Dís die maatskappye wat onbehoorlike prysverhogings instel 

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die Mededingingskommissie het Dinsdagoggend tydens ʼn virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid presiese besonderhede verskaf oor watter ondernemings glo die ergste oordadig wins maak tydens die afsonderingstydperk.

Tembinkosi Bonakele, hoof van die Mededingingskommissie, het aan die komitee gesê die kommissie is in dié tyd veral bedag op verhoogde intree-struikelblokke, groter noodsaaklikheid om verbruikers teen prysverhogings te beskerm en meer vrystellingsversoeke.

Bonakele het gesê die ekonomiese sektore wat veral in dié tyd dopgehou word, is gesondheid, banke, die eiendomsbedryf (verhurings), hotelle (as kwarantynfasiliteite) en vloeibare brandstof.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.)

Sedert 17 Maart het die Mededingingskommissie 1 354 klagtes ontvang, veral oor die pryse van gesigsmaskers, saniteerders, beskermende drag, noodsaaklike goedere en basiese voedsel. Volgens Bonakele was 43% van dié klagtes uit Gauteng afkomstig.

Meer spesifiek het sommige handelaars en apteke die pryse van toiletpapier, handskoene, medisyne, gas, skoonmaakmiddels en babadoeke buitensporig verhoog.

Vier groot ondernemings is vir kritiek uitgesonder:

  • Babelegi Workwear wat gesigsmaskers se prys opgestoot het van R41 per boks tot R500 per boks, ʼn prysverhoging van meer as 900%,
  • Dischem, wat gesigsmaskers se prys opgestoot het met tussen 43% en 261%,
  • Hemox, wat gesigsmaskers se prys met 969% verhoog het, en
  • Sicuro Safety, wat die prys van gesigsmaskers met 956% opgestoot het.

Bonakele het gesê baie van die maatskappye wat skuldig bevind is, is baie klein en die kommissie het sy bes gedoen om skikkings waar moontlik met die ondernemings te bereik. “Ons moet hulle straf, maar ons moet ook pragmaties wees.”

Ondernemings wat volgens die Mededingingskommissie beveel is om groot boetes te betaal of skenkings aan liefdadigheid te maak sluit in Centrum, Main Hardware, Evergreens Fresh Market, Matus, Mandini Apteek en twee ondernemings wat handel dryf as Van Heerden Apteek.

Kleiner boetes is volgens die Mededingingskommissie onder meer opgelê aan Belkem Apteek, Sunset Apteek, Manhattan Cosmetics en Weleda Apteek.

Wat kospryse betref het die dalende rand beteken die prys van ingevoerde graan het met 25% gestyg en die prys van ingevoerde rys met 30%. Danksy ʼn groot mielie-oes het die mielieprys nie te veel gestyg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam ·

Die ironie is dat besighede wat wettig bedryf word en boonop belasting betaal aangevat word en met reg ook maar dat nie-geregistreerde of gereguleerde besighede wat boonop nie belasting betaal nie en soms nog onwettige produkte, bv sigarette, verkoop onaantasbaar is ongeag hoe pryse ten hemele skiet. Ek verneem onwettige sigarette verkoop tans vir ongeveer R200 per pakkie, terwyl die staat R35m per dag aan aksyns-verwante inkomste verloor.

capie ·

Hulle mag nie pryse verhoog nie, maar destyds het hulle apteke gedwing om nie medisyne goedkoper te verskaf nie en in die proses ‘n magdom apteke laat toemaak.

Hoekom ·

Wat van die regering, gaan iemand hulle aanvat? Wat van eskom? Net meer kommunisme…

Botterblommetjie ·

Ek voel dit gaan oor vraag en aanbod…. Wie van ons verkoop nie hul produkte duurder as die vraag hoog is nie… elke maatskappy voel ek is geregtig om hul eie verkoopsprys vas te stel… Nee, ek het ook nie die geld om sulke prysse te betaal nie… Tog sal ek wil weet wat word van die geld van sulke boetes, soos die groot broodmaatskappye wat laas boetes moes betaal… Ek sou aan liefdadigheid, spesifiek ouetehuise geskenk het…. Hierdie is bog, net soos al die ander goed tans bog is…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.