewe probeer bring.

Prof. Elrena van der Spuy, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Sentrum vir Kriminologie, sê mense het dikwels ’n vooropgestelde idee van moederskap en is geneig om verskeie aannames oor vroue te maak – soos dat hulle per definisie die versorger is. Die realiteit is egter dat moederskap nie noodwendig natuurlik óf maklik kom nie.

“Ouerskap is ’n geweldige moeilike ding.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Moontlike motiewe vir kindermoord

Kenners wys daarop dat daar dikwels ’n aanloop tot die moord is – verskeie faktore wat eindelik ’n ma oor die randjie stoot.

Dr. Henk Swanepoel, ’n kliniese en neurosielkundige en medeskrywer van die boek Sielsiek, verduidelik dat kindermoord aan die hand van ’n ma volgens die literatuur dikwels gekoppel word aan finansiële probleme, moontlike geskiedenis van mishandeling en ’n psigiatriese geskiedenis van byvoorbeeld psigose, middelmisbruik of depressie.

Vroue kan soms veral tydens die postpartumperiode aan postpartumdepressie en psigose ly wat volgens Swanepoel die risiko vir kindermoord én selfdood verhoog.

Luidens ’n studie deur die forensiese sielkundiges Susan Hatters Friedman en Phillip J Resnick word byna alle gevalle van babamoord (neonaticides) deur ma’s gepleeg. Dié ma’s is dikwels jong, ongetroude vroue met ongewenste swangerskappe wat geen voorgeboortelike sorg ontvang het nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Swanepoel sê babamoord vind gewoonlik plaas wanneer die swangerskap verskuil word en is ’n baie algemene motief.

Nog ’n rede, dog minder algemeen, is om wraak te neem op die ander ouer of die ander ouer te straf. “Die kind raak ’n speelbal – die medium waardeur ’n boodskap aan die ander party gestuur word,” sê Van der Spuy.

Kinders word ook volgens Friedman en Resnick vermoor in gevalle waar die ouer nie die kind wou gehad het nie. “Die kind word in só ’n geval gesien as ’n steuring in die ouer se lewensdoelwitte,” verduidelik Swanepoel.

Altruïsme – ’n geval waar die ouer die kind glo uit liefde vermoor –  en akute psigose is ook as moontlike motiewe geïdentifiseer.

“Die ouer moor in só ’n geval sonder ’n duidelike rede. Die rede is gewoonlik bisar,” sê Swanepoel.

“Die argument word dan geregtelik aangevoer dat die betrokke ouer nie kon onderskei tussen dit wat reg en verkeerd is nie, weens ’n sielkundige versteuring.”

Swanepoel verwys na die saak van Andrea Yates – die Amerikaanse vrou van Texas wat in Junie 2001 haar vyf  kinders in ’n bad verdrink het om te verhoed dat hulle verlore (hel toe) gaan weens haar swak moederskap.

Van der Spuy meen dit is baie belangrik dat ma’s deur familie en vriende onderskraag word, maar ook by ondersteuningsgroepe, byvoorbeeld ondersteuningsgroepe vir borsvoeding, inskakel indien nodig.

“Daar ís stelsels in plek om ma’s te help.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

En pa’s?

Volgens Swanepoel neig paterne kindermoord (moord gepleeg deur die pa) skynbaar meer na impulsiwiteit terwyl hulle onder die invloed van ’n middel is. “Die metodes is gewoonlik ook baie gewelddadig. Pa’s neig ook meer om die gesin uit te wis en dan selfmoord te pleeg, waar moeders dit nie doen nie.

“Dit kan egter ook gebeur dat pa’s die postpartumperiode stresvol vind en moord pleeg. Derhalwe, albei ouers kan verskeie motiewe hê om hul kinders te vermoor, en dit blyk of nie een meer geneig is om te moor as die ander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

So wat is die antwoord? Kinders moenie kinders he nie. Kinders moet binne die huwelik verwek word en albei ouers moet mekaar ondersteun. Dis nie net die vrou se werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.