Dis heerlike lente… maar nie vir almal

(Argieffoto: Pixabay.com)

Hoewel die lente dié naweek amptelik aanbreek, waarsku die Suid-Afrikaanse Weerdiens dat nie alle Suid-Afrikaners al moet begin om hul warm baadjies weg te pak nie.

Luidens ʼn verklaring wat deur die weerdiens uitgereik is, word ʼn kouefront vanaf môre verwag, en sal dit veral die Kaapprovinsies en die Drakensberg-gebied wees waar koel temperature ervaar sal word.

“’n Kouefront sal Saterdag oor die sentrale gedeeltes van die land inbeweeg, wat sal lei tot reënval op plekke en reën al langs die suidelike en oostelike kus en hul aanliggende binnelande. Die nat weer sal strek tot by die Laeveld van Mpumalanga en die suidoostelike gedeelte van Limpopo.”

Volgens die weerdiens word koel temperature van tussen 12 °C en 16 °C vir die sentrale gedeeltes van die drie Kaapprovinsies voorspel.

Daarenteen sal die noordelike en noordoostelike dele van die land baie warmer wees. “Warm toestande kan veral oor die Laeveld en die Limpopo‑riviervallei-streke verwag word. Daar sal met ander woorde ʼn opvallende kontras tussen die koue toestande in die suide en die warm toestande in die noordoostelike dele van die land wees.”

Die oostelike Hoëveld van Mpumalanga kan môre ook warm, droë en winderige toestande te wagte wees, wat ʼn hoë risiko vir veldbrande meebring.

Die weerdiens het spesifiek die vissersgemeenskap gewaarsku teen sterke winde en onstuimige seetoestande môre langs die Suidkus, wat die middag sal versprei na die oostelike kus van die Oos-Kaap.

Sondag kan reën plek-plek oor die Laeveld in Mpumalanga en in Limpopo voorkom.

Die weerdiens sê hy sal die publiek voortdurend op hoogte van enige verwikkelinge in die weerstoestande hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Dis Heerlike Lente, die Winter is verby! , ens, ens!!

Mieke ·

Die kouefronte Vang ons altyd díe tyd van die jaar…..
Ek kry”winter depressive” – als is dood, dor, koud, dis nodig, maar ai, kan ons nie maar warmer (nie te warm) weer he, groen, groei en geen wind?
Weet dis ‘n tall order vir my alleen, maar asseblief?
Die wind het my van my fiets af gewaai vandag hier in Johannesburg………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.